Lente in die Noordkaap [boodskap #6593] |
Sa, 15 Junie 1996 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
In die Kaap se noordweste is daar twee kulture.
Die een is gevorm deur die halfwoestynkarakter van die
land weg van die Oranje-rivier af. Daarteenoor staan daar
'n rivierkultuur, gevorm deur die teenwoordigheid van volop
water en die vrugbaarheid wat daarmee saamgaan.
Donald Riekert is 'n digter wat die land weg van die rivier
besing. Hier volg twee van sy gedigte.
JAKKALSTROUE
Jakkals trou
met wolf se vrou
in die windvlaag geluk
van 'n paar druppels
van die son se skyn
losgeluk vir 'n oujongjakkals
waar die wolke losklos staan
en water afslaan
reis jakkals haarnat gereën
op sy ver wittebrood
in die kromstaandraai
van die reënboog.
DROE LENTE
Dis lente die jaar
die haakbosreentjie bly weg
in droë blom droe wit stuif
lê die steenbokrammetjie met
sy kop op die blare se ophoop
wyl die ooitjie haar kop druk
teen die ram se lies in die koel
skaduwee van die bos In die ooi
se dor oog ryg die jongby
op in 'n droë heuningkoek
en in my hart se vat
kruip die rooi duin
daardie jaar groot woestyn
Die Noordkaapse halfwoestyndele word dus besing.
Ek ken egter geen digter in Afrikaans wat oor die vrugbare
en oordadige lewe dig van gebiede wat deur kanale vol
water besproei word nie, waar die natuur se oorvloed iets
alledaags is. Soos op die eilande van die Oranje.
In die lente in die oggend word jy wakkergemaak deur
die geluid van bye in die bloeisels van die lemoenbome om
jou huis. As jy, met die geur van die lemoenbloeisels in jou
kop, by jou slaapkamer se venster uitkyk, kyk jy vas in die
pienk van 'n perskeboom. As jy vroeg in die lente skooltoe
loop in die more, wonder jy of die eerste groen van die
sultanawingerdstokke nou meer groen of meer silwer is. En
jy besluit dat jy eendag, as jy tyd het, gaan tel hoeveel skake-
ringe van pienk perskebloeisels daar is.
Die granaatlanings wat sewe tot ag voet hoog is, is daar
om in rondgeklim te word, die vrugte en bloeisels as ammu-
nisie vir 'n oorlogspel. Ons eet nie die kwepers nie. Breek net
die vrug oop om by die gom om die pitte te kom. Wat ons wel
vroeg in die oggend eet, voor ontbyt, is die turksvye, spesifiek
verbied deur ons ouers so vroeg in die more. Ons weet, jaar na
jaar, hoeveel stokke ons moet aftel voordat ons by die seldsame
enkele stok van kristaldruiwe kom wat per ongeluk tussen die
sultanadruiwe ingesluip het. Met die sultanadruiwe word daar
rosyntjies gemaak, van die beste in die wêreld.
Ons weet hoe lyk 'n perfekte waatlemoen. Ons weet hoe
grondboontjies lyk as die plant met die boontjies op sy wortels
op die land lê en droog word. Ons weet hoe om katoen te pluk
(ons wil betaal word natuurlik.) Ons laat sak ons koppe tussen
die wilde mint op die walle van die grootvoor. Ons weet hoe
klink 'n paddakoor met tien stemme. Water is iets wat om ons
vloei, in groter en kleiner vore, dag in en dag uit, soos die bloed
in ons are. Ek dink kinders op die Nyl daar in Egipte sal weet
waarvan ek praat.
Gloudina Bouwer
|
|
|
Re: Lente in die Noordkaap [boodskap #6599 is 'n antwoord op boodskap #6593] |
So, 16 Junie 1996 00:00 |
Johan K Trautmann
Boodskappe: 3 Geregistreer: Junie 1996
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
On 15 Jun 1996 14:03:43 GMT, iz...@igs.net (Izak Bouwer) wrote:
>
> As jy, met die geur van die lemoenbloeisels in jou
> kop, by jou slaapkamer se venster uitkyk, kyk jy vas in die
> pienk van 'n perskeboom. As jy vroeg in die lente skooltoe
> loop in die more, wonder jy of die eerste groen van die
> sultanawingerdstokke nou meer groen of meer silwer is. En
> jy besluit dat jy eendag, as jy tyd het, gaan tel hoeveel skake-
> ringe van pienk perskebloeisels daar is.
> .
>
> Gloudina Bouwer
>
Baie dankie vir die mooi Afrikaans. Ek woon nou al vir sewe jare in
Houston, Texas. Ek is altyd honger vir Afrikaans, veral as dit so mooi
klink. Hopelik sal die nuusgroep oorleef soos ons Afrikaners ook moet.
Johan
|
|
|