Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Atletiek
Atletiek [boodskap #121014] Tue, 13 November 2018 20:08
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die 200m-naelloop.
Die 200m-naelloop.
Atletiek verwys na verskeie sportaktiwiteite waarin deelnemers hardloop, spring of voorwerpe gooi. Die naam is afgelei van die Griekse woord, "athlon", wat "kompetisie" beteken.

Atletiek is voor Christus al tot mededingende sport ontwikkel deur die Grieke wat die Olimpiese Spele gehou het. Die basiese grondslag van atletiek het deur die eeue dieselfde gebly: hardloop, stap, spring en gooi. Moderne atletiek het sy oorsprong vroeg in die 19de eeu in Engeland waar 'n byeenkoms in 1850 deur die Exeter College Club gereël is. In 1864 het die eerste atletiekwedstryd tussen die universiteit van Oxford en Cambridge plaasgevind (die oudste atletiekwedstryd in die wêreld) en 2 jaar later is die eerste Engelse kampioenskappe gehou.

Atletiek in Suid-Afrika kan teruggespoor word tot die sportinstinkte van die Britse garnisoen in die Koloniale tyd, maar dit is eers met die stigting van seunskole in Kaapland, Natal en die Oranje-Vrystaat dat daar met ernstige afrigting begin is. Belangrike klubs, soos Wanderers in Johannesburg en Ramblers in Bloemfontein dien as groter aanmoediging. In 1894 is die Suid-Afrikaanse Amateur Atletiekvereniging gestig, en die eerste kampioenskapsbyeenkomste is gehou. Sedertdien het Suid-Afrikaanse atlete uitgeblink in plaaslike en internasionale sport.

Suid-Afrika was een van die 16 lande wat van 20 tot 23 Augustus 1913 in Berlyn verteenwoordig was by die stigting van die Internasionale Amateur-Atletiekfederasie. J. Sigfrid Edstrom (Swede) was die eerste voorsitter; hy is in 1946 opgevolg deur lord Burghley (Brittanje). Die Internasionale Federasie beheer atletiek in meer as 90 ledelande en amptelike wêreldrekords word in sowat 86 atletiek-nommers erken (65 vir mans en 21 vir vroue).

Vroue neem sedert 1928 aan atletiek by die Olimpiese Spele deel. Atletiek word sedert ongeveer 1875 in S.A. beoefen. Die S.A. Amateur-Atletiekvereniging is op 26 Maart 1894 in Johannesburg gestig en die eerste S.A. kampioenskappe is op 24 en 26 Maart 1894 op die ou Wanderersbaan in Johannesburg gehou. In 1905 is atletiek en fietsry in S.A. in een vereniging saamgesmelt en in 1958 is die twee sporte geskei.

Suid-Afrika is een van min lande wat al ’n eerste en ’n tweede plek behaal het in ’n Olimpiese marathon. Dit was o.a. in 1912 in Stockholm toe K.K. McArthur die 26 myl 385 tree in 2 uur 36 min. 54,8 sek. gehardloop het. Chris Gitsham, ook van S.A., was tweede in 2 uur 37 min. 52,0 sek. Daar was geen marathon-wedloop op die ou Griekse Spele nie. 'n Fransman, Michel Bréal, het voorgestel dat die marathon ingestel word om die heldedaad van Pheidippides te herdenk.

Die opvallendste verskynsel van internasionale atletiek in die afgelope dekades is die verskuiwing van die atletiekkrag van sekere lande. In die modern tydvak het die V.S.A. nog altyd die toon aangegee; maar die eertydse atletiekglorie van die klein Skandinawiese lande Finland en Swede voor Wêreldoorlog II is na die oorlog deur lande soos Rusland, Australië en die midde-Europese lande soos Hongarye en Pole oorgeneem. Van al die dosyne merkwaardige atletiekhelde van die twintigste eeu kan die volgende ses (in alfabetiese orde) uitgesonder word as die heel grootstes:

Gundar Hagg (Swede): van 1941 tot 1945 15 amptelike wêreldrekords oor 1,500 meter tot 5,000 meter; sy wêreldrekord oor een myl (4 min. 1.4 sek.) het 9 jaar gestaan.

Fanny Blankers-Koen (Nederland): wenner van 4 Olimpiese goue medaljes in 1948 en houer van 9 wêreldrekords in hardloop, hekkies, hoogspring en die vyfkamp.

Robert Bruce Matthias (V.S.A.): enigste atleet wat die Olimpiese tienkamp twee keer gewen het, eers as 17-jarige skoolseun in 1948 en daarna in 1952. Hy is nooit in die veeleisende tienkamp geklop nie. Die tienkamp word oor twee dae beslis in 100 meter, verspring, gewigstoot, hoogspring, 400 meter, 110 meter-hekkies, werpskyf, paalspring, spiesgooi en 1,500 meter.

Paavu Johannes Nurmi (Finland): hierdie "Vlieënde Fin" het sewe Olimpiese goue medaljes gewen en tussen 1921 en 1930 vyftien amptelike wêreldrekords oor afstande van 1,500 meter tot 20,000 meter opgestel.

James Cleveland (Jesse) Owens (V.S.A.): 4 Olimpiese goue medaljes, Berlyn 1936. Binne 75 minute het hy op 25 Mei 1935 drie wêreldrekords opgestel en een geëwenaar.

Emil Zatopek (Tsjeggo-Slowakye): 3 Olimpiese goue medaljes in 1952 (met inbegrip van die marathon) en een goue medalje in 1948. Tussen 1949 en 1955 het hy agttien amptelike wêreldrekords opgestel.

'n Aantal belangrike gebeurtenisse: Roger Gilbert Bannister (Brittanje) eerste die een myl in minder as 4 minute gehardloop (1954); Charles Dumas (V.S.A.) eerste hoër gespring as 7 vt. (1956); Melvin Patton (V.S.A.) eerste 100 tree in wêreldrekordtyd van 9.3 sek. gehardloop (1948); Cornelius Warmerdam (V.S.A.) eerste hoër as 15 vt. in paalspring behaal (1940); Yolanda Balas (Roemenië) eerste vrou wat 6 vt. hoog gespring het (1958). Teen 1958 het die Australiër Herbert Elliot die een myl al tien keer in minder as vier minute gehardloop; in 1962 behaal John Uelses v/d V.S.A. 16 vt. ¾dm. in die paalspring.

S.A. atlete wat goue medaljes by die Olimpiese Spele verower het sluit in: R.E. Walker; K.K. McArthur; B.G.D. Rudd; S.J.M. Atkinson; Esther Brand (Van Heerden).

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Athlone-Meer
Volgende onderwerp: Atoomkrag
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Tue Dec 03 18:39:56 UTC 2024