Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Kaapstad
Kaapstad [boodskap #122366] Wo, 19 Desember 2018 18:49
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Kaapstad is die oudste stad in Suid-Afrika, die wetgewende hoofstad van die Republiek, asook die hoofstad van die Kaapprovinsie. Dit is die tweede grootste stad in die land en is gestig deur Jan van Riebeeck op 6 April 1652 toe hy 'n fort vir die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie opgerig het en 'n nedersetting aan die kus van Tafelbaai aan die voet van Tafelberg begin het. Die fort was geleë op die plek waar die Parade vandag is. Daar naby, onder die huidige Parade-Sentrum (O.K. Bazaarsgebou) kan die trappe opgespoor word wat lei na die fontein waar die vroeë seevaarders water geput het. Die stroom, wat aan die voet van die Platteklipkloof ontspring, loop deur die Tuine langs Adderleystraat af tot in die see. Kaapstad was 'n lang tyd bekend as De Kaapsche Vlek. Teen die einde van die 17de eeu is daarna reeds verwys as Kaapstad, of in Frans La Ville du Cap. Abraham de Mist het in 1803 onsuksesvol probeer om dit te herdoop na Van Ricbeeckstad ter ere van sy stigter. Die bevolking was in Junie 1963 insluitende die aangrensende munisipaliteit van Pinelands, die voorstad Bergvliet (geadministreer deur die Kaapse Afdelingsraad), en verskeie ander gebiede, 860,000, waarvan 317,000 Blankes, 455,000 Kleurlinge, 80,000 Bantoes en 9,000 Asiate.

Die woonbuurt, Langa, het in Desember 1957 23,229 inwoners gehad. Die munisipale gebied beslaan die grootste deel van die Kaapse Skiereiland. Kaapstad is een van die twee vernaamste seehawens van die Republiek en ook die tweede grootste fabrieksentrum. Nywerhede sluit in ingenieursbedryf, saagmeulens, koringmeulens, beskuitjie-, klere- en meubelvervaardiging, drukkerye en baie ander.

Sy natuurskoon, talle baaiplekke en indrukwekkende agterland het Kaapstad die naam besorg as Suid-Afrika se vernaamste vakansie-oord. Dit lok talle vakansiegangers, wat 'n groot ekonomiese inspuiting gedurende die somerseisoen lewer. Die jaarlikse parlementsitting veroorsaak 'n toestroming van amptenare en wetgewers.

Kaapstad het begin met 'n paar huise om die oorspronklike fort wat in 1666 vervang is deur die Kasteel - die oudste oorblywende gebou in Suid-Afrika. Vandag strek die stad teen die hange Van Tafelberg en Duiwelspiek. Die vernaamste bedrywighede van die inwoners in die 18de en vroeë 19de eeu was die verskaffing van voorrade aan verbygaande skepe maar die opening van die Suez-kanaal het baie van die verkeer na die Ooste weggelei. Tydens die 19de eeu het 'n aantal voormalige dorpies aan die suidekant van die stad in afsonderlike munisipaliteite ontwikkel, insluitende Woodstock, Mowbray, Rondebosch, Claremont, Wynberg ens., so ook in die noordelike gebied, Groenpunt en Seepunt. Pogings om die waterverskaffing ens. te vereenvoudig het in 1913 geslaag toe die munisipaliteite saamgesmelt het in groter Kaapstad, behalwe Wynberg, wat in 1927 aangesluit het. Vandag is Vishoek en Simonstad, Pinelands en Houtbaai afsonderlik. Kaapstad strek rondom die voet van Tafelberg en die aangrensende reekse van Kalkbaai tot by Kampsbaai, 'n afstand van meer as 25 myl. In 1862 is daar begin met die bou van 'n spoorlyn na Wynberg wat in 1885 Kalkbaai bereik en in 1890 Simonstad. Dit is tussen 1925 en 1926 geëlektrifiseer. 'n Elektriese spoorlyn na Seepunt was nie betalend nie en is verwyder. Elektriese spoorlyne bedien nou ook binnelandse voorstede en naburige munisipaliteite, Maitland, Vasco, Goodwood ens. Kaapstad het 'n privaat-beheerde stelsel van busse. Kaapstad beskik oor 'n aantal pragtige ou geboue, hoewel baie om ekonomiese redes platgeslaan is. Die oorspronklike Kompanjiestuin aan die bo-punt van Adderleystraat bestaan nog as 'n plesieroord. Daar rondom is belangrike inrigtings insluitend die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek wat in 1818 gestig is, en wat oor meer as 400,000 boekdele beskik, waaronder die beroemde Grey-versameling van Middeleeuse en ander manuskripte, die Dessin-versameling, die Fairbridge-Africana-versameling, ens.

Daar naby is ook die Parlementsgebou met die beroemde Mendelssohn-biblioteek, die historiese Goewermentshuis, die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum, die Suid-Afrikaanse Museum, die Kaapse Argief, die Hooggeregshof, die Sinodesaal van die N.G. Kerk en ander belangrike geboue.

By Groote Schuur, die huis van Cecil John Rhodes, wat die landgoed nagelaat het vir openbare doeleindes, is die Universiteit van Kaapstad, met meer as 6,000 studente, verskeie navorsingsinrigtings en die Mediese Skool. Die Koninklike Sterrewag wat in 1820 gestig is en nog beheer word deur die Britse Vloot, is die oudste inrigting in sy soort in die Republiek. 'n Kabelspoor loop op teen Tafelberg. Die dokke waarmee in 1860 begin is, is uitgebrei en vandag beslaan dit byna 300 acres beskermde water. 'n Paar honderd acres in die onderpunt van Adderleystraat is teen 'n koste van R20,000,000 drooggelê en baie geboue, insluitend die nuwe spoorwegstasie, is daar gebou.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Kaapse Vlakte
Volgende onderwerp: Kaap Vals
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jun 30 19:40:42 MGT 2024