Basoeto’s [boodskap #121106] |
Do, 22 November 2018 19:51 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Die Basoeto is 'n stam insluitende sowel die Transvaal- as Mosjesj-Basoeto. Eersgenoemde woon in Noord-Transvaal, maar die meeste woon in Lesotho, die bergagtige gebied tussen die Oranje-Vrystaat, Noord-Kaapland en Natal. Die Basoeto vind sy oorsprong in oorblyfsels van ander stamme wat versprei is deur die oorloë en strooptogte van die Zoeloes onder koning Tsjaka. In omstreeks 1822 het Mosjesj (hoof van die Bakuna-stam) hulle byeengebring en 'n vesting op die kruin van Thaba Bosigo (ook gespel Thaba Bosiu) gebou. In 1824 het hy na raming sowat 21,000 volgelinge gehad. Hy het nog 'n tyd lank trou gesweer aan Tsjaka. Op die ou end was hy egter sterk genoeg om sy aanslae af te weer en het daarna ongestoord gebly. Aangehelp deur hulle onaantasbare posisie in die berge het die Basoeto gou tot 'n eie stam ontwikkel. Hulle het perde van die grensboere gesteel en was aansienlik intelligenter as die meeste ander stamme. Hulle eie gewoontes sluit in die dra van strooihoede.
Franse Protestantse sendelinge het in 1831 in Basoetoland aangekom, en later is sendelinge van die Katolieke en ander kerke ook toegelaat om hulle werk voort te sit, maar sonder om die onafhanklikheid van die stam in gedrang te bring. Die getalle van die Basoeto het snel vermeerder en 'n botsing met die blanke veeboere wat sedert die 1820's die vrugbare vallei van die Caledon binnegetrek het was onvermydelik. Die militêre en diplomatieke vernuf van Mosjesj het die pogings van sowel die Britte as die Boere in die Vrystaat gefnuik om hom te onderwerp. In 1852 het die Basoeto's 'n Britse mag in die Slag van Berea verslaan en in 1858 wen hulle ook 'n stryd teen die Vrystaters. Na 'n tweede oorlog met die Boere verklaar Mosjesj homself in 1868 'n Britse onderdaan. Die volgende 12 jaar is Basoetoland feitlik deur die Kaapkolonie bestuur, maar die onoordeelkundige ontwapeningsbeleid van 1879 lei tot die Geweeroorlog en uiteindelik in 1884 tot die herinstelling van Basoetoland as 'n gebied onder 'n resident-kommissaris, regstreeks bestuur deur die Britse regering.
Onder die sogenaamde Verdragstelsel is in 1843 ’n bondgenootskap tussen die Basoeto en die Koloniale regering gesluit, maar met die proklamering van die O.R.S. (Oranjerivier-Soewereiniteit) is hul onder indirekte Britse bestuur geplaas en is vir die eerste keer aan hul uitbreiding paal en perk gestel, wat gelei het tot botsings met Britse troepe te Viervoet en Bereaberg. Ná 1854 het die Basoeto as outonome volk verregaande aansprake op Vrystaatse grond gemaak en met roof- en plundertogte tot die eerste Basoeto-oorlog van 1858 - 59 aanleiding gegee. Met die Verdrag van Aliwal-Noord (1859) is grond aan die Basoeto afgestaan. Hernude pogings om hul grondgebied te vergroot, loop uit op die tweede Basoeto-oorlog (1865 - 66) waardeur die Basoeto ’n veel groter gebied met die Verdrag van Thaba Bosigo aan die Vrystaat moes afstaan. Omdat hulle weier om die gebied te verlaat, breek die derde Basoeto-oorlog (1867) uit, maar in 1868 word aan Mosjesj se versoek voldoen om Basoetoland tot Britse gebied te verklaar. Met die tweede Verdrag van Aliwal-Noord is ’n deel van die sogenaamde Verowerde Gebied aan die Basoeto terugbesorg. Ten spyte van die O.V.S. se proteste is Basoetoland in 1871 by die Kaapkolonie ingelyf en in 1884 tot Britse protektoraat verklaar.
Die Basoeto's het 'n arbeidsbron geword vir die Vrystaat, die goudmyne van die Rand en ander dele van die land. Hulle het nog 'n opperhoof en het sedert 1910 hulle eie Nasionale Raad, wat in 1960 groter magte ontvang het. Op 4 Oktober 1966 is die onafhanklike koninkryk van Lesotho in die lewe geroep.
Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
-
Aanhangsel: basoeto.jpg
(Grootte: 50.98KB, 321 kere afgelaai)
|
|
|