Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Geologie
Geologie [boodskap #121925] Wed, 12 December 2018 06:41
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Geologie is die wetenskap en studie van die aarde, sy samestelling, struktuur, fisiese eienskappe, geskiedenis en die prosesse wat hom vorm. Die woord se oorsprong is Grieks: γη- (ge-, "die aarde") en λογος (logos, "woord", "rede").

Suidelike Afrika, met uitsluiting van Tanganjika, die Kongo en Angola, het 'n antieke geologiese geskiedenis - 'n aantreklike tooisel van mineraleneerslae en 'n groot verskeidenheid van landskap en klimaatstoestande. Dit het ook beroemde fossiele van plante, diere en die vroegste mens opgelewer.

In die 1800's is die eerste verslae van minerale en klippe in dié groot gebied aangemeld - maar lank voor dit het ou metaalsoekers met die ontginning begin van goud, koper en tin in Rhodesië en Zambië (Kitwe en Zimbabwe) in die Limpopovallei - by Mapungubwe, Zaaiplaats en Palaborwa in die Oos-Transvaalse Laeveld.

Die vroeë ontdekking van goud by Barberton en Pelgrimsrus, steenkool by Indwe en later in Natal, Transvaal en Wankie, het die studie van rotse in Suidelike Afrika geweldig gestimuleer, terwyl die ontdekking van diamante by Kimberley en goud aan die Witwatersrand, en later ook die ontdekking van yster, platinum en mangaan, die proses van rotsondersoek versnel het. Ons weet nou dat ons rotsbodem verkoelde en gekristalliseerde graniet is. Dit is saamgepers en verander en op plekke bedek deur lae van ou lawas, modder, sand en kalksteen. Gesmelte materiaal het later hierin gespuit as groot poele, lawadek, dun muuragtige massas en skoorsteenagtige luggate.

Sulke wêreldbekende intrusies soos die Bosveld-stollingskompleks, die Groot Lawamuur van Zimbabwe (Rhodesië), die talle lawamure en lawadek van Karoo-doleriet, die diamantdraende (pypagtige) Kimberliet en die groot lawadekke van die Malutiberge, die Lebombo en die Kaokoveld van Namibië (Suidwes-Afrika), kan hier genoem word.

Hulle verskil grootliks in ouderdom, voorkoms, vorm, grootte en samestelling; net so verskillend is die soorte minerale, sommige van die allergrootste ekonomiese belang, wat hulle lewer.

Hierdie erts sluit in tin, koper, mika, korundum, goud, platina, vanadium, sink, lood, antimoon en arseen, berillium, litium, wolfram, columbium en tantalum en laastens uraanerts. Ons groot goud-, steenkool-, mangaan- en asbesneerslae verskil in oorsprong, hoofsaaklik deur water gedra en neergelaat of geïnfiltreer in kalkneerslae, sand-, modder- en kliplae.

Die diamante - die gevolg van groot hitte en druk - kom voor in sy geboorteplek, ingelê in die skaars pypagtige Kimberlietrots. Daar is baie sodanige
skoorstene wat deur die aardkors geblaas is deur uitgewerkte vulkane. Die plato is oor groot afstande in Rhodesië, Zambië, Malawi, Noord- en Oos-Transvaal, Suidwes-Afrika en Noord-Kaapland van hierdie ou graniet gebou. Dit sluit in smal gordels nóg ouer afsettingsgesteentes en lawa, nou baie verander deur hitte, druk en verskuiwings.

Die jonger deklae word bewaar in ouer plooiingskomme en verteenwoordig ou lawavloeiings en die neerslae van antieke kontinentale ingeslote seë waarin gletsers, ysblokke, riviere en die wind groot vragte sand, modder, kalk en gruis neergelaat het - sedertdien het dit verander in sandsteen, skalie, kalksteen en konglomeraat. Hierdie proses is baie keer herhaal in miljoene jare, en so is ons groot rotssisteme gebore. Suidelike Afrika was toe deel van 'n groot vasteland, (Gondwanaland) en het eers later 'n wegdrywende gedeelte (die hele Afrika) omring deur oseane geword. Sy kante is oor verskillende afstande deur aardbewegings onder die see gedompel en het in dié tye sy see-neerslae gekry wat later weer na die oppervlakte gekom het.

