Keuse vs sensuur [boodskap #9734] |
Vr, 06 Junie 1997 00:00 |
At de Lange
Boodskappe: 297 Geregistreer: November 1995
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Leendert van Oostrum wrote in article
...
> Enersyds hou ek van die potensiaal wat dit het om gesprek te stimuleer.
>
> Andersyds dink ek dat die situasie 'n sterk selfsensurerende effek by
> bydraers moet veroorsaak.
> In hierdie konteks reken ek dat enige pogings tot Afrikanerintrospeksie,
> soos voorgestel deur Gloudina en ondersteun deur At nie 'n lang
> lewensverwagting het nie.
>
> Ek wil dit nie ontmoedig nie. Ek reken bloot dat mens die effek van
> selfsensuur in 'n sensurerende omgewing nie oor die hoof moet sien nie.
Leendert, die sake wat jy aangehaal het, is moeilik om vas te vat.
Sensuur beteken vir my om enige ander persoon nie toe
te laat om deel te neem nie. Dit kan ek net in twee opsigte
verdedig:
1 As ek pertinent verantwoordelik is vir 'n onvolwasse mens,
is dit my taak om vir daardie persoon volwasse keuses te
maak totdat die persoon dit self kan doen. Dit is ook my taak,
waar dit moontlik is, om so 'n persoon te lei hoe om self
volwasse keuses te maak.
2 As die persoon net een doel voor o"e het, naamlik om alles
te vernietig waarmee hy/sy in kontak kom. Andersins
moet ek eerder mense wat negatiewe en afbrekende bydraes
lewer, probeer reghelp. As dit nie wil werk nie, verdra ek
hulle maar verdra. Ek kan wel leer uit hulle bydraes,
al is dit net om te weet wat ek nie moet doen nie en
hoe erg die wereld kan wees.
Maar 'selfsensuur' is 'n heel ander saak. Ek wil dit amper
nie eers 'selfsensuur' noem nie omdat dit eerder 'n geval
van vrye keuse is. Ek glo dat elke volwasse mens vrylik
moet kan kies waaraan hy/sy wil deelneem of nie. Maar
daar is 'n voorwaarde: die persoon nie so 'n keuse maak
dat hy/sy die lewe van ander mense en die natuur befoeter
nie. Ek sal die persoon se spesifieke keuse bestry, maar
steeds stry vir sy/haar reg om vrylik te kan kies
Kom ons kyk hoe dit van toepassing is op die "derms
uitryg van die Afrikaner". Terwyl ek die frase skryf, dink ek
aan twee gevalle: 'n bobbejaan wat voor my o"e sy derms
gesit en uitryg het, en die folterende uitryg van Braveheart
se derms. As mense julle gewond het terwyl julle geen
skuld gehad het nie, moet to nie soos 'n bobbejaan sit en
derms uitryg nie - dit maak dood. As mense julle derms
onskuldig begin uitryg en teesit help nie, probeer nog steeds
so 'n getuienis lewer dat die folteraars beskaamd sal staan.
Wat voor die WVK aangaan, is dikwels gruwelik. As daar
een belangrike les te leer is, is dit dat die doel nooit die
middel heilig nie.
'n Tweede belangrike les te leer is dat 'n keuse wat nie
met joune ooreenstem nie, nie vanself onvolwasse is nie.
'n Derde belangrike les is dat jy baie duidelik moet vasstel
wie pertinent aan jou sorg toevertrou is. 'n Mens kan nie
agter 'n landswet wegkruip nie. Die meerderheid wit Afrikaners
het gedink dat die ander inheemse volke aan hulle toevertrou
is en toe wette gemaak om so te kan optree. Ek glo dit was
verkeerd. Hedendaags redeneer die meerderheid mense weer
dat die kinders aan die staat toevertrou is en maak wette dat
dit klap om so te kan optree. Ek glo dat ook dit is verkeerd is.
Beste wense
At de Lange
|
|
|
Re: Keuse vs sensuur [boodskap #9750 is 'n antwoord op boodskap #9734] |
Ma, 09 Junie 1997 00:00 |
At de Lange
Boodskappe: 297 Geregistreer: November 1995
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Leendert van Oostrum wrote in article
...
> Dit gaan dus nie oor "Keuse vs sensuur" soos jy dit wil nie, maar oor
> (self) sensuur as gevolg van beperking van vryheid.
>
> Manganyi se stelling was dat 'n mate van privaatheid noodsaaklik is vir
> vrugbare introspeksie, juis omdat dit die omgewingsdwang beperk wat vryheid
> van spraak - en, uiteindelik, van denke - aantas.
Leendert, ek begryp wat jy sê.
Een van die maniere om te oorleef, is om sekere
afgrensinge (privaathede) te skep. Byvoorbeeld, ek
neem kos net deur my mond in en nie oor my hele
liggaam nie. Gevolglik is my mond spesiaal ingerig
om gevaarlike kos vroegtydig te identifiseer en gunstige
kos in 'n aanvaarbare vorm vir my maag aan te bied.
Maar in elke afgrensing skuil ook die kiem van die dood.
Isolasie (volledige afgrensing) het juis die dood tot gevolg.
Byvoorbeeld, as ek my toemaak in 'n lugdigte houer
sonder kos en water, sal ek kort voor lank sterf.
Die kuns van leef is egter om balans te behou tussen
'oop' en 'toe'. Heeltemaal 'oop' is net so gevaarlik as
heeltemaal 'toe'. En halfpad oop of toe is miskien nog
gevaarliker. Dit gaan nie oor 'oop' en 'toe' as isse ("beings")
nie, maar as 'worde' ("becomings").
'n Mens moet weet weet wanneer om oop te maak en
wanneer om toe te maak. (Dis hoekom krieket so 'n
interessante spel vir my is.) Met ander woorde, oorlewing is
dikwels ook om begrensinge af te breek. 'n Mens moet egter
die vryheid hê om oop of toe te maak soos wat bedink was
- om met verantwoordelikheid te kan kies.
Introspeksie (selfverkenning) is nie net 'n saak vir 'toe' nie.
Selfverkenning is deel van gesonde menswees - van
medemenslike oorlewing. Daarom is dit ook 'n saak vir
'oop'.
'n Mens moet elek faset van Internet gebruik waarvaaor dit
bedoel is. Die openbare nuussgroepe is bedoel om oop te
maak en nie toe nie. Daarom kan ons die nuusgroepe nie
gebruik om 'toe' selfverkenning te doen nie. As jy die bedoel,
stem ek saam. Maar as jy sê dat ons nie 'oop' selfverkenning
kan maak nie, stem ek nie saam nie.
Beste wense
At de Lange
|
|
|