Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Landbou & veeteelt » Mediaverklaring: Nuwe organisasie in landbou
Mediaverklaring: Nuwe organisasie in landbou [boodskap #124850] Di, 26 Februarie 2019 18:46
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Hieronder volg 'n mediaverklaring van TLU-SA (die Transvaalse Landbou Unie) oor 'n nuwe landbou-organisasie, SAAI (die Suider-Afrika Agri Inisiatief). As SAAI 'n soortgelyke mediaverklaring het, kan dit gerus hier gepos word.

---

TLU SA is oorval met navrae na die berig in Rapport verskyn het oor Dr Theo de Jager se nuwe landbou-organisasie, SAAI. Eenheid in landbou was 'n aspek wat die afgelope jare die groot besprekingspunt was, en boere wou weet hoekom daar nie eenheid in landbou is nie. Hoekom is daar meer as een organisasie? TLU SA het indringende gesprekke gehad met Dr de Jager oor die onderwerp. Hy het besluit om 'n nuwe organisasie te stig. Dit is sy reg en TLU SA respekteer dit. Die vraag oor eenheid in landbou moet nou deur hom beantwoord word.

TLU SA bevestig dat daar met SAAI saamgewerk sal word vir 'n beter bedeling vir boere.

Ter wille van volledigheid bevestig TLU SA sy standpunte en beleid.

TLU SA het nog altyd die boer se standpunt aan die regering verkoop. Nooit die regering se standpunt aan die boere nie. Dit is herhaaldelik op TLU SA se kongresse van die afgelope aantal jare bevestig. TLU SA praat nie vir die boere nie – die boere praat self. Daarmee saam is TLU SA se krag op grondvlak - daar waar dit vir die boer regtig saak maak in sy dag tot dag oorlewing.

Landbou in Suid-Afrika is gekompliseerd met die dat ons in vergeleke met ander lande as 'n marginale landbou-omgewing beskou word. Die onseker beleidsomgewing wat deur die ANC-regering geprojekteer word vererger die situasie. Daar is drie aspekte waarop TLU SA tans fokus wat noodsaaklik is om stabiliteit te verkry. Eerstens die veiligheid van die boere en hul naasbestaandes en werkers op die plase. Die werklikheid is dat die regering grootliks beheer verloor het oor die veiligheid van die inwoners van die land. Die veiligheidskomitee het oor tyd heen homself gevestig waar daar realistiese en haalbare planne geïmplementeer word om na ons eie veiligheid om te sien. Verskeie ander instansies het op die TLU SA model voortgebou. Verder is die onsekerheid oor eiendomsreg wat baie duidelik met 'n politieke agenda geskep word vir geen belegger positief nie. Landbou kan nie gedy onder sulke onseker omstandighede nie en is TLU SA deurlopend besig om nie die ANC se glybaan na sosialisme te ondersteun nie, maar klem te plaas op daardie beginsels wat nodig is om seker te maak dat landbou sal leef. Derdens het die boer op die plaas onder uiterste ekonomiese druk gekom om verskeie redes waarvan die uitmergelende droogte in groot dele van die land seer sekerlik die grootste rede is. TLU SA het op 6 Desember 2018 'n volhoubaarheidskonferensie gehou waarna 'n komitee begin werk het aan 'n manier hoe daar gekyk moet word om die risiko nie hoofsaaklik op die produsent alleen te plaas nie, maar om dit te verskans en te versprei.

TLU SA het kommer dat daar rolspelers is wat die gedagte verkondig dat 20% van die boere 80% van die voedsel produseer en dat die ander 80% net 20% van die voedsel produseer. Daardeur word die indruk geskep dat daar eintlik reggekom kan word met net 20% van ons boere. Daarmee saam kom die vraag ook op of die 20% boere vir 100% van die huidige arbeid in die landbou-omgewing gaan werk verskaf? Dit word selfs opgetel dat sodanige standpunt ondersteun word deur sommige landbouleiers. Soos daar deur die platteland gery word kan enige persoon self sien hoe daar plaas vir plaas geproduseer word en is dit nie slegs die enkele groot plase wat hul bydrae maak nie. TLU SA het deur al die jare daarby gestaan dat die rol van die familieboerdery die basis vorm van landbou en dat dit juis hul bydrae in die landelike omgewing is wat werk skep en die plattelandse dorpe laat leef.

TLU SA dra die laaste aantal jare die boodskap uit dat dit tyd is vir saamstaan. Dit kan net gedoen word saam met mense en instansies wat uit innerlike oortuiging dieselfde ideale nastreef. Die regte beginsels moet uiteraard nagestreef word en is die waardes wat TLU SA sedert sy ontstaan gevestig het steeds daardie waardes wat in belang van elke boer is. Dit word in die Manifes en die Grondwet uiteengesit. Die belangrikste hiervan is steeds die vaste geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in sy Woord die Bybel. Daarmee saam staan TLU SA vir die beskerming van eiendomsreg en die feit dat die markkrag beginsel bepalend is in prysvasstelling.

Sedert Januarie 2019 het daar reeds 450 nuwe lede by TLU SA aangesluit. Deur te volhard by daardie beginsels wat in belang van almal is en wat landbou volhoubaar kan laat lewe bring nuwe belangstelling in TLU SA. TLU SA is verbind daartoe om vir die kommersiële boer 'n bedingingstruktuur te wees en daarmee saam 'n brug te bou na die verbruiker toe.

TLU SA se Jongboerkonferensie wat op 22 Februarie 2019 by Weesgerus aangebied was het die jong boere met 'n baie realistiese en positiewe boodskap terug na hulle plase gestuur. Sonder om terug te deins van werklikhede is daar hoop gegee. Die landbou-omgewing het gewis sy uitdagings en deur al die jare het TLU SA nie teruggedeins daarvoor nie. Daar is inteendeel sedert 1897 deurlopend gesoek na uitkomste wat in belang van die kommersiële boer se volhoubare en veilige toekoms is.

Bron: https://www.tlu.co.za/
Vorige onderwerp: VL en boere vergader ná plaasmoord
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 23 19:42:40 MGT 2024