Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Atmosfeer
Atmosfeer [boodskap #125588] Sun, 05 May 2019 06:43
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die gasse in die atmosfeer verstrooi blou lig meer as ander golflengtes, wat veroorsaak dat die aarde vanuit die ruimte 'n blou halo het.
Die gasse in die atmosfeer verstrooi blou lig meer as ander golflengtes, wat veroorsaak dat die aarde vanuit die ruimte 'n blou halo het.
Die atmosfeer is 'n laag gas wat om die Aarde voorkom. Dit vorm 'n "oseaan" van lug, moontlik 1000 km diep, bo die aarde. Die aantrekkingskrag van die Aarde hou die atmosfeer in posisie sodat dit saam met die aarde om sy eie as en die son roteer. Lewe op aarde kan nie sonder die atmosfeer bestaan nie. Dit verskaf die lug wat mense inasem, die water wat ons drink en beskerm die Aarde teen gevaarlike sonstrale en meteoriete.

Die gewigsdele van droë lug is 75.5% stikstof, 23.2% suurstof; 1.8% argon; ongeveer 0.05% koolstofdiokside; 0.028% kripton; 0.005% xenon; 0.00086 % neon; 0.000056 % helium; veranderlike hoeveelheid waterdamp, ongeveer 0.5%. Die waarskynlike totale gewig van die atmosfeer is ongeveer. 4,000,000,000,000,000 ton; die normale druk (by die seevlak) is ongeveer 14.8 lb. per vk. dm.; d.w.s. die gewig van die lug is genoeg om ’n kwikkolom van 30 cm. of 76 cm. hoog, of ’n waterkolom van 34 vt. hoog, te balanseer. Sien Barometer.

Lug wat beweeg, word wind. Die twee algemene beginsels is:
(a) warm lug sit uit, word ligter en styg op, omdat dit deur die kouer lug opgestoot word;
(b) die oostelike omwenteling van die aarde veroorsaak defleksie, d.w.s. winde van die ewenaar af word ooswaarts, winde na die ewenaar weswaarts gedeflekteer.

'n Sonsondergang vanaf die ruimte waargeneem. Die oranje en geel kom in die troposfeer voor. Die roos-wit daarbo kom grofweg met die stratosfeer ooreen. Daarbo gaan die mesosfeer oor in die termosfeer en die eksosfeer en word die blou langsaam swart.
'n Sonsondergang vanaf die ruimte waargeneem. Die oranje en geel kom in die troposfeer voor. Die roos-wit daarbo kom grofweg met die stratosfeer ooreen. Daarbo gaan die mesosfeer oor in die termosfeer en die eksosfeer en word die blou langsaam swart.
Daar is ’n gordel van hoë druk in die omgewing van bv. 30°N en 30°S, en dit gee ons vier belangrike wêreldstelsels van lugstrome. Van breedtegrade 30°N en 30°S by benadering waai koel lug in die rigting van die ewenaar. Hierdie lug vloei van streke waar die wentelende aarde se oppervlaksnelheid ongeveer 900 m.p.u. is, en waai op grondhoogte na ’n gebied waar die snelheid ongeveer 1,000 m.p.u. is. Lug van bv. die noorde bly agter by die vinniger bewegende aarde, en beweeg met betrekking tot die aarde se oppervlak na die weste en word gevolglik ’n N.O. wind; ’n soortgelyke wind van die suide word ’n S.O. wind. Dit is die byna onveranderlike passate, d.w.s. bestendige winde wat vroeër van groot waarde vir seilskepe was.

Verder van die ewenaar (bv. 30°N of S) is warm winde wat in die rigting van die pole beweeg. Hulle waai na ’n gebied wat stadiger draai, trek dus by die aarde verby en word dan met betrekking tot die aarde se oppervlak gedeflekteer, sodat dit noord van die ewenaar ’n S.W. wind en suid van die ewenaar ’n N.W. wind word. Dit is heersende westewinde.

Baie faktore veroorsaak afwykings in hierdie groot algemene lugstrome, veral die grootte en reliëf van landmassas. Land word vinniger warm as water, gevolglik styg die lug bo-oor die land bedags op, ’n koel wind waai van die see na die land en gee ons bedags seeluggies; snags, omdat water nie so vinnig as land afkoel nie, waai koel winde van die land na die see.

