Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Aarde is een van agt planete wat om die Son wentel. Dit is die derde naaste aan die Son en die vyfde grootste planeet in die Sonnestelsel. Dit is die enigste plek planeet in die heelal waar daar sover bekend lewe bestaan.
Punte van wetenskaplike belang is:
(1) die fatsoen: ’n bal wat effens plat is op twee punte;
(2) die grootte: omtrent 12,700 km (8,000 myl) in deursnee, en omtrent 40,000 kilometer (25,000 myl) in omtrek;
(3) die gewig: omtrent sesduisend miljoen miljoen miljoen ton;
(4) die beweging: hy draai een maal per dag om sy eie as en beweeg op ’n byna ronde baan om die son op ’n gemiddelde afstand van 150 miljoen kilometer in 365¼ dae teen ’n snelheid van amper 30 kilometer per sekonde;
(5) die skeikundige samestelling van die kors: per gewig is byna die helfte daarvan suurstof, meer as ’n kwart is silikon (kieselaarde), en aluminium, yster, kalsium, natrium, kalium en magnesium verteenwoordig elkeen meer as een persent. Alle ander elemente verteenwoordig minder as een persent, baie veel minder;
(6) drie-kwart van die oppervlakte is bedek met water;
(7) dit is omring van ’n atmosfeer.
Die Aarde is naastenby bolvormig met 'n deursnee van 12,756.34 km by die ewenaar en 12,713.54 km van pool tot pool. Sy massa of gewig is ongeveer 6 x 1021 ton met 'n digtheid van 5,52 gram per kubieke sentimeter.
Die Aarde draai om die Son in ’n baan van ongeveer 940 miljoen km in ’n jaar van 365 dae 6 uur 9 minute (by benadering). Die afstand van die Son wissel tussen 147 098 290 km (die afelium) en 152 098 232 km (die perihelium) (gemiddeld 150 miljoen km); die gemiddelde snelheid om die son is 29,783 km/s (66,000 m.p.u.). Die Aarde se ewenaar hel met ’n hoek van 23.5° na die aardbaan oor; dit verklaar die seisoene; hy draai een keer elke 23 uur 56 minute om sy eie as (die sideriese dag). Die Maan (ook Luna genoem), met 'n deursnee van 3476 km, is die Aarde se enigste natuurlike satelliet.
Die hoofdele waaruit die Aarde bestaan is die atmosfeer (bestaande uit gasse), die vloeibare hidrosfeer (oseane, mere, riviere en ondergrondse waterbronne), die litosfeer (vaste aardkors en boonste mees soliede mantel), met daaronder die benedemantel (warm, vaste stowwe in ’n taai-vloeibare toestand) en in die middel die kern (vermoedelik vloeibaar aan die buitekant, maar vanweë die groot drukking met ’n soliede bal van hoofsaaklik yster daarbinne).
Die aarde se atmosfeer bestaan uit 78% stikstof, 21% suurstof en 1% ander gasse. Op ’n hoogte van 19 km bo seespieël moet mense ’n ruimtepak aanhê. Dit is die sogenaamde Armstrong Limiet. Sonder ’n ruimtepak wat druk op jou liggaam toepas, kan mense nie oorleef nie, want teen dié hoogte kook water teen kamertemperatuur.
Altesaam 100 ton klein meteoriete – meestal in die vorm van stof – kom daagliks die aarde se atmosfeer binne. Die meeste verbrand egter heeltemal voor dit die grond tref. Die grootste meteoriet wat ooit op die Aarde geval het, het geen krater gelaat nie. Dit is die Hoba-meteoriet wat in Namibië naby Grootfontein geval het. Wetenskaplikes meen omdat die meteoriet plat aan albei kante is, dit moontlik soos ’n klip op water deur die atmosfeer “gespring” het en daarom nie ’n krater gelaat nie.
Van die Aarde se oppervlakte word 71% deur water beslaan, wat blou lig reflekteer. Vir die rede vertoon die planeet blou vanuit die buitenste ruimte en word dit die "blou planeet" genoem. Die res is land, wat hoofsaaklik uit ses groot massas (vastelande) bestaan. Die vastelande is: Asië, Afrika, Noord-Amerika, Suid-Amerika, Antarktika, Europa en Oseanië. Die vastelande is nie staties nie en skuif sowat 2 cm elke jaar.
Sowat 97% van die water op aarde is te sout om te drink, terwyl net 3% vars is. Die diepste gebied in die oseaan is die Mariana-sloot, wat op sy diepste 10,9 km meet.
Die gemiddelde oppervlaktemperatuur is 14°C. Die warmste temperatuur ooit, 57,8 grade Celsius, is in 1922 by El Azizia in Libië gemeet. Die laagste temperatuur was -88,2 grade Celsius in 1983 by die Vostok-weerstasie in Antarktika. Die droogste plek op aarde is die Droë-vallei in Antarktika, waar dit 2 miljoen jaar gelede die laaste keer gereën het.
Die Aarde is die tuiste van miljoene spesies lewende wesens, waaronder die mens. Dit is die enigste plek in die heelal waar daar sover bekend lewe bestaan. Baie spesies is egter steeds onbekend. Ons weet vandag byvoorbeeld van minder as ’n derde van alle plante en diere wat onder die see leef.
Die aarde is die enigste planeet in ons sonnestelsel wat tektoniese plate het. Daarsonder sou dit nie koolstof kon opneem en herwin nie en sou ons planeet, nes Venus, oorverhit het. Die diepste boorgat is 12,4 km. Mens sal egter 6 371 km diep moet boor om by die aarde se kern uit te kom. Die kern van die aarde is 5 500 grade Celsius – so warm soos die oppervlak van die son. Die kern is ’n soliede ysterbal wat sowat 2 400 km breed is. Ongeag hoe warm dit is, is die druk so hoog dat die yster nie kan smelt nie. Konveksiestrome in die vloeibare buitekern wek waarskynlik die planeet se enorme magnetiese veld op.
Bronne:
1. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
2. Die Skatkis: Algemene kennis en naslaanwerk, ISBN 0-7966-0014-7
3. www.nasa.gov, www.nationalgeographic.co.uk, www.astronomy.com, www.ecolocolizer.com, www.earthsky.org, www.livescience.com en www.sciencedaily.com
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.