Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Afrikaans is sedert 8 Mei 1925 een van die amptelike tale van Suid-Afrika en is ook 'n belangrike streektaal in Namibië en omliggende lande. Dit is 'n vorm van Nederlands waarmee dit t.o.v. die belangrikste elemente ooreenkoms toon. Tipologies gesien is dit 'n Indo-Europese, Wes-Germaanse, Nederfrankiese taal. Die taal het nagenoeg 7 miljoen moedertaalsperkers (2017), met 'n verdere en 10 miljoen wat dit as 'n tweede of derde taal gebruik.
Die uiterlike geskiedenis:
Europese besoekers aan die Kaap in die 17de, 18de en 19de eeu praat van die "Nederduydsche spraek", "Africanischer Holländisch", "dat soort van bastaard Hollandsch”, die "hier gesproken wordende Hollandsche taal" met verskillende opmerkings oor die afwyking van Europese Nederlands. Die sprekers van hierdie taal was wel bewus van afwykings in hulle taalgebruik t.o.v. die amptelike Kompanjiestaal of die taal van die Nederlandse Bybel e.a. geskrifte, maar daar was nog geen gedagte om dié spraak as kultuurtaal te gebruik nie. Daarvoor het hulle Nederlands gebruik of probeer gebruik, en in die stryd teen verengelsing in die 19de eeu vir die behoud van eie kulturele en staatkundige vorme was dit Nederlands wat as moedertaal voorgehou is.
Die skrywers van die eerste stukke in Afrikaans wou nie daarmee die taal verhef nie; hulle het dit bo Nederlands verkies om die grappige uitwerking, of om op doeltreffender wyse ondersteuning te vind vir ’n bepaalde saak. Dit is lg. rede wat L.H. Meurant daartoe bring om Afrikaans te gebruik in sy "Zamenspraak".
Die doelbewuste strewe om Afrikaans tot kultuurtaal te verhef, kom eers na 1870 en dit vind sy onmiddellike aanleiding in die oortuiging dat Afrikaans nodig is vir godsdiensonderrig, wat die Nederlander Amoldus Pannevis vanaf 1872 in die pers en elders verkondig. Die gedagte word
deur C.P. Hoogenhout ondersteun, en daarna ontstaan ’n briefwisseling tussen Hoogenhout en ds. S.J. du Toit, ’n leerling van Pannevis in "De Zuid-Afrikaan" wat van die onderwerp van ’n Afrikaanse Bybelvertaling oorgaan tot die verdediging en verheerliking van Afrikaans as selfstandige taal.
Dit alles loop uit op die stigting in 1875 van die Genootskap van Regte Afrikaners met die doel "om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land". Dit was meer as ’n blote taalbeweging; hulle blad, Die Patriot (1876 - 1904), beleef sy grootste bloei as hy die nasionale gevoelens vertolk in die jare van die Transvaalse Anneksasie en Vryheidsoorlog, een die beweging kwyn wanneer die redakteur, ds. S.J. du Toit, in die jare na 1890 van politiek verander en Rhodes steun.
In Die Patriot (sien Afrikaanse Patriot) en in Ons Klyntji (1896 - 1905) verskyn stigtelike en opvoedkundige stukke, verhale en rympies. Ander publikasies is o.m. Eerste beginsels van die Afrikaanse Taal (1876), Die Geskiedenis van ons land in die Taal van ons volk (1877, 1895), Die Afrikaanse Almanak (vanaf 1877), Afrikaanse Gedigte (1878), vertalings van Genesis (1893), Mattheüs (1895), Openbaring (1896) e.a., Patriot Woordeboek (1902), die toneelstuk Magrita Prinslo en die roman Die Koningin fan Skeba deur S.J. du Toit; ondersteuners soos pres. Reitz en ds. Jan Lion Cachet publiseer gedigte en sketse.
Reeds in 1873 het Hoogenhout gesê: "Ja die Hollandse taal sal naderhand heeltemal in Afrika gedaan raak, en die Afrikaanse sal daarvoor in die plek kom, en das reg ook", maar die Eerste Taalbeweging moes eers doodloop en daar moes meer uniale ondersteuning, leiers van groter politieke en akademiese status en egte digters kom om Afrikaans as kultuurtaal te vestig.