Op groter skaal is hierdie beginsel die oorsaak van die moesons, wat in Indië van lewensbelang is. Van Oktober tot April is Midde-Asië bitter koud, gevolglik vloei koue lug suid, word wes gedeflekteer deur die draaiing van die aarde en word ’n bestendige N.O. wind; van April tot Oktober is Midde-Asië geweldig warm en veroorsaak ’n S.W. wind wat in die rigting van dié gebied waai van die Indiese Oseaan af; dit is hierdie wind (die suidwes-moeson) wat 60-90% van Indië se reënval bring.

Die oorsaak van reën is verdamping. Water verdamp in die lug as onsigbare waterdamp; en aangesien lug byna altyd aan die beweeg is, word hierdie waterdamp oor lang afstande weggevoer. Lug by bv. 45°F kan nie meer as 1 % water aan gewig behou nie; lug by 62.5°F kan 2% behou. As lug by 62.5°F opstyg en gevolglik uitsit en afkoel, kan dit nie al die vogtigheid behou nie, dan val ’n gedeelte daarvan in die vorm van reën nadat dit eers as wolke verskyn het. Die noordoosmoeson, wat byna geheel en al oor land beweeg, is ’n droë wind; maar die suidwesmoeson, wat van die Indiese Oseaan kom, is net soos die N.W. wind wat in S.W. Kaapland in die winter vogtigheid van die Atlantiese Oseaan af bring. Heuwelagtige streke is geneig om nat te wees omdat heuwels die wind boontoe laat styg, met gevolglike uitsetting, afkoeling en verlies van vog.

Reënval word gemeet met ’n reënmeter. Die reënvalsyfer toon aan hoe diep die water op ’n gelyk oppervlak sou gestaan het as dit nie verdamp of weggesak het nie.

Wolke of newels kondenseer gewoonlik rondom klein deeltjies vaste stof wat in die lug rondsweef. Lae, groot, koepelvormige wolkemassas word cumulus genoem, d.w.s. stapelwolke; dié wat soos ’n swewende laag newel of mis lyk, is stratus, d.w.s. laagwolke; donker wolke waaruit sneeu of reën val, is nimbus; groot massas, rond van vorm, wat 10,000 tot 25,000 vt. hoog kan strek, is cumulonimbus en het sterk opwaartse strome wat dikwels swaar reënbuie of haelbuie bring. Flarde van wit en dikwels veeragtige wolke op 25,000 - 35,000 vt. is cirrus, meermale voorlopers van ’n warm front en reën. (Die warm front is die lyn wat ’n bewegende massa warm lug skei van die koue lug wat dit verplaas.) Die alto-cumulus word algemeen kapokwolkies genoem. Winde sowel as wolke behoort tot die lae gebiede van die dampkring (troposfeer); maar ongeveer 8 myl hoog is die stratosfeer, waar die temperatuur ongeveer —50°F is.

Prof. Piccard het in 1931 pionierswerk in hierdie gebied verrig, en kapt. Stevens en kapt. Anderson van die V.S.A. het in 1935 ’n hoogte van 72,395 vt. bereik in Explorer II. In April 1961 het Rusland maj. Joeri Gagarin tot in die buitenste ruim met ’n vuurpyl opgeskiet, een keer om die aarde laat gaan en na 108 minute veilig teruggebring. Met ballonne en vuurpyle wat slegs instrumente bevat, is die heel boonste lae van die atmosfeer ondersoek (sien ook Lug). Die Heaviside-Kennelly-laag van geïoniseerde lugmolekules weerkaats radiogolwe en verhoed dus dat hulle in die ruimte verdwyn en verlore gaan (sien Radio). Die Appleton-laag, nog hoër (ongeveer 150 myl bedags, maar laer snags) beïnvloed ook radiogolwe wat verklaar waarom uitsending beter is saans as dit donker is.

Die geweldige koue en die lae digtheid van die boonste lae van die dampkring is van die belangrikste faktore in die lugvaart en maak dit noodsaaklik dat vliegtuie wat hoog vlieg met verwarmde drukkajuite toegerus word. Sien Klimaat.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Atlasgebergte
Volgende onderwerp: Atrecht
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sat Dec 21 14:15:35 UTC 2024