Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Babilonië
Babilonië [boodskap #125679] Do, 09 Mei 2019 19:04
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Boonste deel van die Kodeks van Hammoerabi.
Boonste deel van die Kodeks van Hammoerabi.
Babilonië was 'n outydse koninkryk waar nou Mesopotamië (Irak) lê, noord van die Persiese Golf. Besproei deur "die Twee Riviere", die Eufraat en die Tigris; eers bewoon deur die Sumeriërs, wat hulle voor 3000 v.C. in Suid-Mesopotamië gevestig het. Hulle het huise van modderbakstene gebou; was hoofsaaklik landbouers, maar het handel met die noordelike stede gedryf; het koper gebruik en was miskien die eerste mense wat voertuie met wiele gebruik het. Die Sumeriërs het op kleistene in spykerskrif geskryf; was geskool in pottebakkery; het tempels gebou op vierkantige torings (ziggurats) van bakstene, bv. by Nippoer.

Die Sumeriërs is in 2750 v.C. oorrompel deur Sargon, ’n Semitiese hoofman uit die Noorde. ’n Ander leier was Hammoerabi, 2100 v.C., koning van Babilon, beroemd vir sy regskode, sy geloof in geregtigheid en ook sy briewe. Die ryk het onder Nebukadnesar I (ca. 1140 v.C.) herleef, maar is later deur die Assiriërs oorwin. Babilonië het sy grootste roem in die jare 604 - 562 v.C. onder Nebukadnesar II bereik; daarna smelt die geskiedenis van die ryk saam met dié van Persië.

In sy grootste bloeityd was die hoofstad, Babilon, een van die rykste stede van die ooste, beroemd vir sy veelkleurige paleise, poorte (bouvalle van die Isitar-poorte is nog te sien) en die sogenaamde Hangende Tuine van Nebukadnesar se paleis, d.w.s. terrasse begroei met palmbome en varings. Na hierdie stad is die Hebreërs as gevangenes gebring kort voor 600 v.C. (Babiloniese gevangenskap).

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Baäl
Volgende onderwerp: Babington, Anthony
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 11:28:39 MGT 2024