Oor spoorsny. [boodskap #9767] |
Sa, 14 Junie 1997 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Gister het ons 'n ietwat senutergende ondervinding
gehad. Ons kon nie by ons kar uitkom, nadat ons dit
geparkeer het langs 'n groot "mall" hier in Ottawa nie.
Die winkelkompleks is drie verdiepings hoog, elke
verdieping met sy eie parkering aan vier verskillende
kante. Ons het natuurlik die nodige voorsorg gemaak
om ons parkeerarea se nommer te memoriseer, en was
seker dat ons sou onthou waar ons ingekom het. Ons
het egter ons fout later uitgevind, toe ons om de dood
nie ons kar kon vind nie. (Die fout in ons berekeninge
was veroorsaak deur die feit dat ons aangeneem het dat
"Eatons," die winkel waardeur ons die plek wou binne-
gaan, net aan die westekant van die kompleks geleë
was. Eers later vind ons uit dat Eaton's van wes na oos
die hele lengte van die mall beslaan.)
Uiteindelik, terwyl ons nou so rondloop, begin
wonder ek wat ons nou sal aanvang as ons glad nie by
ons kar kan uitkom nie. Ek troos my daaraan dat die
plek eers die aand nege-uur toemaak en dat ons nie van
honger sal doodgaan tot dan nie. Ek begin ook wonder
of daar in die plek iemand is wat ons kan kry om ons kar
"op te spoor." Ek voel effens skuldig toe 'n vriendelike
winkelmeisie, wat ons wou probeer help, aanhoudend vra
of ons opgemerk het watter soort verkoopsware daar was
by die deur waar ons ingekom het. Ek begin toe al hoe
meer en meer skuldig voel oor my agterlosigheid en onop-
merksaamheid. Ek, iemand wat grootgeword het in die
land van die Khoi en die San, mense wat so opmerksaam
was dat hulle 'n dier oor groot afstande kon volg, en 'n
volstruiseier vol water kon opspoor baie lank nadat hulle
dit in die sand begrawe het. Daar in die winkelkompleks
begin ek wonder of ons ooit so 'n wetenskaplike in die
kuns van opsporing sou kon vind om vir ons te help om
ons kar te vind.
Die storie het 'n goeie einde. Ons het toe uiteindelik
self reggekom. Die vreugde om ons kar te vind, was on-
uitspreeklik soet. Om te kan huis toe ry, was 'n gawe van
die gode. Ons het nie meer bedreig gevoel deur magte wat
ons nie kon kontrolleer nie. Maar ek hoop ons het gister
'n les geleer wat die San duisende jare gelede moes leer toe
hulle in die onherbergsame dele van die Noord-kaap hulle
weg moes leer vind: Merk alles op. Alles is van belang.
Sorg dat jy jou weg terug sal kan vind. Hansel en Gretel
se storie gaan oor dieselfde ding. In die woude van die ou
Europa het hulle seker dieselfde probleem gehad. En ons
vandag, ons het ook nog soms dieselfde probleem, in die
betonwoude wat ons vir onsself skep.
Gloudina Bouwer
|
|
|
Re: Oor spoorsny. [boodskap #9769 is 'n antwoord op boodskap #9767] |
So, 15 Junie 1997 00:00 |
At de Lange
Boodskappe: 297 Geregistreer: November 1995
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Gloudina skryf
Izak Bouwer wrote in article
...
> Die storie het 'n goeie einde. Ons het toe uiteindelik
> self reggekom. Die vreugde om ons kar te vind, was on-
> uitspreeklik soet. Om te kan huis toe ry, was 'n gawe van
> die gode. Ons het nie meer bedreig gevoel deur magte wat
> ons nie kon kontrolleer nie. Maar ek hoop ons het gister
> 'n les geleer wat die San duisende jare gelede moes leer toe
> hulle in die onherbergsame dele van die Noord-kaap hulle
> weg moes leer vind: Merk alles op. Alles is van belang.
> Sorg dat jy jou weg terug sal kan vind. Hansel en Gretel
> se storie gaan oor dieselfde ding. In die woude van die ou
> Europa het hulle seker dieselfde probleem gehad. En ons
> vandag, ons het ook nog soms dieselfde probleem, in die
> betonwoude wat ons vir onsself skep.
Jou ervaring laat my dink aan die dag toe tyd my ingehaal het.
Ek was ervare met duisende kilometers in die veld sonder kaart
of kompas, maar het nooit verdwaal nie. Maar toe moes ek begin
bril dra. Die eerste keer wat ek met die bril in die veld kom, het
ek hopeloos verdwaal! Ek was eers verbaas dat ek kon verdwaal.
Daarna het ek hoogs bekommerd begin raak. Toe het ek begin
dink - hoe was ek anders as al die vorige kere. Uiteindelik het ek
aan my bril gedink. Ek het dit afgehaal, onder 'n boom gaan sit
en eers 'n ruk ontspan. Toe het ek opgestaan en sonder die bril
net begin stap. Omtrent 10 minute later het ek weer rigting gekry
en was sowat twee uur later weer terug by die bakkie.
Beste wense
At de Lange
|
|
|