Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Local hero
Local hero [boodskap #117278] Vr, 16 Mei 2008 12:16
Ferdi  is tans af-lyn  Ferdi
Boodskappe: 561
Geregistreer: Maart 2007
Karma: 0
Senior Lid
Schalk Burger se suster 'weier om 'n slagoffer te bly'
May 15 2008 08:59:51:840PM - (SA)

Sarietha Engelbrecht

Kaapstad. - Sy weier om 'n slagoffer te bly. Dáárom het 'n moedige me.
René Burger (20) haar gister vrywillig geïdentifiseer as die vrou,
waaroor daar wyd berig is, wat verlede week 'n verkragting oorleef
het.

Burger, suster van die Springbok-rugbyspeler Schalk Burger, het in 'n
verklaring bevestig sy is die student wat verlede week in 'n
parkeerterrein by die Tygerberg-hospitaal deur drie mans oorval,
ontvoer en verkrag is.

"Die oomblik wat jy besluit om nie toe te laat dat iets soos hierdie
jou waardigheid en selfwaardering, jou vertroue in ander, jou hoop in
die toekoms en jou toegewydheid tot die land wat jy liefhet vernietig
nie, hou jy op om 'n slagoffer te wees," het sy in die verklaring
gesê.

Burger het 'n verklaring uitgereik deur 'n familievriend, me. Elna
Boesak, vrou van die kerkleier dr. Allan Boesak.

"Om die slagoffer van 'n gewelddadige ontvoering en verkragting te
wees, is een van die mees traumatiese ervarings wat enige vrou kan
oorkom.

"Jy het egter 'n keuse oor hoe jy op hierdie werklikheid reageer."

Volgens adv. Dup de Bruyn, ook 'n vriend, het me. Burger na vore gekom
om 'n einde te maak aan bespiegelings.

"Sy is nie skaam oor wat gebeur het nie. Sy baklei terug en wil vir
mense wys hulle moenie moed opgee nie."

Volgens Boesak het sy haar hulp aangebied en het die familie haar
gevra om as woordvoerder op te tree.

Sy het gesê sy het geweldig baie respek vir me. Burger en haar
familie.

"Hulle lewer 'n ongelooflike bydrae tot die bewusmaking en
de-stigmatisering van hierdie kwessie. Dit het baie waagmoed en
dapperheid van haar geverg om na vore te tree.

"Sy is 'n buitengewone jong vrou. Ek het nog min mense teëgekom wat so
sterk en doelgerig is. René het 'n baie dapper ding gedoen deur na
vore te kom. Sy gaan nie toelaat dat hierdie ding haar definieer nie."

Volgens 'n vriendin wat saam met haar in Paarl Gimnasium op skool was,
is me. Burger 'n baie saggeaarde mens. "Ons was baie geskok om hiervan
uit te vind. René is 'n lieflike mens. Ek kan nie glo so iets het met
só 'n goeie mens gebeur nie."

Die polisie ondersoek klagte van kaping en verkragting. 'n Identikit
van een van die aanvallers is ook uitgereik, maar niemand is nog in
hegtenis geneem nie.
Vorige onderwerp: Torreke
Volgende onderwerp: xenophobiese apartheid
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 04 23:49:41 MGT 2024