Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Aap
Aap [boodskap #120991] Ma, 12 November 2018 17:49
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Kaapse bobbejane
Kaapse bobbejane
Ape is primate, 'n orde van soogdiere waaraan ook halfape en mense behoort. Die mens stam nie van ape af nie, maar baie miljoene jare gelede het hy waarskynlik aan dieselfde ras behoort (kyk Ewolusie). Daar is net drie families van ape in Suid-Afrika:
1. die boomape (Cercopithecidae) waarvan die blou-aap die algemeenste is;
2. die bobbejaan; en
3. die lemur of vosaap.

Daar is duidelike verskille merkbaar tussen die ape van Afrika, Indië en verder ooswaarts, en die van Sentraal- en Suid-Amerika. Die ape van die Ou Wêreld se neusgate sit naby mekaar, en baie van hulle het helder gekleurde stukke vel op hulle gesigte en sitvlakke. Bobbejane vertoon dikwels helder blou en rooi kleure. Hulle woon in geselskappe in rotsagtige streke en loop hande-viervoet. Die ou mannetjies is baie kwaai. Blouapies, die langlywige witoogape, of slankape, en die mangabei’s is bekende Ou-Wêreldse ape. Die ape van die Nuwe Wêreld het platgedrukte neusgate wat ver vanmekaar sit, en grypsterte waaraan hulle kan hang. Slingerape, brulape en mantelape is tipies van Suid-Amerika. Syapies is baie primitiewe klein apies. Lemurape, wie se tuiste in Madagaskar is, is die laagste vorms. Hulle is baie klein, met yslike oë en ore, en is snags bedrywig. Klein Suid-Afrikaanse nagapies is oulike diertjies as hulle mak gemaak is.

Die aap is 'n lid van ’n onderorde Anthropoidea (of Lemuroidea in die geval van die nagapie) van die hoogste ontwikkelde soogdiere, die primate, waartoe ook die mens behoort. In teenstelling met die ander primate is die oogkas van die aap deur ’n beenplaat geheel en al van die slaapwyk afgeskei, die tweede vinger van die hand altyd goed ontwikkel en het die tweede toon van die voet nes die ander tone ’n plat nael i.p.v. ’n skerppuntige nael of klou. Die brein is sterk ontwikkel, die hoogste by die mensape. Die onderorde is verdeel in 4 families: in die Nuwe Wêreld die breëneusige ape (Cebidae), kapusynerape en die klouape (Callithricidae), in die Ou Wêreld die smalneusape (Cercopithecidae) wat al die ander ape behalwe die mensape insluit, en die mensape (Pongidae of Simiidae).

Ape van die Nuwe Wêreld:

Hul neusgate lê uitmekaar (vandaar ook platneusape genoem), hul het geen eeltkussings op die sitvlak nie en sommige het ’n grypstert, iets wat by die ape van die Ou Wêreld nooit voorkom nie. Die meeste soorte behoort tot die familie Cebidae waarvan die verteenwoordigers almal 4 kiestande meer het as die ape van die Ou Wêreld wat net soveel het as die mens. Die wysvingers dra ’n plat nael en nie ’n gekromde skerppuntige nael of klou nie. By enkeles ontbreek die duim geheel en al. Van die bekendste van die iets meer as 100 soorte van dié familie is:

Die DOEROECOELIS (Aotes), klein, sowat 30 cm. lank met ’n stert ca. dieselfde lengte, die lang, ruie haarbedekking grys en bruin gespikkeld, klein oortjies en groot oë wat toon dat hulle nagdiere is.

Die TITI’S (Callicebus), verwant aan die vorige en omtrent net so groot, maar met kleiner oë. Albei kom in die bosse van Brasilië voor. Hulle het nie ’n grypstert nie, en die duim is goed ontwikkeld.

Die SAKI’S (Chiropotes) het ’n digte, breë baard en op die kruin ’n soort mus van hare wat vorentoe lê.

Die OEKARI’S (Cacajao) het ’n ylbehaarde kop in teenstelling met die baie lang hare van die res van die liggaam, en verskil van al die ape van die Nuwe Wêreld deur hul kort, ylbehaarde stert. Die WIT OEKARI (Cacajao calvus) het ’n vuurrooi gesig, terwyl die hele liggaam bedek is met syagtige, lang, liggeel hare.

