"Man met Flits" van D.J.OPPERMAN (vir Koos die Tweede) [boodskap #8291] |
Vr, 31 Januarie 1997 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
MAN MET FLITS
D.J.Opperman
In die klein wit kol
van my wete stol
bruin en skerp 'n klip
soos 'n bok wat skrik,
staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.
Aan 'n takkie hang
twee ogies wat bang
uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.
Oor waters wat glip
soek ek klip na klip
maar 'n duister land
bedreig my alkant.
---
Daar is in hierdie gedig 'n duidelike progressie:
van die geheel, oor die deel, na die Niks;
van die aktiewe, oor die passiewe, na die Niks;
van die aardse, oor die nie-aardse, na die Niks.
Vir die eksistensialis is hierdie bevinding die enigste
waaragtige kennis: daar is niks nie, behalwe uiteindelik
die vonds van die omringende Niks.
Ons vind die gedig bevolk deur 'n dasein "Man" -
Hiin Enkelte (Kierkegaard), des Dastehns grosser
Anfangsbuchstab (Rilke), gewerp binne die omgrens-
ende duister land, met 'n beperkte vermoeë : die Flits,
die Rede, die Cogito.
Alreeds in die titel is implisiet die bestaan van die
"duister land" gepostuleer, buite-om die klein wit kol
en sy vondste daarbinne. Allengs vreet die duister teen
hierdie beperkte bekende aan. Volgens Heidegger ervaar
die mens, behalwe sy in-die-wereld-syn (Man met Flits)
die bestaan van die Andere alleen as onvatbare duistere
chaos, en is dit alleen in sy absurditeit (on-redelikheid)
vir hom voelbaar in die Angs.
Ons het by Opperman in "Man met Flits" dus die
verwerping van die rede en die logika van die tradisionele
idealis-filosoof deur 'n basies eksistensialisties-denkende
digter (ten minste in deel van sy werk.) Dis 'n verwerping
van Descartes se "cogito ergo sum". Vir hom is dit liewer
"sum ergo cogito."
Oppervlakkig gesproke moet Man met Flits saamstem
met Heidegger en Sartre: die mens is 'n nie-nuttige passie.
Die lewe sal nooit 'n mooi afgeronde wêreld wees waar
alles geken en gekategoriseer kan word nie. Hy besef dat
paradokse essensieel is vir die bestaan, dat daar in die
eksistensiële werklikheid altyd onbalans is, maar juis
daarom ook oop moontlikhede. De Ruggiero verklaar:
"The sould of this multiple becoming is LIBERTY.."
Gloudina Bouwer
|
|
|