Na die Tweede Vryheidsoorlog het Preller in die noorde met ’n reeks artikels, getiteld "Laat ’t ons toch Ernst wezen", gepleit vir Afrikaans as skryftaal, en die ondersteuning wat hy gekry het, loop uit op die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap (1905) terwyl die Afrikaanse Taalvereniging (1906) in die suide gestig is na ’n lesing van dr. D.F. Malherbe: "Is Afrikaans ’n dialek?" Op die bestuur van hierdie twee liggame dien hierdie twee manne en verskeie politieke en akademiese leiers, o.m. genl. Hertzog en dr. D.F. Malan. In 1909 is De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (sien Suid-Afrikaanse Akademie) gestig wat die verskeie Afrikaanse taalvereniginge met die Hollandse beweging in S.A. versoen in die gesamentlike stryd teen verengelsing, en die taak kry om Afrikaans te standaardiseer.
Met die totstandkoming van die Unie (1910) is Hollands as amptelike taal naas Engels erken. Vanaf 1914 is geywer om Hollands as Afrikaans te vertolk en dit as skooltaal in te voer, en teen 1918 vind dit in die meeste skole plaas. ’n Professoraat in Afrikaan word in 1915 in Bloemfontein ingestel en die jaar daarna in Stellenbosch. Besluite in dieselfde gees word deur die verskillende sinodes i.v.m. die prediking in 1914, ’16, ’19 en ’24 aangeneem, en ’n eerste, proefuitgawe van die Evangelies en Psalme verskyn in 1922. In 1933 verskyn die finale vertaling van die Bybel en in 1946 die Afrikaans berymde Psalms en Gesange. Soms word 1925 beskou as die jaar van die mondigwording omdat Afrikaans toe in die Volksraad as amptelike taal aanvaar is.
Parallel met die openbare stryd vir Afrikaan loop die ontwikkeling van publikasies in Afrikaans. Die vroeë verse van Eugêne Marais, Jan Celliers, Totius en Leipoldt vertolk die volk se natuurliefde en oorlogsmart en bewys die taal se krag en noodsaaklikheid deur skoonheid. Die prosa van J.H.H. de Waal vermaak die massas en in die hande van Langenhoven word dit ’n middel tot opvoeding, gevatheid, prikkeling en oortuiging in ’n lang reeks artikels, sketse en verhale. Sy blywendste nalatenskap is die volkslied "Die Stem". Ander prosaiste soos D.F. Malherbe, J. van Bruggen en C.M. van den Heever lewer belangrike bydraes op die gebied van realistiese en romantiese beskrywing, en later skryf J. van Melle prosa van merkwaardige soberheid.
In die tydperk van kort voor die Tweede Vryheidsoorlog tot vandag bereik die Afrikaanse verskuns hoogtepunte en openbaar dit die groot potensialiteite van die taal in liriese, dramatiese en metafisiese rigting in die werk van Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en Dirk Opperman, maar ’n paar wegbereiders soos Toon van den Heever, A.G. Visser, W.E.G. Louw en Uys Krige verdien besondere vermelding in hul ontginning van die taal.
Verdere gebeurtenisse van belang in die openbare taalontwikkeling is die verskyning van die staatsondersteunde Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hierdie werk word aangevul deur die publikasies van vaktaallyste op verskeie gebiede wat opgestel word deur taalburo’s van die Akademie en verskeie staatsliggame.
Die oorgang van 17de-eeuse Nederlands in Afrikaans.
Omdat ons te min weet van die Nederlandse spreektaal van die 17de eeu - in teenstelling met die destydse ontwikkelende kultuurtaal - en omdat ons kennis van die gesproke Kaaps-Hollands van die 17de en 18de eeu baie gering is, kan ons nie die oorgang van Nederlands in Afrikaans noukeurig naspeur nie.
Ons begin dus maar met ’n vergelyking van die huidige Nederlands en Afrikaans en maak gebruik van ons kennis van die dialekte en van die 17de-eeuse taal in al sy vorme.
