Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Persepsies uit die wit laer van die ou Suid-Afrika
Persepsies uit die wit laer van die ou Suid-Afrika [boodskap #7340] Vr, 04 Oktober 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 464
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Iemand stuur vir my 'n private e-pos (ek wens mense wil
sulke dinge direk op die nuusgroep plaas) waarin hy 'n
opmerking maak oor 'n rapport van my oor die keuse van
studente vir die MBA program aan die Universiteit van
Kaapstad, soos meegedeel deur een van die professore in
die program. Hier is die stuk van my waarna hy verwys:

" Die swart studente wat hulle in die program toe-
laat, kom almal uit die res van Afrika, soos Zimbabwe en
Nigeria, waar die sendelingskole 'n goeie werk gemaak
het van die opvoeding. Die swart Suid-Afrikaanse studente
se agtergrond is so sleg dat min van hulle in aanmerking
kom vir toelaat tot die MBA program. Dis die argitekte van
Bantoe-Onderwys wat voor die hof gedaag moet word, of
om vergifnis smeek. Al hierdie ander dinge (soos 'n paar
hier doodskiet, daar ontvoer) is peanuts teen die SONDE
van 'n hele generasie van nie-blanke kinders intellektueel
te vermink. CRY THE BELOVED COUNTRY.

Gloudina"

Die persoon maak toe die volgende opmerking:
"Niemand het gesê hulle moet hulle skole en boeke
verbrand nie. Hulle het dit hulle self aangedoen."

Daar praat nou iemand wat in die blanke eerste- wereldse
laer gesit het terwyl oor die negentig persent van die Suid-
Afrikaanse bevolking se lewens dekade na dekade in die
laaste helfte van die twintigste eeu meer en meer van 'n hel
geword het. Alleen wit mense wat buite hierdie lekker laer
getree het, kon begin om die diepte van hierdie hel te peil.
Ek kan alleen praat van eie ondervinding. Ek het tweekeer
op dieselfde plek in Natal skoolgehou. Die eerste keer was
dit nog onder die kontrole van die Amerikaanse sendelinge.
Die Standerd Tien studente het die "Cambridge Matriculation"
geskryf (gebruik deur private skole, wit en swart, dwarsdeur
suidelike Afrika, en aansienlik moeiliker as die Kaapse matriek-
sertifikaat wat ek gekry het.) In die hoërskool was ek vir 'n
ruk die enigste wit onderwyser. Daar was 'n swart prinsipaal.
(Net soos die apartheids-doktrine dit wou he^ - laat die swartes
hulle eie skole beheer.)

Na twee jaar gaan ek weg van hierdie skool (vir persoonlike
redes.) Drie jaar daarna gaan ek weer terug na die skool (om nader
aan die Universiteit van Natal te wees, waar ek nagraadse werk
doen.) Hierdie keer is die plek oorgeneem deur Bantoe-onderwys.
Die hele plek is oorstroom met Afrikaners wat werk en promosie
soek. Die prinsipaal van die hoërskool is nou wit. Die studente
word nou gedwing om die Bantoe Senior Sertifikaat te skryf ,
heelwat makliker om deur te kom as die Cambridge Matriculation,
en dus onder diep suspisie van die kant van die studente wat geen
verlaging van standaarde wil sien nie.

Die prinsipaal van die hoërskool is 'n jong ou, in sy laat
twintigerjare, maar met konneksies met die Bantoe-onderwys
magstruktuur in Transvaal. (In 1976 is hy een van die mense wat
die kinders in Soweto deels in Afrikaans wil onderrig.) Hy roep
my eendag opsy en vertel my dat hy daardie dag gaan afkondig
dat die Junior Sertifikaat-studente nou Sosiale Studies en Wis-
kunde in Afrikaans gaan loop, en dat hy nie wil he^ dat ek daar-
teen moet protesteer in die personeelvergadering nie. In die
vergadering sit wit en swart met strak gesigte. Oor my wange
stroom die trane uiteindelik.( Ek wonder of die prinsipaal my
trane onthou het toe daardie beleid in 1976 die land aan die brand
gesteek het, en eintlik ook die begin van die einde was vir die
hegemonie van die Afrikaner. Miskien was hy meer bekommerd
oor die skandaal waarin een van sy seuns beland het. Die seun het,
heelwaarskynlik met sy pa se advies, oor 'n miljoen rand profyt
gemaak met "posters" bedoel om die departement meer populer
te maak onder swart studente. Hy is uiteindelik voor die hof ge-
daag daaroor, nog tydens die apartheids-regime.)

So, toe die kinders in 1976 hulle boeke en skole begin
verbrand, was dit 'n duidelike verklaring:

"Ons is moeg vir julle witmense en julle kultuur
en julle boeke en julle sogenaamde Christelike
godsdiens. Ons ouers het in die eerste deel van
die eeu met julle probeer praat, maar julle het
nie geluister nie. Nou neem ons oor. Miskien
sal ons julle in die see moet dryf, as julle nie
ore het om te hoor nie."

Gelukkig het sommige wit mense toe begin luister.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Besoekers Boek - Teken asseblief
Volgende onderwerp: BRANTFORD, Ontario
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 16 09:57:03 MGT 2024