Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » KOM HERWAARTS GELIEFDES
KOM HERWAARTS GELIEFDES [boodskap #7804] Wo, 11 Desember 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
LOFSANG
Antjie Krog

kom herwaarts geliefdes
met voete vlugtig oor bolandse berge
oor koel valleie varkoor
versamel in die vlaktes
trek op uit die Hantamgebergtes
uit die Koue Bokkeveld
en die Witteberge naby Bethlehem
vertoef nie vir klere nie
ook nie vir brood of wyn nie
snel geluidloos deur die donker
net die hoewe van die aarde wat sterre vonk
en silwer mane wit salpeter teen sy flanke
want 'n kind is vannag gebore
'n seun is gegee in vreugde ontvang en gebore
'n seun wat die aarde langs sal huppel
oseane sal opvang in sy strandemmer
sy speelgoed oor vastelande strooi
oor kape met windrigtings sy helder top laat tol
en die son soos 'n ghoenie-ghoen in sy agtersakkie dra

o kom herwaarts geliefdes
vrolik en seëvierend
psalmsing
met goud en wierook en mirre
en kniel op die berge waar daar son is
gevange
en heerlik en bloesend gekruisig
teen die aardse ritme van die ewigheid.

(ingetik deur gloudina bouwer)
Vorige onderwerp: Die Ghoebaai Bed - 'n Gedig deur MARIETTE LIEBENBERG
Volgende onderwerp: Twee gedigte uit die apartheidsjare
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 12 22:50:47 MGT 2024