Smuts, Veldmaarskalk Jan Chrlstian [boodskap #123871] |
Fri, 11 January 2019 20:22 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Veldmaarskalk Jan Chrlstian Smuts was die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika. Op 24 Mei 1870 op die plaas, Bovenplaats, naby Riebeeck-Wes, Kaapland, gebore as die seun van Jacobus Abraham Smuts, ’n boer en lid van die Koloniale Parlement. Net soos honderde ander Boerekinders van destyds is hy eers op 12-jarige ouderdom skool toe, hoewel sy moeder hom tuis geleer het. Hy was van plan om predikant te word en besoek die skool van T.C. Stofberg (later senator Stofberg), waar dr. D.F. Malan een van sy medeleerlinge was. Daarna gaan hy in 1886 na die Victoria-Kollege, latere Universiteit van Stellenbosch. Daar ontmoet hy sy toekomstige vrou, die begaafde student Sibella Margaretha (Isie) Krige. Hy maak daar ook persoonlike kontak met Cecil John Rhodes toe laasgenoemde die kollege besoek het. Na ’n briljante loopbaan op Stellenbosch gaan Smuts na Cambridge in 1891 waar hy in die regte studeer en ’n boek skryf oor die werk en digkuns van Walt Whitman. Die boek is nooit gepubliseer nie.
In 1895 keer hy terug na Suid-Afrika en begin in 1896 met sy praktyk in Johannesburg. Sy bekwaamheid het hom onder die aandag van president Paul Kruger gebring wat hom in 1898 as Staatsprokureur aangestel het. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog help hy met die opstel van 'n Eeu van Onreg waarin die republieke se saak teen Engeland gestel is. Kort daarna sluit hy aan by die Boeremagte en sy begaafdheid as guerillaleier bring hom op die voorgrond. Sy historiese inval in die Kaapkolonie het hom tot by Malmesbury en binne sig van Tafelberg gevoer. Teen die einde van die oorlog was hy nog in die veld. Hy het ’n leidende rol gespeel in die vredesonderhandelings by Vereeniging waarna hy besluit het dat die enigste redding vir sy volk daarin geleë is dat hulle die nuwe Britse kroonkoloniebewind moet aanvaar. Hy word een van die leiers van die "Het Volk"-beweging.
Sy hantering van die lydelike versetbeweging van die Indiërs onder leiding van M.K. Gandhi, het bewys dat hy ook meedoënloos kon optree. Met Uniewording het Smuts Minister van Verdediging, Mynwese en Binnelandse Sake geword. Hy is ook die stigter van die Unieverdedigingsmag. As Minister van Mynwese het hy in 1914 en 1921 met geweldige arbeidsgeskille te doen gekry, wat net onderdruk is nadat die gewapende magte en die Imperiale Gamisoen opgeroep is. Hy het hom hiermee baie vyandskap op die hals gehaal want baie mense het gemeen dat hy te hardhandig opgetree het. Teen dié tyd het generaal Hertzog uit Botha se Kabinet bedank en die party gestig wat later die Nasionale Party geword het. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was Smuts self in bevel van die Oos-Afrikaanse veldtog. Die Britse regering was so beindruk met sy intellektuele gawes dat hy in 1917 uitgenooi is om deel te neem aan die Imperiale Oorlogskonferensie in Londen.
Hy word lid van die Oorlogskabinet, ’n lid van die Geheime Raad en was grootliks verantwoordelik vir die stigting van die Britse Lugmag. Afgesien daarvan dat hy dikwels aan die Westelike Front was, het hy in 1917 deelgeneem aan die vroeë onderhandelings om vrede met Oostenryk te maak. Sy advies oor die veldtog teen die Turke in Palestina het tot ’n oorwinning in daardie dele gelei. Hy het reeds die idee gehad om die Volkerebond te stig en het namens die Geallieerdes ’n besoek aan Hongarye gebring tydens die opstand van 1918. Nadat hy in 1919 die Vredeskonferensie in Versailles bygewoon het, het Smuts na Suid-Afrika teruggekeer om Eerste Minister te word ná die dood van generaal Louis Botha. Hy bevind hom te midde van groot na-oorlogse probleme, en hoewel hy die verkiesing van 1920 gewen het, het sy genadelose optrede tydens die Randse Opstand van 1922 uiteindelik daartoe gelei dat hy die onderspit gedelf het teen generaal Hertzog.
Buite die politiek het hy ’n belangrike filosofiese werk, Holism and Evolution, in 1926 geskryf. In 1930 word hy ’n ‘fellow’ van die Royal Society en die volgende jaar rektor van St. Andrew’s University. Hy was nege jaar lank leier van die Opposisie totdat die Goudstandaardkrisis in 1933 die samesmelting van die partye tot gevolg gehad het. Hy was Adjunk-premier onder generaal Hertzog in 1939. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog word hy weer Eerste Minister. Hy het nou saamgewerk met Winston Churchill en ander en het selfs ’n groter rol in die stryd gespeel as in die Eerste Wêreldoorlog. Terselfdertyd het hy te doen gekry met baie binnelandse probleme. Een van sy groot prestasies was die opstel van die Handves van die Verenigde Volke. Hy is in sowel Europa as die Verenigde State vereer. In 1948 is hy in die algemene verkiesing verslaan. Hy het sy politieke bedrywighede voortgesit tot sy dood in 1950.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|