Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Fossiel is die oorblyfsel van 'n dier of plant wat in sedimentêre gesteentes behoue gebly het. Fossiele word hoofsaaklik in paleontologie en geologie bestudeer. Die afsettingsgesteentes en ander neerslae van Suidelike Afrika bevat dikwels die versteende oorblyfsels van die harde dele van diere en plante. Dit dateer terug uit die volgende tydperke van die aarde se geskiedenis: die Devoonse, Permiese, Trias, Kryt en Pleistoseen.
Die Devoonse en Krytfossiele is feitlik uitsluitlik ongewerwelde seevorme (trilobiete, weekdiere, skulpe ens.) en aangesien dit welbekend is in ander dele van die wêreld verdien dit nie dieselfde aandag as dié van die Permo-Trias en Pleistoseen-tydperke nie.
Fossiele wat terug dateer uit die Middel Permiese tot die einde van die Trias-tydperk word gevind in die boonste rotslae van die Karoostelsel (nagenoeg 240,000 vierkante myl en feitlik die helfte van die gebied wat die Republiek beslaan).
Klein dagsome word ook gevind in Namibië (Suidwes-Afrika), Botswana, Zimbabwe (Rhodesië_ en in Oos- en Sentraal-Afrika. Die stelsel word verdeel in die Dwyka, die Ecca, die Beaufort en die Stormberg. Met een uitsondering word fossiele net in die Beaufort- en die Stormbergtydperk aangetref.
Erosie is baie aktief in die Karoo en dit is hier waar fossieloorblyfsels algemeen blootgelê word. Die tydsduur van die vorming van die Karoostelsel maak dit moontlik om die ontwikkeling van sekere diergroepe wat blykbaar tydens die tydperk ontstaan het, na te spoor, bv. akkedisse, dinosourus, voëls, krokodille en soogdiere.
Die diere wat die Beauforttydperk oorheers het, die soogdieragtige reptiele (Therapsida), word in vyf verskillende groepe verdeel. Die Deinocephalia (reuse-koppe) - sommige die grootte van osse - het 'n koepelagtige verdikking van kop en was of vleisetend of plantetend. Die Gorgonopsia (Gorgon-gesigte) Cynodontia (hondetande) en Therocephalia (wilde-dier-koppe) was kleiner, aktiewer en gewoonlik vleisetend of aasvretend.
Die Dicynodontia (twee-hond-tand) was die volopste van die Therapsida en het die uiteenlopendste strukture gehad. Hulle was plantetend en die grootte het gewissel van dié van 'n rot tot dié van 'n koei. In die evolusie van Dicynodonts is die tande, afgesien van die boonste hoektande, gewoonlik vervang deur 'n horingagtige bek soos die van 'n skilpad.
Daar was weinig kenmerke wat gemeenskaplik was onder al die Therapsida, maar elke groep het daartoe geneig om soogdieragtige strukture te hê.
Klein akkedisagtige vorms, die Eosuchia, het in dieselfde tyd as die Therapsida in die Beauforttydperk voorgekom en die oorheersende diere, die Archosauria, wat die soogdieragtige reptiele in die Stormbergtydperk vervang het, was van hulle afkomstig. Akkedisse is ietwat gewysigde afstammelinge van die Eosuchia.
'n Vroeë groep van die Archosauria is die aktiewe, vleisetende Pseudosuchians. Sommige vorms, wat uiters lig gebou was, het net op hulle agterpote begin loop. Voëls is moontlik hulle afstammelinge. Ander massiewe vorme was soortgelyk aan die latere dinosourus. Die fossiele van die Stormbergtyd wat die volopste aangetref word, is verskeie soorte dinosourusse, ontwikkel uit die Pseudosuchians. Hoewel hulle beenagtige oorblyfsels skaars is, is hulle ook bekend uit voetspore wat bewaar gebly het in sandsteenlae. Sommige dinosourusse van Suidelike Afrika was lig gebou, het net op twee bene geloop en was baie soos die moderne volstruis; maar was reusagtig, tot 20 voet lank, en het op al vier bene geloop. Hulle was die voorouers van die reuse-dinosourusse wat hoofsaaklik in Oos-Afrika en Amerika aangetref word.