Die bekendste van al die Amerikaanse ape is die BRULAPE, bv. die mees bekende ROOI BRULAPE (Alouatta seniculus). Hulle vernaamste eienaardigheid is hul kragtige stem. Die onderkaak is wyd uitgeset en die keel uitgeswel om ruimte te verskaf aan die vergrote tongbene wat ’n klankbodem vorm. Hierdie groot rooiagtige of strooikleurige ape met goed ontwikkelde duim en lang grypstert wat aan die punt onbehaard is, het die gewoonte om in die toppe van bome 'n gebrul aan te hef wat ver gehoor kan word.

Die KAPUSYNERAAP (Cebus) wat van Mexiko tot Paraguay in tal van soorte voorkom, is klein bruin apies met 'n lang voluit behaarde grypstert en ’n goed ontwikkelde duim. Die gewoonste soort word dikwels deur draaiorrelspelers gebruik vir die vermaak van straatgehore.

Die SAIMIRI’S (Saimiri) in die meeste oerwoude van Suid-Amerika, is kleiner as die kapusyners en lewendig gekleur. Die bekendste soort is die doodshoofapie.

Die SLINGERAPE (Ateles-soorte) is slanke ape met lang pote en ’n grypstert wat selfs gebruik word om voedsel soos vrugte en blare na die mond te bring.

Die WOLAAP (Lagotlirix) is plomper gebou met gelykmatig grys, wollerige haarbedekking.

Die KLOUAPE (Callithricidae) kom net in die oerwoude van Suid- en Midde-Amerika voor. Hulle is nie groter as eekhorinkies nie en word gekenmerk deur die besit van skerppuntige klounaels i.p.v. plat naels, behalwe op die eerste toon wat baie klein is. Die duim is klein en nie opponeerbaar nie. Die bekendste soort, die Oeïstiti, met waaiervormige wit pluime op die ore, word dikwels as troeteldiere aangehou. Die kleinste van alle egte ape is Cebuella pygmaea waarvan die kop en romp saam 15 cm. lank is.

Ape van die Ou Wêreld:

Daar is 2 families: Pongidae (mensape) en die Cercopithecidae wat al die orige ape omvat. By almal is die neusgate altyd naby mekaar (smal-neusape); hulle het geen grypstert, soms selfs geen stert nie, en altoos 32 tande insluitende die kiestande soos die mens. Baie soorte het eeltkussings op die sitvlak, en die duim is, indien aanwesig, altyd opponeerbaar. Dikwels het hulle wangsakke om hulle voedsel in te prop. Die Cercopithecidae word onderverdeel in 2 taamlik verskillende groepe: (1) (a) MAKAKE, (b) MANGABEIS, (c) BOBBEJANE en die (d) BLOU-AAP-GROEP, en (2) (a) LANGOERS of slankape en (b) GUEREZAS. By (1) is daar ’n enkelvoudige maag, ’n hand met 5 vingers, wangsakke en ’n lang of kort stert.

1 (a) MAKAKE is die bekendste ape van die Ou Wêreld. Hulle kom voor van Japan af, oor Asië tot in Ceylon. Een soort, die MAGOT (Macaca inuua) bewoon ’n afgesonderde gebied, nl. Marokko in Nood-Afrika, en kom ook voor op die rotse van Gibraltar waarheen hy waarskynlik ingevoer is. Die meeste makake is bruin, kleinerige diere, effens groter as ’n groot Persiese kat. By die gewone RHESUS-AAP (Rhesus) is die stert half so lank as die kop en romp saam.

Die BAARD- of LEEUSTERT-AAP (Macaca silena) van Voor-Indië is swart, het ’n maanhaar wat weerskante van die kruin tot by die ken loop en die voorkoms van ’n volbaard het en ’n pluimstert (vandaar leeustert-aap).

Die LAPOENDERAAP (Macaca fuscata) het ’n kort stert. Alle makake is lawaaierig, vrypostig en brutaal, en in digbevolkte streke doen hulle groot skade aan tuine en landerye.

