Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » NEW BRUNSWICK - 'n Kanadese suksesverhaal
NEW BRUNSWICK - 'n Kanadese suksesverhaal [boodskap #7191] Sa, 07 September 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
New Brunswick is die tweede-kleinste provinsie van Kanada.
Dit kan omtrent heel in die Kruger Nasionale Park inpas. Sy
bevolking is maar omtrent 'n halfmiljoen. Dit is tot 'n groot mate
omring deur water. Die grens met die VSA is die staat van Maine.
Tot so omtrent 'n dekade gelede was New Brunswick (in die
Kanadese Maritieme provinsies) beskou as een van die "have not"
provinsies van Kanada. Mense het daaraan gedink as die plek
waar die beroemde Miramichi-rivier is - een van die beste visvang-
plekke in die wereld. Dit was ook die plek waar die hoogste getye
in die wereld is (in die Bay of Fundy.) Meeste mense het probeer
'n bestaan maak in die visnywerheid (wat al hoe meer bedreig is
deur visskaarstes) of in die bosboubedryf. Meeste jong mense,
nadat hulle klaargemaak het in N.B. se universiteite, moes buite
die provinsie gaan om werk te kry.
Toe, in die middel van die tagtigerjare, het New Brunswick 'n
premier gekry wat dinge laat verander het. Frank McKenna het
besluit dat daar nog 'n ander ding is wat New Brunswickers besit
en wat benut kon word : die feit dat een-derde van die bevolking
Akadiese Franse is en meestal ten volle tweetalig. McKenna het
besluit dat hierdie mense kon werk op die "Information Superhigh-
way." Hy het aktief begin om hierdie ideaal 'n werklikheid te
maak. N.B. was die eerste provinsie wat 'n "Minister of Informa-
tion Technology" aangestel het. As 'n piloot-projek met Northern
Telecom is die hele provinsie se telefoonnetwerk gedigitaliseer,
die enigste politieke entiteit (staat of provinsie) in Noord-Amerika
tot dusver. As gevolg hiervan lok McKenna al hoe meer interna-
sionale besighede om hulle "call centres" in New Brunswick te
plaas. Hy probeer baie aktief om ander soorte besighede ook aan
te lok. Dit irriteer en vervul die premiers van die ander provinsies
met bewondering.
McKenna hoop dat daar voor die einde van die eeu in elke
huis 'n rekenaar sal wees. Kort gelede het sy regering aangekondig
dat enigiemand wat voor die einde van die jaar 'n rekenaar koop,
$250 se belastingvryskelding sal kry. Terselfdertyd sal een van die
banke lenings teen lae rentekoerse aanbied, en NBTel sal vir drie
maande vry Internet-inskakeling verskaf. Hy hoop deur hierdie
maatreels dat hy die bevolking rekenaarkundig sal kan maak,
van die oudste tot die jongste.
New Brunswick het in die afgelope jare 'n soort toetsgrond
geword vir allerhande soorte beleidsrigtings. McKenna het by-
voorbeeld die hele gesondheidsstruktuur hervorm (meestal deur
van top en middelbestuurders ontslae te raak, en die wat oorbly
harder te laat werk omdat hulle oor groter areas moes opereer.)
Hy het die skoolsisteem ingrypend verander en baie verbeelding-
ryke planne begin uittoets om mense van welvaart af te neem en
hulle weer in die werkstruktuur in te skakel.
McKenna is kort en met 'n onskuldige oop gesig, wat 'n
mens kan laat vergeet hoe 'n meedoenlose besigheidsman hy in
werklikheid is. Hy het eenkeer verklaar dat sy enigste ideaal was
om professioneel yshokkie te speel. Enigiets anders wat hy nou
doen, is ietwat van 'n tweede keuse. Maklik om dit te se vir
'n man wat in sy eerste verkiesing al die 56 setels in NB gewen
het vir die Liberale Party, sodat daar vir vier jaar geen offisiele
opposisie was nie.
NB se provinsiale blom is die viooltjie. Dis daardie soort
viooltjie wat jy in SA oral in tuine kan kweek. Maar in NB
groei hulle wild. Toe ons nog daar gebly het, was dit elke lente
sulke agonie om jou eerste gras te moet sny, en al hierdie klein
blommetjies staan nog daar op jou grasperk. En al is daar meer
en meer rekenaars in die huise, buite moet jy nog versigtig ry
om nie somtyds in die aande 'n moose of 'n beer raak te ry nie.
En jy dink jy is in die hemel as jy 'n salmon van die Mira-
michi of 'n Noord-Atlantiese kreef kan eet. Of "fiddleheads,"
die jong lof van 'n varing wat in die riviere groei in die lente.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: lage landen
Volgende onderwerp: Re: Die Afrikaner, Afrika en Afrikaans
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Mei 14 15:11:17 MGT 2024