Die Pleistoseen was 'n betreklike kort tydperk van miljoen jaar. Die meeste Pleistoseendiere was groter as hulle lewende verteenwoordigers en sommige van die uitgestorwe tipes was in werklikheid reuse. Die vernaamste kenmerk van die tydperk is die verskyning van die Mens (Homo sapiens).
Die vernaamste fossielterreine van die vroeë Pleistoseentydperk is Olduvai Gorge (Tanganjika), Broken Hill (Zambië), Taung (Kaapland), Makapanvallei, Sterkfontein, Kromdraai en Swartkrans (Transvaal), Florisbad (naby Bloemfontein), Cornelia (Oranje-Vrystaat), die Vaalriviergruis en Hopefield (naby Saldahnabaai, Kaapland). Sommige van hierdie neerslae strek oor 'n lang tydsverloop en bevat selfs nog bestaande diere. Onder die bekendste fossieldraende neerslae van die laat Pleistoseen is die Matjiesrivier-grotskuiling (naby Plettenbergbaai, Kaapland), die Wonderwerkgrot (naby Kuruman) en die Vishoekgrot. Verskeie ander vindplekke bevat ook die geraamteoorblyfsels uit die tydperk tydens die laaste 30,000 jaar.
Die uitgestorwe groot diere van die Pleistoseen bestaan uit meer as 70 spesies, insluitende diere soos die Sivatherium, 'n kortnek, kortbeen giraf met lang, knobbelrige gedraaide horings; Stegolophodon en 'n aantal ander groot uitgestorwe olifantvorms; Homoioceras, 'n massiewe buffel met 'n horingspan van 12 voet; Mesochoerus, Tapinochoerus en ander reuse-bosvark en vlakvarkvorms; verskeie soort sabeltandtiere; leeus; grothiënas; verskeie vorms van sebra-agtige perde (Equus); reuse-hartbeeste en meer as 40 uitgestorwe bok-vorms.
Suidelike Afrika beskik oor een van die volledigste reekse in die evolusie van die Primaat (die Mens, ape, lemure, ens.). Van hierdie groep bevat die Pleistoseen baie uitgestorwe reuse-fossielbobbejane (bv. Parapaio, Simopithecus, Dinopithecus) en die beroemde aapmens of Australopithecines ('suidelike ape'), wat tot nog toe hoofsaaklik in Transvaal en by Taung in Kaapland gevind is.
Hierdie ondermenstipes bestaan uit twee groot groepe, Paranthtopus en Australopithecus, en hulle verskil soveel as wat die gorilla van die sjimpansee verskil. Onlangs is klipwerktuie gevind wat met die Australopithecus geassosieer word, maar dit is onwaarskynlik dat dit deur hulle vervaardig is. Hierdie werktuie is gemaak deur 'n 'meer menslike' tipe wat moontlik gehelp het om die Australopithecines uit te wis.
Die vroeë mens word onderskei van die fossiel-ape deur kenmerke soos groter breinomvang, 'n verskillende tandformasie en die skeletkriteria vir 'n regop houding asook sy vermoë om klipwerktuie te vervaardig. Bewyse wat gevind is, dui daarop dat die mens 600,000 jaar gelede naas die aapmens bestaan het. Die Australopithecines was gemiddeld 4 voet 6 duim hoog en het regop geloop en was 'n baie naby sytak van die regstreekse afstammeling van die mens. Sommige wetenskaplikes meen dat nog 'n Transvaalse vorm, Telanthropus, die oorgangstydperk tussen die Australopithecines en die ware Hominids gevul het.
Deur A.W. CROMPTON, D.SC. Suid-Afrikaanse Museum, Kaapstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.