Vakbond [boodskap #124325] |
Fri, 18 January 2019 14:39 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
'n Vakbond is 'n organisasie wat die belange van 'n van werkers bevorder en beskerm. Vakbonde verteenwoordig dikwels werkers wanneer lone en werksomstandighede met werkgewers of regerings onderhandel word. Van die groot vakbonde in die land is Solidariteit, COSATU (Congress of South African Trade Unions), FEDUSA (Federation of Unions of South Africa), NACTU (National Council of Trade Unions) en CONSAWU (Confederation of South African Workers' Unions).
Afgesien van 'n silwersmidgilde wat in 1715 in die Kaap gestig is, is die vroegste Suid-Afrikaanse vakbond die Printers’ and Bookbinders’ Mutual Benefit Society wat in 1857 in Kaapstad gestig is. Dit is in 1881 vervang deur die Cape Town Typographical Society, met teenhangers in ander sentrums, en in 1898 deur die South African Typographical Union. Net soos in die geval van die meeste ander dele van die Statebond, was immigrante wat aan vakbonde in Brittanje gewoond was, verantwoordelik vir die eerste plaaslike pogings. In die jare 1880 is verskeie bedryfsunies by die diamantmyne in Kimberley gestig en in 1885 is 'n mynwerkerstaking met wapengeweld onderdruk. Na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het verskeie Britse vakbonde, insluitende die Amalgamated Society of Engineers, takke in Transvaal gevorm. Die eerste mynwerkersunie is in 1892 gestig en sy groei is aangewakker deur die teenwoordigheid van baie Australiese werkers. Na die Tweede Vryheidsoorlog was daar 'n sterk oplewing — iets waartoe die besoeke van bekende leiers soos Keir Hardie, Tom Mann en ander baie bygedra het. Al die vakbonde, asook die liggame wat betrokke was in die eerste groot mynstaking aan die Witwatersrand in 1907, was vir blankes.
Die vakbondwese het versprei en in Junie 1913 was daar meer ernstige mynstakings, wat gepaard gegaan het met geweld en die mobilisasie van troepe en polisie, asook in Januarie 1914. 'n Poging van die stakers om tot 'n algemene staking oor te gaan, is onderdruk deur generaal J.C. Smuts, wat die meeste van die vakbond- en arbeiderleiers summier na Engeland gedeporteer het.
In die daaropvolgende jare het 'n beweging ontstaan om die vakbonde aaneen te skakel in die Suid-Afrikaanse Nywerheidsfederasie. Hiervoor was Archie Crawford hoofsaaklik verantwoordelik. 'n Groot staking op die steenkool- en goudmyne wat aangewakker is deur 'n poging om lone te verminder ten einde te vergoed vir die verlies van die oorlogtydse premie op die prys van goud, het in Januarie 1922 begin en in Maart sy hoogtepunt bereik in die Randse Opstand. Dit is na swaar gevegte deur polisie en troepe onderdruk. As gevolg van die dure les wat die Regering geleer het, het hy versoeningswette, loonrade en ander voordele ingestel.
Vakbonde in die Republiek het teen die 1960's gesamentlik meer as 370,000 lede gehad en hulle moes amptelik geregistreer gewees het. Die grootste groep val onder die Suid-Afrikaanse Vakbondraad, destyds met 49 unies en meer as 150,000 lede, gevolg deur die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie met 62,000 en die Koördinerende Raad van Suid-Afrikaanse Vakverenigings met 22,000 lede. Die Federale Raadplegende Raad van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens se Personeelvereniging (77,000), die Werktuigkundige Vakbond (45,000) en verskeie kleiner vakbonde wat op 'n meer gespesialiseerde basis funksioneer het.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|