1 (b) MANGABEIS (Cercocebus) kom voor van Sierra Leone tot in Kenia. Wat gebit betref, kom hulle ooreen met die makake, maar hulle is groter, het langer pote en stert, en die eeltkussings is ineenvloeiend. Oor die algemeen is hulle swart, bruinerig of grys, maar die Wes-Afrikaanse MUSMANGABEI (Cercocebus torquatus) het 'n rooi kruin en ’n wit nek. Hulle leef in groot troppe in die toppe van bome, eet vrugte en kom net af en toe grond toe.

1 (c) BOBBEJANE, met inbegrip van die MANDRIL en die GELADA (tsjelada): grootste onder die Afrikaanse Cercopithecidae: almal het ’n lang, hondagtige kop en ewe lang voor- en agterpote wat n aanpassing is by die lewe op die grond. Die eeltkussings is gewoonlik groot en helder gekleur. Die bobbejane is beperk tot Afrika behalwe die MANTELBOBBEJAAN (Papio hamadryas) wat ook voorkom in Suiwes-Arabië. Hulle is egte alleseters en voed hul met graan, vrugte, insekte, skerpioene en allerlei ander kleiner diertjies.

Die Kaapse bobbejaan (Papio ursinus) is ’n bewoner van rotsagtige bergklowe en steil berghellings. Hy beskik oor ’n listigheid en vernuftigheid wat hom in staat stel om sy bestaan in die woongebied van die mens te handhaaf ondanks alle pogings om hom uit te roei. In groot troppe sak hulle soms toe op tuine en landerye; doen groot skade in ’n kort tydjie, want in hulle groot wangsakke stop hulle baie meer voedsel as wat hulle in daardie kort besoek kan opeet.

In die oerwoude van die gebiede rondom die Golf van Guinee neem die kleurryke MANDRIL (Mandrillus sphinx) die plek in van ons gewone bobbejaan. By GELADA (Theropithecus gelada), met die neusgate nie heeltemal op die punt van die snuit nie, vorm die oorvloedige hare van skouers en nek ’n maanhaar nes by die mantelbobbejaan uit Noordoos-Afrika en Suidwes-Arabië, ’n dier wat die ou Egiptenare as heilig beskou het en dikwels afgebeeld het op hul grafte en monumente.

1 (d) BLOU-AAP: talryke soorte wat oor die hele Afrika versprei is. Hulle het almal lang sterte, kort snuit, slanke liggaamsbou, duidelike eeltkussings en is middelmatig groot. Hulle vorm soms groot troppe in die digte oerwoude en in so ’n trop kom daar individue van verskillende soorte voor, sommige baie kleurryk. Die bekende S.A. BLOU-APIE (Cercopithecus aethiops) lewe in troppe in meer ope terreine, bosryke streke, langs riviere en langs die kus, van sade en vrugte, insekte en hul larwes en spinnekoppe. Hy is geelagtig tot groenagtig grys, effens donkerder aan die buitekant van die pote en gedeelte van die stert. Wenkbrouhare, ’n bakkebaard oor wange en ken, die binnekant van die pote en die ondersy is wit maar effens geel getint; hande, voete en gesig is swart. Verspreidingsgebied van Swellendam langs die kus tot Zoeloeland.

Cercopithecidae Afd. (2): (a) LANGOERS of SLANKAPE en (b) GUEREZAS. Almal het ’n samegestelde maag wat ongetwyfeld in verband staan met hul voedsel wat, meer as by ander ape, van suiwer plantaardige aard is, en hoofsaaklik uit blare bestaan. Trouens in liggaamsbou, lewenswyse en geaardheid verskil hulle van die orige ape. Hulle het geen wangsakke, soms geen duim en, met een uitsondering, altyd ’n lang stert.

(a) SLANKAPE is tuis in Indië, Ceylon en Suid-Oos Asië. Bekend is die HOELMAN (Presbytis entellus) uit die Noorde van Indië en die HOEDAAP (Pithecus sinicus) met hare op sy kop wat na weerskante lê en soos ’n mus of hoedjie lyk, gesig, ore, hande en voete helder vleiskleurig. Vir die Hindoes is hulle heilige diere, daardeur het hulle nie die minste vrees vir die mens nie en deur hul plundery het hulle ’n plaag geword. Opvallend deur sy lewendige kleur is die DOEK (Pygathrix nemaea) uit Indo-Sjina: die romp is silweragtig grys, die arms en stert, hande en voete spierwit, die dye swart en die agterpote kastaiingrooi. Dit is waarskynlik die mooiste gekleurde soogdier.

