Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Rugby is 'n sport tussen twee spanne van 15 spelers elk. 'n Eiervormige bal word in die hande of arms dra en mag slegs agtertoe of sylangs oor die veld na mekaar aangee, of vorentoe geskop word. Die opponente poog om die baldraer te stuit deur hom te duik of met sy liggaam te keer. As die baldraer geduik word, moet hy die bal los en vind daar 'n stryd (losgemaal of 'n losskrum) om balbesit plaas. Punte word aangeteken deur 'n strafskop, doelskop, of deur 'n drie agter die opponente se pale te druk. Die spel het volgens oorlewering op die dorp Rugby in Engeland ontstaan. Die Internasionale rugbyraad (IRB) is in 1886 gestig en publiseer die reëls van die spel.
Die oorsprong van rugby in Suid-Afrika kan teruggespoor word na wedstryde wat gespeel is tussen regimente van die Britse leër wat geveg het in die vroeë Kaapse Grens- en Zoeloe-oorloë, maar geen besonderhede is bekend nie. Daar word algemeen aanvaar dat rugby soos ons dit ken voortspruit uit ’n verwante spel, genaamd, ‘Winchester Game’ wat by die Diocesan College, Rondebosch, ingevoer is deur kanunnik G. Ogilvie toe hy van Winchester College af as prinsipaal na ‘Bishops’ gekom het. Verskeie oudleerlinge van die skool het gehelp met die stigting van die eerste twee rugbyklubs in die Kaapse Skiereiland — Hamiltons (1875) en Villagers (1876). Die enigste ander plek wat daarop aanspraak maak dat hy met die spel in die land begin het, is Swellendam in Suidwes-Kaapland waar die spel glo in 1865 groot aftrek gekry het. Die dokumente wat bewys daarvan kon lewer, is in ’n groot brand verwoes.
Met die aankoms van die beroemde Engelse toetsspeler, W.H. Milton (later sir William), in die jare 1880 in Suid-Afrika, het die spel nuwe lewe gekry. In 1883 is die Westelike Provinsie-Rugbyunie gestig. Dit is ’n paar maande later gevolg deur die Oostelike Provinsie-Unie.
Die Rugby-unie van Griekwaland-Wes is in 1886 gestig en dié van Transvaal in 1889. Teen dié tyd was die spel goed op dreef in Natal. Toe die eerste Britse span Suid-Afrika in 1891 (W.E. Maclagan se span) besoek het, is die toer hoofsaaklik as ‘opvoedkundig’ beskou. Suid-Afrika het egter die eerste toetswedstryd net met ’n doel en ’n drie (wat toe nog vier punte getel het) teen nul verloor. In 1896, nadat nog ’n Britse span drie van die vier toetswedstryde gewen het, het Suid-Afrika sy eerste internasionale oorwinning behaal toe hy die wedstryd op Nuweland met 5 punte teen nul gewen het. B.H. (Fairy) Heatlie het Suid-Afrika daardie dag aangevoer en vandag word hy nog onthou as een van die "grotes" in die spel. In 1903 besoek die derde Britse span Suid-Afrika en nadat hulle twee keer gelykop gespeel het, wen Suid-Afrika die derde toets wat aan hom die eerste reeksoorwinning besorg het. Die telling was 8-0.
In 1906 besoek die eerste Springbokspan Brittanje onder aanvoering van Paul Roos. Die ‘karakters’ in die span was die vier driekwarte van Stellenbosch — J.A. Loubser, Japie Krige, ‘Boy’ de Villiers en A.C. Stegmann — bekend as die ‘Thin Red Line’ vanweë hulle maroen-truie (bruinrooi).
Ondertussen het die Nieu-Seelandse All Blacks ook triomfantelike toere onderneem, maar die eerste botsing met die Springbokke het eers na die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind toe Theo Pienaar se span Nieu-Seeland besoek het. Hulle verloor een toetswedstryd, speel een gelykop en verloor die laaste een sodat hulle die louere deel. In 1928 deel hulle weer die louere met twee toetse elk toe Maurice Brownlie se All Blacks-span Suid-Afrika besoek het, maar die Springbokke ruik in 1937 die eerste bloed deur die tweede en derde toetswedstryde te wen, nadat hulle die eerste een verloor het.