Toe die diere en plante die land kon bewoon het, is sommige na hulle dood as fossiele bewaar. Dit help ons om vas te stel hoe koud, warm of droog die klimate was. Die meeste het verdwyn, maar ons jonger seefossiele aan die Kaap, krythoudende en tersiêre seerotsbeddings, vertel die storie van seelewe en die grense van land en see.

Die meer onlangse neerslae is dié van die Kalahari-woestyn skotteltrog, gevul deur windgewaaide sand, tydelike moddermere en woestynkalksteen. Ons ouer stroomterrasse is op plekke diamantdraend, afgedra van die terreine van Kimberlietpype; en langs ons westerse kus is die seeterrasse van Namakwaland en Pomona die bewys van soortgelyke aksies. Sommige diamante kan moontlik van seewaartse ondersese vulkaniese lugpype kom, maar baie kom van die agterland deur die Oranjerivier-dreineringstelsel.

Zambië bied koper, sink, lood en steenkool. Laasgenoemde is net so oud as dié van Wankie, Rhodesië, Vereeniging, Witbank, en die Natalse steenkoolveld. Steenkool is afkomstig van ingespoelde plante wat versamel het in groot kontinentale mere. Aan die kant van die mere het 'n "reuse-akkedis-fauna" geleef wat na sy dood die geraamte van die Karoo-reptiel aan ons nagelaat het. Hulle het uitgesterf toe die klimaat verander het van nat na droog en die groot mere gevul is deur sand en later bedek is deur groot lawadekkings.

Die Karoo-stelsel van die Republiek word ook in die noorde van Suidwes-Afrika aangetref, by Wankie (Rhodesië) en in die afgeskuifte dele van Malawi en Zambië. Die koper-, sink- en looderts kom voor as infiltrate in baie ouer stelsels van laagrots deurdring deur jonger graniet soos op N'Kana en Broken Hill. Die koper en goud van Rhodesië en Noord-Transvaal kom voor in ouer rotsgesteentes (meer as 2,000 miljoen jaar gelede).

Die asbes- en mangaanerts is van geheimsinnige oorsprong, blykbaar gevorm as infiltrate van korswater wat in poreuse horisonne van gevoude afsettingsgesteentes ingesypel het.

Die goud van die Witwatersrand is 'n ou spoelertsafsetting wat baie verander is deur druk en die gevolge van oplossings wat uitgestroom het vanweë indringende stollingsgange en stollingsgesteentes.

Die groot koperneerslae van Messina en Namakwaland is van stollingsoorsprong en kom voor in die oergraniet wat eeue oud is. Die berge en valleie van Suidelike Afrika se oorsprong is van tweërlei aard. Sommige is die oorblyfsels van erosie wat hoog gebly het weens opheffing soos die oorblyfsels van verweerde hooglande. Van sodanige oorsprongisdietafelberge van die Kaokoveld en die noorde van Suidwes-Afrika en die Drakensberg van Lesotho.

Die steil berge van oostelike Rhodesië wat wes gerig is oor die Sabi-vallei, se hoogte en vorm is die gevolg van breuke en stroom-erosie. So ook is die groot hooglande van westelike Malawi, die Livingstone-berge en die Nyika-eskarp.

Die plooiingsreekse van die beroemde Tuinroete in Kaapland is berge gevorm deur die plooiing van die korslaag, geëts deur riviere. Net so is die ouer reekse van Barberton, die Murchison-reeks en die Windhoekhoogland van Suidwes-Afrika gevorm.

Omdat platlêende rotsdeklae groot gebiede van die binnelandse plato bedek, het 'n platkop-en-spitskop landskap in streke met semi-droë klimaat ontstaan. Dit is die terreinvorm van die Groot Karoo en die Visriviervallei-gebied van suidelike Suidwes-Afrika. Groot dele van Mosambiek is sonder bepaalde kenmerke en laagliggend omdat dit 'n vlakte is wat maar onlangs uit die see verrys het. Dit is swak gedreineer met volop vlak mere naby die kus. Dit is goed bebos en die grond is vrugbaar vir mielies, kassawe, suikerriet en sisal.

Deur M.S. TALJAARD, D.SC. Universiteit van Stellenbosch
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Genootskap van Regte Afrikaners
Volgende onderwerp: George
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 02:34:01 UTC 2024