In subtropiese Afrika word die plek van die slankape ingeneem deur die 2 (b) GUEREZAS (Colobus) die SYAPE of Colobus-ape. Hulle het nie ’n duim nie, maar dit belet hulle nie die minste om met die grootste gemak deur die boomtoppe te beweeg nie. Daar is 2 groepe: die swart met wit en die rooi gekleurdes.

Mensape:

Pongidae (Simiidae): die tweede familie Ape van die Ou Wêreld, nl. die mensape. Geriefshalwe word die langarmape of die gibbons, wat eintlik tot ’n afsonderlike familie, die Hylobatidae, behoort, ook hier behandel. Die gibbon en die mensape is sonder stert, die arms is sterk verleng, wangsakke is afwesig en die inhoud van die breinkas is groot. Ander kenmerke is geleë in die gebit en die vorm van die hande en voete - die groottoon is altyd opponeerbaar. Die vorm van die hande en voete staan in verband met die dikwels opgerigte liggaamshouding en die wyse waarop hulle in bome rondklim.

GIBBONS: beperk tot die oerwoude van Suidoos-Asië. Hulle is klein en skraal, het buitengewoon lang arms, maar die agterpote is swakker. Met die lang arms kan hulle baie vinnig deur die bome voortbeweeg. Op die grond hardloop hulle regop met hul arms bo die kop. In die oerwoud maak hulle vir hul slaapneste in bome en leef van vrugte en blare, soms ook klein diertjies.

MENSAPE (Pongidae): sjimpansee, gorilla en orangoetang. E.g. twee kom in Afrika, nl. Wes-Afrika tot Uganda, voor.

SJIMPANSEE: word tot 5 vt. hoog. Hy is swart, het kort hare, ’n ronde kop en groot ore. Hy leef in familiegroepe, wat deur die bos trek op soek na voedsel, en slaap in die mikke van bome. Hy leer gou en in gevangenskap kan hy maklik afgerig word om allerlei toertjies uit te voer.

GORILLA: bereik ’n hoogte van by die 6 vt. en weeg gemiddeld ca. 400 lb. In beweging druk hy die kneukels van sy lang arms op die grond en gebruik sy arms soos krukke waartussen die liggaam geswaai word. Die ou mannetjies het ’n duidelike kuif en swaar wenkbroulyste, wat aan hulle die bekende kwaadaardige uitdrukking verleen. Die ore is klein, die gesig en hare is swart behalwe ’n liggrys strook om die lendewyk. Gorillas is gronddiere wat in familiegroepe leef en voed hulle met vrugte en ander sappige plantdele. Af en toe klim hulle in bome om voedsel te soek. Hulle maak ook tydelike slaapneste van takke en blare. Hulle is gewoonlik nie aggressief nie, maar as hulle aangeval word, kan hulle met hul groot sterkte die stryd aanknoop teen elke vyand. Die kusgorilla van die kusstrook van die Kongo is kastaiingbruin op die kop, maar die groter en langer behaarde berggorilla van die Kongo is nie.

ORANG-OETANG: kom in Asië op die eilande Borneo en Sumatra voor en word tot 4 vt. 8 dm. hoog. Hy beweeg langsaam, sy arms is lank en sterk, maar die agterpote heelwat swakker. Hy leef in die digte oerwoud waar hy in die bome vir hom slaapneste van blare en takke maak. Die rooi hare is taamlik ruig, die lippe baie beweeglik en by die ou mannetjies word die gesig breed deur halfmaanvormige uitwasse, een aan elke kant van die gesig. Hy leef uitsluitend van vrugte en blare.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
3. Die Skatkis: Algemene kennis en naslaanwerk, ISBN 0-7966-0014-7

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Apartheid
Volgende onderwerp: Apiesrivier
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 23 09:46:56 MGT 2024