Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bantoevolke van Suidelike Afrika
Bantoevolke van Suidelike Afrika [boodskap #121098] |
Do, 22 November 2018 14:17 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Die inboorlingvolke van Suidelike Afrika, onlangse Blanke en Asiatiese immigrante uitgesluit, behoort aan een van twee heeltemal verskillende etnologies-taalkundige rasse, die Khoisan (of Boesmans en Hottentots) en die Bantoe. 'n Derde baie klein groep is die Bergdama van Namibië (Suidwes-Afrika) wat net soos die Bantoe van Neger-afkoms is, maar 'n Nama-Hottentot-dialek praat.
Die Bantoevolke is versprei oor die grootste deel van Afrika besuide die sogenaamde 'Bantoelyn', 'n swakgedefinieerde grens met baie ongerymdhede, wat loop van Berg Kameroen aan die weskus tot benoorde die Kongorivier en die Victoria-meer, en vandaar tot by die ooskus naby die mond van die Tanarivier, noord van Mombasa.
Bantoevolke kom ook voor op aanliggende Afrika-eilande, insluitende die Comoros en die noordweskus van Madagaskar. Die Bantoe is gevolglik sowel numeries as geografies die belangrikste etnologies-taalkundige groep in Afrika.
Die term Bantoe is taalkundig en word gebruik vir 'n groep mense wat 'n besondere soort taal praat. Daar is altesaam sowat 250 Bantoetale, dialekte uitgesluit, wat besuide die 'Bantoelyn' gepraat word.
Drie groot verdelings van die Bantoevolke van Afrika, Westelike, Oostelike en Suidelike, is erken op die basis van geografiese verspreiding en kulturele en historiese faktore. Vir die huidige doeleindes is 'n etnologies-taalkundige indeling nuttiger, aangesien mense van dieselfde etniese ras met weinig uitsonderings, tale of dialekte van dieselfde taalkundige groepering praat.
In Suid-Afrika is daar vier hoof etnologies-taalkundige Bantoegroepe, Nguni, Sotho, Venda en Sjangaan-Tsonga. Die Nguni-groep sluit in Zoeloe (Natal), Xhosa (Oos-Kaap), Swazi (Swaziland en Oos-Transvaal) en twee afdelings van die Ndebele in Transvaal (distrikte Potgietersrust en Pretoria-Middelburg). Die Ndebele (Matabele) van Zimbabwe (Rhodesië) en die Ngoni-stamme in Njassaland (Malawi) en Tanganjika (Tanzanië) is ook van Nguni-afkoms.
Die Sotho-groep sluit in die Suid-Sotho van Basoetoland, Oos- en Sentraal-Oranje-Vrystaat en Suid-Transvaal; die Noordelike (Pedi) van Sentraal-Transvaal; Tswana van Botswana, Wes-Transvaal, die Westelike Oranje-Vrystaat en Noord-Kaapland; Kgalagadi van die Kalahari-woestyn, Betsjoeanaland; en 'n aantal kleiner stamme in Noord- en Oos-Transvaal, insluitende die Lovedu, Phalaborwa, ens. Die Lozi of Rotse van Barotseland, Zambië, is ook van Sotho-afkoms en hulle taal 'n soort Sotho.
In die distrikte Louis Trichardt en Sibasa van Noord-Transvaal word die Venda aangetref; 'n klein groepie wat die Lemba insluit, maar wat sonder enige onderverdelings is. Die Sjangana-Tsonga-groep sluit in die Sjangaans van Oos-Transvaal en 'n aantal stamme in die suidelike deel van Portugees-Oos-Afrika, die Tsonga, Ronga en Tshwa. Nog 'n klein groepie in die gebied is dié van Inhambane, wat die Chopi en (gi)Tonga insluit.
Behalwe die Ndebele waarna hierbo verwys is, is Rhodesië die tuiste van die Sjona-groep (Sesuru, Karanga, Korekore, ens.), met sytakke in Noordoos-Betsjoeanaland (Lilima en Kalanga), en in Sentraal-Portugees-Oos-Afrika (Ndau en Manjika). Benoorde hierdie groepe in Portugees-Oos-Afrika is die Sena-, Makua- en Yao-groepe. In Malawi is die oorheersende groep die Njanja, wat ook in aanliggende gebiede in Zambië en Portugees-Oos-Afrika voorkom. Ander groepe in Malawi is die Tumbuka-Kamanga en Njakjusa.
In Zambië is die twee grootste groepe die Bemba, insluitende die Ushi, Bisa, Lala en Lamba; en die Tonga, saam met die Ila, Lenje en Soli. Ander kleiner groepe aan die oostelike en noordoostelike grense is die Nsenga en Kunda, die Mambwe en Lungu, die Cewa van Njanja-afkoms en die Senga van Tumbuka-afkoms, laasgenoemde twee is albei uitbreidings van Malawi in Zambië. Op die westelike kant is daar behalwe genoemde Lozi ook die Luvale, Luchazi, Chokwe, Lunda en Ndembo in een groep wat na Angola uitbrei; die Luba-groep wat suidwaarts uitsprei van die Kongo, sluit in Kaonde, Mbwela en Nkoja; en die Subija-groep, insluitende die Totela, Simaa, Sjanjo, Kwangwa, Mashi en Kwandi. Die laaste groep - waarvan ons min kennis dra - kom ook voor in aanliggende gebiede in Angola, Suidwes-Afrika (Caprivistrook) en Botswana.
Ten slotte word Suidwes-Afrika in die noordelike helfte bevolk deur die Herero, Kwanjama, Ndonga, Kwangali en ander stamme, almal nou verwant en verbonde aan die (u)Mbundu, Njaneka en ander stamme van Angola, en aan die Yeei, Gcereku en Mbandieru van Botswana.
Hierdie kort oorsig is noodsaaklikerwys oppervlakkig en onvolledig, net soos ons kennis van die Bantoevolke en hulle tale. Selfs binne 'n paar honderd myl van groot universiteitsentrums soos Johannesburg en Pretoria is stamme waarvan ons niks meer weet as hulle naam nie, en selfs dit is miskien nie eens korrek nie. 'n Groot navorsingsveld lê braak op dié gebied en wag op fondse en die belangstelling van gekwalifiseerde personeel.
Deur PROFESSOR D.T. COLE; Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Do Nov 21 14:38:27 MGT 2024
|