Die ooreenkomste en verskille van die twee huidige tale kan onder die volgende hoofde beskou word: Woordeskat: Meer as 99% van die Afrikaanse woordeskat bestaan uit Nederlandse woorde waarby honderde Latynse en baie duisende Franse leenwoorde wat Nederlands vanaf die Christelike jaartelling aangeneem het, ingesluit moet word, bv. skryf, straat, muur, plant, kaas, skottel (Lat.); bees, feit, kans, paar, rond, tent, trein (Fr.).
Van die nie-geërfde woorde - etlike honderde - is die Engelse woorde, wat meer voorkom in gesproke as in geskrewe vorm, en volgens die sprekers wissel, die grootste groep; daarop volg die Maleis-Portugese, Khoikhoi- (Hottentotse) en Bantoe-woorde. Voorbeelde: dip, koukus, pennie, ponie, rugby, speaker (Eng.); aia, baie, nooi, piering, pondok, tronk (Mal.-Port.); abba, dagga, eina, gogga, karos, kastig (Hot.); dagha, gramadoelas, kaia, konka, mamba (Bantoe); dolos, rondawel, tiekie (herkoms onbekend).
’n Hele aantal geërfde woorde is afkomstig uit dialekte of uit die seemanstaal, bv. kielie, kriek, loesing, spog, kombers, kombuis. Andere is vervorminge van Ndl., bv. koggelmander, knoffel, mos, nastergal, renoster, skrams, volstruis. ’n Verskynsel wat baie algemeen voorkom, is dat geërfde woorde ’n nuwe betekenis in Afrikaans gekry het, bv. bok, dam, dassie, flou, kapok, klip, kuier, pad, stadig.
Klankverskille:
(1) In Ndl. z, sg (geskryf sch), fw (geskryf v), in Afrikaans s, sk, / (geskryf v) of w, bv. zo - so, schoen - skoen, voet, zeven - sewe. Die letter g stel in Ndl. in gevalle soos gaan, buiging ’n ander klank voor as in Afrikaans. Met die uitsondering van die g-klank is dit tipies Friese verskynsels wat vroeër meer verbreid was, maar nou nog voorkom; dit is almal geërfde neigings.
(2) In Ndl. g, d tussen ’n vokaal of r, l en ’n finale -e(n), in Afrikaans in baie woorde niks bv. regen - reën, wijder - wyer. Die sinkopee (verdwyning) van die d was en is ’n algemene neiging in die Suid-Hollandse dialekte; die sinkopee van g kom wel in Seeland voor, maar die ooreenkoms is net gedeeltelik.
(3) In Ndl. t (gespel t of d) aan die einde van ’n woord na f, g, ch, s, k, p en in Afrikaans niks bv. hoofd - hoof, nacht - nag, kist - kis, markt - mark, recept - resep. Die neiging bestaan reeds lank in Suid-Hollandse dialekte. Verder vind ons dat geskrewe -en aan die woordeinde bv. in bomen, lopen, binnen oor ’n groot deel van Nederland ook in die kultuurtaal as -e uitgespreek word sodat dit nie as ’n klankverskil tussen Ndl. en Afrikaans gereken word nie.
(4) In Ndl. -je as verkleiningsuitgang en in Afrikaans -ie. Ook hier vind ons neigings tot -ie in Ndl. dialekte van vroeër en tans.
(5) Varia. Talle afwykinge in die klankvorme van Afrikaanse woorde kom vroeër en nou nog dialekties in Ndl. voor, bv. seun (Ndl. zoon), geut (Ndl. goot), vul (Ndl. veulen), vleis (Ndl. vlees), perd (Ndl. paard).
Verskille soos gekeken - gekyk, gezogen - gesuig, geschrokken - geskrik, gestolen - gesteel, gebracht - gebring moet aan analogievorming toegeskryf word en nie aan klankveranderinge nie. Die Afrikaanse vorme is gemaak deur voorvoeging van ge- aan die werkwoordstam terwyl die Ndl. ou geërfde "onreëlmatighede" bewaar. Sulke analogieformasies kom ook van vroeg af in Ndl. voor en is dus nie in beginsel iets nuuts nie, hoewel die resultate in Afrikaans wel nuwe vorme verteenwoordig.
