Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » uit
uit [boodskap #125329] Do, 18 April 2019 17:45
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 18993
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
uit
Afbreking: uit
Uitspraak: /ʊ̟i̯t/




Voorsetsel: uit

Betekenis:
• Nie meer binne nie; van binne na buite.
• Nie meer deel van iets nie.
• Dui 'n verhouding van iets aan.

Gebruik:
• Sy stap uit die huis. Uit die blou van onse hemel. Uit die diepte van my hart.
• Die bloes is uit die mode.
• Sy het 8 uit 10 vir haar toets gekry.

Spreekwoord:
• Bloed uit 'n klip tap. [Die onmoontlike probeer doen; te veel eis.]
• By die een oor in en by die ander uit. [Gou vergeet wat jy gehoor het.]
• Die aap kom uit die mou. [Die geheime planne word bekend.]
• Die dag kom uit die nag. [Na droefheid kom voorspoed.]
• Die hand uit die mou steek. [Jou inspan.]
• Die kat uit die boom kyk. ['n Afwagtende houding aanneem; versigtig wees.]
• Die melk uit iemand se koffie steel. [Fyn skelm wees.]
• Die wind waai uit die verkeerde hoek. [Die stemming is nie gunstig nie.]
• Dis uit die boonste rakke. [Van die beste gehalte.]
• Dis uit en gedaan. [Dis verby.]
• Dis vir my om te weet en vir jou om uit te vind. [Ek weet dit, maar sal jou nie sê nie.]
• Dit kom uit Noag se ark. [Dis baie oud.]
• Dit val uit die lug. [Onverwags verskyn.]
• Hulle eet nie uit een bak nie. [Hulle kom nie met mekaar klaar nie.]
• Hy eet uit my hand. [Hy is in my mag.]
• Hy gooi sy voelers uit. [Probeer uitvind hoe iemand dink en hoe die reaksie sal wees.]
• Hy haal sy flikkers uit. [Hy doen sy bes om aandag te trek.]
• Hy het my uit die veld geslaan. [Iemand verwar, teleurstel.]
• Hy is een uit 'n duisend. [Iemand met voortreflike eienskappe.]
• Hy is skaars uit die dop. [Jonk en onervare.]
• Hy kyk die kos uit my mond. [Iemand wat eet, aankyk.]
• Hy praat uit die vuis. [Onvoorbereid praat.]
• Hy rol 'n klip uit die pad vir my. [Doen 'n guns vir iemand.]
• Jou oë uit jou kop skaam. [Baie skaam wees.]
• Jou uit iets draai. [Jou met 'n slimmigheid of geslepenheid uit 'n verpligting losmaak.]
• Jy kom soos 'n engel uit die hemel. [Jy kom net op die regte tyd.]
• Jy moet dit uit die weg ruim. [Verwyder; vernietig.]
• Ou koeie uit die sloot haal. [Pynlike herinneringe opdiep.]
• Sy het uit haar pad gegaan. [Baie moeite gedoen.]
• Sy neem die woorde uit my mond. [Sê presies wat 'n ander wou sê.]
• Sy pê is uit. [Hy is uitgeput.]

Vertaling:
Engels: from, out of
Nederlands: uit


Bywoord: uit

Betekenis:
• Skeibare deel van 'n werkwoord, bv.: uitgaan.
• Skeibare deel van 'n voornaamwoordelike bywoord, bv.: hieruit, daaruit.
• Predikatief: uitgeblus, uitgegaan, uitgeskakel, uitgeslaan.

Gebruik:
• Die vuur gaan uit.
• Sy kom daar nie uit.
• Die vuur is uit.

Vertaling:
Engels: out, outside, of
Nederlands: uit

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: by
Volgende onderwerp: maar
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 18 03:27:15 MGT 2024