Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Die BALLING as tema in Afrikaanse digwerk
Die BALLING as tema in Afrikaanse digwerk [boodskap #7458] Sa, 19 Oktober 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 464
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Die woord "balling" het vir Afrikaners 'n spesiale
en baie spesifieke betekenis. In die Tweede Vryheids-
oorlog het die Engelse baie van die lede van die Boere-
kommando's gevang en hulle dan as ballinge oorsee ge-
stuur (na Ceylon, St. Helena, Bermuda onder andere) om
te verhoed dat hulle ontsnap en weer by hul kommando's
aansluit. Toe hulle na die vredesverklaring in 1902 weer
terugkom, het baie van hulle gevind dat die mense wat hul
agtergelaat het, nie meer gelewe het nie. Baie van vroue
en kinders het gesterwe in die Britse konsentrasie-kampe.
Dis hiervan wat Jan Celliers praat in die volgende gedig,
wat ek beskou as moontlik die beste gedig wat nog ooit in
Afrikaans geskryf is.

DIS AL
Jan F. E. Celliers

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voel draai bowe in eensame vlug -
dis al.

Dis 'n balling gekom
oor die oseaan,
dis 'n graf in die gras,
dis 'n vallende traan -
dis al.

In die volgende gedig gebruik Opperman die woord
Ceylon (wat elke Afrikaner onmiddellik sal erken as een
van die plekke waarheen mense verban is in die Boere-
oorlog) as simbool van die staat waarin die mens moet
lewe wanneer hy verban voel van die staat van Eden, voor
die Val. Dis dan die funksie van die digter om soos 'n
sorgvuldige werksman die stellasies van die woorde tot
'n gedig te omskep. Die gedig se funksie word dan om
die leser weg te neem van die wêreld waarheen hy verban
is deur tyd en plek, en terug te neem na die moederland,
die verlore paradys van onskuld, (net soos die ballinge
in Ceylon klein skepies uit hout gemaak het en hulle dan
in 'n bottel geplaas het.)

Gloudina Bouwer

DIGTER
D.J. Opperman

Ek is gevang
en met die stryd
erens in die ewigheid
op 'n Ceylon verban

waar al my drange
na 'n verlore vaderland
my dag na dag ge-eiland
hou met horisonne en verlange,

en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers

wat groei tot boeg en mas
en takelwerk - en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Twee gedigte oor HIERONYMUS BOSCH
Volgende onderwerp: VIER GEDIGTE UIT DIE KLEIN KAROO deur Ferdi Greyling
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 16 08:47:17 MGT 2024