Na die Tweede Wêreldoorlog is die mededinging in 1949 hervat toe die Springbokke al vier toetswedstryde in Suid-Afrika gewen het, maar Nieu-Seeland het in 1956 die nederlaag gewreek met ’n 3-1 oorwinning. Ondertussen het Robin Thompson se Leeus van 1955 die louere met Suid-Afrika gedeel met twee toetse elk en in 1958 beleef ons die sensasionele oorwinning deur die Franse.
Suid-Afrika kry weer die oorhand oor sy tradisionele mededingers, Nieu-Seeland, deur die 1960-toetsreeks in Suid-Afrika met twee wedstryde teen een, en een gelykop, te wen. Dit was harde wedstryde wat groot belangstelling gaande gemaak het, maar sonder veel skouspelagtigheid. Die Springbokke se strategie was minder ru as die stoomrollermetodes van die All Black-voorspelers. Met die aanbreek van die vierde toets het geeneen van die spanne nog die oorhand gehad nie. Suid-Afrika wen egter die beslissende vierde toets in Port Elizabeth met 8-3. ’n Interessante kenmerk van die reeks was dat Suid-Afrika sy heelagter-kaptein, Roy Dryburgh, na die nederlaag op Nuweland vervang het met die 23-jarige Avril Malan. Malan was ook kaptein van die Springbokspan wat die Britse Eilande later in daardie jaar besoek het. Die span was feitlik onoorwinlik. Hulle klop Wallis 3-0, Ierland 8-3, Engeland 5-0, Skotland 12-5 en speel gelykop teen Frankryk 0-0. Die span het inderdaad net een keer verloor — die wedstryd teen die Barbarians. Na die nederlaag teen Frankryk in 1958 was Suid-Afrikaanse Rugby op die kruispad. Frank Mellish, voorsitter van die Keurkomitee, het ’n verbeterde stelsel van proefwedstryde ingevoer wat onder meer Junior Springbok-wedstryde en kort toere ingesluit het. In 1959 het ’n Junior Springbokspan Argentinië besoek en al sy wedstryde gewen. Die eerste span wat Suid-Afrika op ’n kort toer besoek het, was Skotland in 1960.
Die span is in Port Elizabeth verslaan met 18-10. Daarna volg die toer van die 1960-All Blacks en Suid-Afrika wreek sy nederlaag in die toetsreeks van 1956 in Nieu-Seeland. Dié keer wen die Springbokke twee toetse, speel een gelykop en verloor een. Suid-Afrika was toe slaggereed vir die toer deur Brittanje en Frankryk, en speel altesaam 34 wedstryde. Hulle verloor een (teen die Barbarians) en speel gelykop 0-0 teen Frankryk in Parys. In 1961 besoek twee spanne, die Iere en die Australiërs, Suid-Afrika. Die Springbokke wen altwee die toetswedstryde en ook die reeks in die daaropvolgende toer teen die Leeus in 1962. In 1963 maak Australië geskiedenis op ’n Springboktoer deur die eerste keer daarin te slaag om gelykop te speel in ’n toetsreeks. In 1964 word weer rugbygeskiedenis gemaak. ’n Walliese span onderneem sy eerste oorsese toer. Die span speel vier wedstryde in Suid-Afrika en verloor die toetswedstryd teen die Springbokke in Durban met 29-5 op 23 Mei 1964. Die Walliese toer is gevolg deur ’n tweede besoek aan Suid-Afrika deur ’n Franse span wat in Julie 1964 hier aankom en vyf wedstryde speel. Dit sluit in ’n toetswedstryd op 25 Julie op Springs toe die Franse vir die tweede keer in hulle rugbygeskiedenis die Springbokke in Suid-Afrika klop met 8-6.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.