Tuis » Taal » Ensiklopedie » Engelse letterkunde
Engelse letterkunde [boodskap #121758] |
Sa, 08 Desember 2018 19:21 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Engelse letterkunde in Suid-Afrika het sy ontstaan in die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795 toe Andrew Barnard, sekretaris van goewerneur lord Macartney, sy talentvolle vrou, lady Anne, met hom saamgebring het. Sy was 'n sjarmante gasvrou wat daarna gestreef het om vriendelik te wees teenoor alle bevolkingsgroepe in die land. Haar Letters en Journal is 'n lewende weergawe van die sosiale lewe van 'n verfynde koloniale tydperk. Sy het oor 'n warmte en natuurlike simpatie beskik wat ongewoon was in die meer sobere koloniste van die 1820-Setlaars. Saam met dié groep het nog 'n Skot, Thomas Pringle, gekom wat die beste beskryf kan word as 'n Christelike Sosialis. Pringle het naam gemaak as digter, opvoedkundige en polemis - 'n propagandis vir die emansipasie van slawe en die vryheid van die pers. Sy gedigte soos Evening Rambles en Afar in the Desert is beter bekend as sy Narrative of a Residence in South Africa. Sowel sy digkuns as sy prosa is verouderd in styl en van ongelyke letterkundige verdienste; wemel van morele sentiment en 18de eeuse beeldende frasering.
Die pioniertydperk van die 19de eeu het ten einde geloop met die werk van 'n geniale vrou. Olive Schreiner het die voordeel gehad dat sy 'n kind van die aarde was en intelligente ouers gehad het. The Story of an African Farm groei uit haar eensame selfontdekking op 'n Karooplaas waar sy op 18 jarige ouderdom as goewernante gewerk het. Dit was 'n gelukkige werk in die bevordering van Engels, maar het nie die belofte wat die skryfster ingehou het, tot volwassenheid laat kom nie. Haar ander romans was 'n mislukking en haar allegoriese stories, hoewel dikwels pragtig, was te skerp gemik en oorlaai met sienersboodskappe. Olive Schreiner se grootste werk is ongetwyfeld Thoughts on South Africa. Dit is 'n sosio-geskiedkundige werk wat oneindige insig, rassebegrip en profetiese vervulling openbaar.
Die 20ste eeu het plek gemaak vir 'n nuwe fase in die letterkunde in Suid-Afrika waarin die verbeelding begin het om waarneming te vervang. Aansienlike stukrag is gegee aan skeppende bedrywighede deur die belangrikheid van Uniewording in 1910 vir die volk. Suid-Afrikaanse letterkundige verenigings het ontstaan, maar die optimisme van hierdie solidariteit is verbreek deur politieke verdeeldheid. Hieruit het Afrikaanse letterkunde egter ontsaan. Die eerste dekades lewer twee boeke van pioniersaltruïsme op in sir Percy Fitzpatrick se Jock of the Bushveld en Kingsley Fairbridge se Story of Himself, boeke met die verdienste van eenvoud, opregtheid en manlikheid, maar kenmerkend van 'n adolessente volk.
Die eerste fiksiewerke gebore uit maatskaplike waarneming en menslike insig, is weer geskryf deur twee roman-skryfsters, Pauline Smith en Sarah Gertrude Millin. Eersgenoemde was die dogter van 'n Oudtshoornse dokter. Haar Little Karroo en The Beadle was pragtige en gevoelvolle studies van die landelike lewe wat sy leer liefkry het. Sarah Gertrude Millin het 'n ander stempel gedra; 'n gees wat nugter wakker was, veral vir maatskaplike probleme; saaklik en fors in haar lewenskrag en styl. Romans, gebaseer op noulettende studie en bepeinsing soos God's Stepchildren, Mary Glerm, The King of the Bastards, is kragtige, roerende en kompromislose boeke, waarheidsgetrou soos net die waarnemende gees dit kan doen. Toe sy hierdie fase voltooi en ywerig haar latere dissipline as 'n dagboekskrywer bereik het, het mev. Millin 'n begaafde biograaf en memoir-skryfster geword. Daar is goeie resensente wat haar War Diaries en The Measure of my Days bo haar maatskaplike fiksie verkies.
Die kragtiger prosa gaan gepaard met die openbaring van 'n merkwaardige en ietwat egosentriese persoonlikheid.
Mev. Millin het in die letterkunde die weg gebaan vir die ernstiger kunstenaar, en haar volgelinge in sowel fiksie as die digkuns, het die vrugte gepluk, nie altyd in harde kontant nie, maar van ware kritiese goedkeuring. Hulle is H.C. Bosman, Stuart Cloete, Alan Paton, Lawrence Green, Laurens van der Post, Peter Abrahams, Daphne Rooke, Nadine Gordimer, Dan Jacobson, Francis Carey Slater, Roy Campbell, Uys Krige en Anthony Delius. Selfs die alleenstaande figure van Frank Brownlee en Guy Butler was alles behalwe beroepskrywers, afgesien van die tye wat hulle in staat was om hulle aandag te wy aan skeppende skryfwerk. Campbell en Bosman was elkeen op sy gebied die wilde manne van die dertigerjare. Maar waar The Flaming Terrapin, Adamastor, Flowering Reeds en The Wayzgoose beskik het oor die tegniese kundigheid van die poësie om hulle oorwelwende ambisie en toevallige hoogdrawende taal te versag, het Mafeking Road homself laat geld deur die nuwe forsheid van sy prosa en sy kragtige, maar onrype begrip van karakter.
In die jare sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika in Engels 'n kragdadiger en meer onderskeidende letterkunde gelewer. Fiksie is grootliks in beslag geneem deur die rassekwessie; Paton met sy diepe tragedie, Abrahams en Jacobson met sy onmenslikheid en onregverdigheid. Paton het tereg die invloedrykste aanhang, nie omdat hy minder verontwaardig is nie, maar omdat sy diepsinniger geestelike gehalte statigheid en wysheid verleen aan die begrip van sy werk as skeppende kunstenaar. Cry, the Beloved Country moet saam met The Story of an African Farm geklassifiseer word as die kragtigste fiksiewerke wat nog in die land gelewer is. Paton kon moontlik ook net so geslaag het met sy Too Late the Phalarope as sy publiek meer waarderend gereageer het op sy tema en sy styl van aanbieding.
Die stamlewe van die Suid-Afrikaanse Bantoe in sy landelike primitiwiteit word nêrens so pragtig en opreg geopenbaar in die romanvorm as in Frank Brownlee se Cattle Thief nie. Dit word deur Richard Garnett beskryf as "'n klein klassieke werk wat sal voortleef".
Die ander groot boek van die na-oorlogse dekade is Van Der Post se Venture into the Interior, uniek in sy mengsel van beskrywende krag, filosofiese insig en diepgaande liefde vir dit wat net beskryf kan word as die 'siel van Afrika'. Nadine Gordimer, geslaagde skrywer van die kortverhaal, verstaan en beskryf met eweveel raakheid in Six Feet of Country en The Lying Days die hart van die groot stad, Johannesburg. Een van Suid-Afrika se meesterstukke wat ten onregte verontagsaam is, is Elizabeth Charlotte Webster se The Expiring Frog. Net Paton het in sy simpatieke resensie die aandag gevestig op die geweldige kragtige tema van vroulike broosheid.
Deur Professor A.C. PARTRIDGE, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sa Nov 23 09:53:12 MGT 2024
|