Vormleerverskille:
(1) By die voornaamwoorde verskille soos ik - ek, hem - hom, wy - ons, jullie - julle, zij - hulle, hun en hen - hulle wat in enkele gevalle uit ou Ndl. dialektiese vorme verklaar kan word, maar in ander gevalle nuwe veral analogieverskynsels in Afrikaans verteenwoordig.
(2) In Ndl. uitgange by werkwoorde volgens die onderwerp, en ’n imperfektum vir die verlede tyd, maar in Afrikaans niks bv. (jij, hij) werkt, (wij, zij) werken - werk; (ik) werkte, (wij) werkten - in Afrikaans slegs die perfektum "het gewerk" in ooreenstemming met Ndl. (ik) heb, (hij) heeft, (wij) hebben gewerkt. Ook die onderskeid in Ndl. hij is gegaan - hij heeft gedaan by die hulpwerkwoord is in Afrikaans gereduseer tot het by alle werkwoorde.
In Ndl. het defleksie (verlies van uitgange) in die 17de eeu en vroeër soms voorgekom, en die imperfektum word teenswoordig in baie dialekte baie weinig gebruik. In Afrikaans het hierdie neiging tot die uiterste ontwikkel en dit onderskei Afrikaans skerp van Ndl., maar moontlik is die verskil groter tussen die twee kultuurtale as tussen Afrikaans en die Ndl. dialekte.
(3) In Ndl. de, deze, die, of het, dit, dat by selfstandige naamwoorde in die enkelvoud volgens die woordklas, en in Afrikaans die (hierdie, daardie) by alle s.nwe. Aansluitend daarby die of dat as betreklike vnw. en in Afrikaans net wat, bv. het huis dat - die huis wat; de man die - die man wat. Op hierdie gebied wyk Afrikaans volkome af van Ndl.
Sintaktiese verskille:
(1) Reduplikasie van allerlei woordsoorte in verskeie funksies in Afrikaans, wat in Ndl. seldsaam en beperk is, bv. hy stap lag-lag nader. Hulle spring-spring deur die modder.
(2) Twee ontkenningswoorde vir een ontkenning met die tweede "nie" aan die end van die sin in Afrikaans. Hoewel dubbele ontkenning in Ndl. in die Middeleeue algemeen was en later dialekties voorkom, is dit baie moeilik om te bewys dat die Afrikaanse verskynsel geërf is.
(3) Die gebruik van vir by persoonsname wat as voorwerp optree, is ’n Afr. verskynsel wat blykbaar nie Nederlands is nie. Dit is moontlik aan Maleis-Portugese invloed toe te skryf, maar die moontlikheid is nie uitgesluit nie dat dit spontaan ontwikkel het.
Opsomming:
Die Afrikaanse woordeskat en klankstelsel verskil betreklik min van die Nederlandse en die afwykings in Afrikaans kan in baie gevalle teruggespoor word na ouer of dialektiese Nederlandse verskynsels. Die opvallendste verskille lê by die vormleer en sintaksis, en hoewel baie ooreenkomstige neiginge binne die Nederlandse gebied kon ontstaan het, moet sommige verskynsels waarskynlik as aparte ontwikkelinge in Afrikaans beskou word, miskien onder Maleis-Portugese invloed.
Dit is veral die snelle vordering en omvang van die veranderinge in Afrikaans wat taalkundiges genoop het om aan baie sterk invloed van vreemdelinge, o.m. van Maleis-Portugese slawe, te dink as die hooffaktor in die veranderinge. Die ontdekking van al hoe meer ooreenkomste in Nederlandse diaiekte het die standpunt verswak, en tans word deur sommige, soos prof. Kloeke, die aandeel van Suid-Hollandse dialekte beklemtoon en deur andere, soos prof. S.A. Louw, die onvastigheid in 17de-eeuse Nederlands en die rol van groot dialekverskeidenheid as die belangrikste faktor by die vinnige verandering in die taal.
Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.