Twee gedigte van HENNING PIETERSE [boodskap #7188] |
Vr, 06 September 1996 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Hier volg twee gedigte van Henning Pieterse
uit "Alruin" (1989).
HUIS
'n Vreemde huis het sy mond oopgemaak
toe ek na hom terugkom in die reën.
Sy stof wou my nie ken nie en het verby
my gegly toe ek daaraan raak.
Ek het my stofkop geskud en probeer vriende maak
met die muf in die hout en die muur;
in die kaste was daar motte, spindrade
en 'n ou portret wat na niks tuur.
Na die water kon ek luister. Stadig kruip
dit langs die vensters af. Ingesluk, onverteer is ek.
Ek soek nog na jou spoor in die stof op die bed
voor jy ook op reënvoete na buite sluip.
ELEGIE
Die bougainvillaea bloei 'n vrolike rooi,
het jy die dag gesê voor jy weg is.
Ook: ek verstaan jou nie. Verstaan jou nie.
Langsaan het spreeus
die pruimboom kaal gesteel.
Hulle het soos ek dit nie verstaan nie.
Die formasies van voëls in die rooi middae
kon ek natrek
en die niks bewonder.
Tussendeur het jy laat weet van bloed
wat opdroog. Droë blomme
kon ek nooit begryp nie.
Op 'n dag vat die jakaranda
blou vlam by die venster
sonder dat hy dit verstaan.
Toe was die bougainvillaea uitgebloei.
Sy hang, sonder om te verstaan,
tussen spreeus in die jakaranda.
Ingetik op die nuusgroep deur Gloudina Bouwer
|
|
|