Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Somtyds is trane magtiger as die pen of die swaard
Somtyds is trane magtiger as die pen of die swaard [boodskap #118043] Di, 01 Julie 2008 22:01
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Dis die jaar 1961. Vyftien jaar voor die intefada in Soweto.
Een oggend, 'n rukkie voordat ons 'n personeelvergadering
sou hê, roep Jaap Strydom vir my in sy kantoor in. Hy sê,
met geen glimlag op sy gesig, dat hy daardie dag gaan
aankondig dat twee van die vakke in Junior Sertifikaat in
die medium van Afrikaans sou onderrig word, en
dat hy nie wil hê dat ek enigiets daaroor moet sê in die
personeelvergadering nie. Ek was so geskok dat ek net
stil opgestaan het en die kantoor verlaat het.
Later, toe Jaap die aankondiging doen in die
vergadering, toe sit ek langs die ouerige baie oulike
Engelse onderwyseres ( wat vlot Afrikaans kon praat).
Ek sien hoe sy skielik regop sit, hoe sy byt op haar
lippe. Ek waag dit nie om na die swart onderwysers
te kyk nie. Maar ek sien dat selfs die ander wit
onderwysers, meestal Afrikaans-sprekend, geskok
is oor die nuus. Ek huil nie maklik nie. Maar daardie
dag toe huil ek vir die eerste en enigste keer in 'n
personeelvergadering.
Aan die begin het ons aangeneem dat die
Departement van Bantoe-Onderwys hierdie beleid
aangekondig het en dat Jaap dit maar net sou moes
uitvoer. Eers later het ons uitgevind dat geen ander
skool in Natal dieselfde doen nie. Jaap het dit op sy
eie in die skool op Adams Mission ingevoer. Hy het
ook dadelik begin om handleidings te skryf vir wiskunde
en Sosiale Studies in Afrikaans, dit op die skool se
afrol masjien geproduseer, en dit teen 'n profyt aan
die studente verkoop.
Dis nou dieselfde Jaap Strydom waaroor
Max du Preez in "Pale Native" skryf dat hy wat Jaap
was vir hom wou oorhaal om te help met die produksie
van 'n studenteblad om in Soweto te versprei. Max,
wat eers gedink het Jaap is 'n oulike ou, het gou
uitgevind dat hy 'n gat in die kop gepraat sou word,
en het besluit om niks met die saak te doen te hê
nie. Max vertel dat hy later uitgevind het dat Jaap sy
finansering gevind het by die "notorious Department
of Information."
Dis nou dieselfde Jaap Strydom, teen 1976
die administreerder van Bantoe Onderwys in Soweto,
wie se seun nog deur die apartheidsregime skuldig
bevind is van die verduistering van 'n miljoen rand,
wat sy firma betaal is om posters te vervaardig om
in Bantoe skole opgehang te word om die regering
in 'n goeie lig te stel. Min van daardie posters het
glo ooit by die skole uitgekom.
Dis dieselfde Jaap Strydom wat met sy
beleid van vakke in Afrikaans te onderrig, myns
insiens die intefada in Soweto veroorsaak het.
Dis dieselfde Jaap Strydom wat 'n getuie
gedurende die Waarheid en Rekonsiliasie Kommissie
as "the one armed bandit" van Bantoe-Onderwys
in Soweto beskryf het, as gevolg van sy boelie-
taktieke.
Wat het Jaap Strydom nou daarby gebaat.
Hy is 'n ruk gelede oorlede aan kanker. ( Hy was
jonger as ek.) Maar sy naam leef voort in die annales
van die internet met 'n groot swart klad daarop.

Gloudina
Vorige onderwerp: Oor die goeie ou dae toe hulle geweet het hoe om in die state te veg.
Volgende onderwerp: Baantjies vir boeties
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 17:28:28 MGT 2024