Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Atoomkrag (Atoomenergie)
Atoomkrag [boodskap #121015] Wed, 14 November 2018 05:31
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Kernreaktor. Die blou gloed is die gevolg van Tsjerenkof-straling.
'n Kernreaktor. Die blou gloed is die gevolg van Tsjerenkof-straling.
Atoomkrag (of kernkrag) is die energie wat deur middel van beheerde, nie-plofbare kernreaksies geproduseer word. Die eerste kernkragsentrale op die vasteland van Afrika was Koeberg in die Wes-Kaap wat in 1984 in bedryf gestel is. Koeberg se tweede reaktor is die daaropvolgende jaar in bedryf gestel.

Die gewig van ’n atoomkern van elke element met ’n atoomgetal hoër as 1 is altyd minder as die gesamentlike gewig van die protone en neutrone waaruit dit saamgestel is. Die skynbare verlies van gewig is in werklikheid omgesit in energie, genoem die bindingsenergie. Wanneer ligter atoomkerne saamgevoeg word onder invloed van ontsaglike warmte, soos in die H-bom, word die bindingsenergie vrygestel en die massa word kleiner. Omgekeerd: wanneer baie swaar atoomkerne soos dié van uraan opgebreek word in eenvoudiger elemente, word daar ook bindingsenergie vrygestel ten koste van die massa. Die hoeveelheid energie wat vrygestel word, kan bereken word volgens die vergelyking van Einstein: E=MC2, waarin E=energie in ergs, M=massa wat verdwyn, C=ligsnelheid in cm. per sek. (=30,000,000,000). Bv.: As 1 gram (1/26 ons) helium gevorm sou word uit protone en neutrone, sou daar ’n verlies van .0075 gram massa wees. Vermenigvuldig met C2 gee dit 650 miljoen biljoen ergs energie, genoeg om 200,000 gloeilampe van 100 watt elk 10 uur te laat brand - en dit vir ’n massaverlies van 3/400 van van ’n gram. In die geval van die swaar atoomkerne word die opbreking aan die gang gesit deur beskieting met neutrone. Die kern van uraan-238 (sien Isotope) met 92 protone en 146 neutrone (sien Materie) breek by beskieting met ’n neutron op in barium (56 protone, 82 neutrone) en kripton (36 protone, 47 neutrone) terwyl 18 neutrone vrygestel word (1 neutron waarmee beskiet is, kom by). Die vrygestelde neutrone beskiet ander uraankerne en so word ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat vinnig toeneem omdat daar so baie neutrone vrygestel word. Die reaksie is so vinnig dat dit feitlik onmiddellik is. Daarby is die bindingsenergie van barium en kripton veel groter as dié van uraan, m.a.w. daar is ’n betreklik groot verlies van massa in die proses en ’n ooreenkomstig groot vrystelling van kinetiese energie volgens die vergelyking van Einstein. 'n Ontsettende ontploffing soos by die atoombom is die gevolg met geweldige hitte en die vrystelling van uiters gevaarlike gammastrale. Atoomsuile word so ingerig dat sommige van die vrygestelde neutrone opgevang word met die gevolg dat die kettingreaksie vertraag word en dus nie tot ’n ontploffing lei nie. So kan die energie wat vrygestel word nuttig gebruik word.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Atoomkrag is die liggaam wat beheer uitoefen oor kernkragmateriaal in S.A., wat een van die grootste produsente van sodanige materiaal in die wêreld is. Die Raad het afdelings vir geologie en fisika en ’n laboratorium wat navorsing doen omtrent die voorkoms in S.A. van afsettings van uraan en verwante "voorgeskrewe" stowwe, die ontginning daarvan, die meet van radioaktiwiteit, meetinstrumente en die aanwending van keenkrag vir vredesdoeleindes. Die Raad bestaan uit die minister van mynwese as voorsitter, ’n ondervoorsitter, die sekretarisse van mynwese en van buitelandse sake, 2 verteenwoordigers van die uraanbedryf en een verteenwoordiger elk van die handel, die nywerheid, die Wetenskaplike en Industriële Navorsingsraad, die E.V.K., die S.A. Mediese Raad en nog ’n sakeman.

As een van die wêreld se groot produsente van uraan is Suid-Afrika in 'n voordelige posisie om atoomkrag te ontwikkel, wat aanvanklik verhoed is omdat plaaslike steenkool so goedkoop is. Die Raad op Atoomkrag is in 1948 ingestel. Navorsing het aan die Universiteit van die Witwatersrand begin wat 'n navorsingseenheid vir kernfisika in 1957 in die lewe geroep het. Nou is dit toegerus met 'n Cockcroft-Walton-versneller, terwyl die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad die eerste siklotron in die Republiek verkry het. Navorsingsreaktors is in 1965 naby Pelindaba, 18 myl wes van Pretoria geïnstalleer teen 'n koste van meer as R 10,000,000 en 'n versneller naby Faure, Kaapland. Laasgenoemde word gesamentlik bedien deur die Universiteite van Kaapstad en Stellenbosch. Planne is opgestel vir die oprigting van kernkragstasies in gebiede ver van steenkoolbronne, insluitende Wes-Kaapland en Namibië (Suidwes-Afrika).

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Atletiek
Volgende onderwerp: Argeologie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Tue Dec 03 18:45:53 UTC 2024