Die groot wit voels naby Alheit. [boodskap #6491] |
Do, 23 Mei 1996 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Die groot wit voels naby Alheit
Ek het grootgeword op die walle van die Oranje-rivier.
Om by my sekondere skool te kom, moes ek vir vier jaar
tien myl met die skoolbus tussen Marchand en Kakamas
ry. Net verby Alheit het die pad deur 'n land vol lusern
gegaan. Vir omtrent twee weke elke jaar het daar groot wit
voels in die lusernland gewei. Die voels was regtig groot.
Geil lusern staan in alle geval omtrent twee voet hoog. Die
voels het met omtrent helfte van die lyf bokant die lusern
uitgesteek. As ons skoolbus nader aan die lusernland gekom
het, het ons altyd opgehou praat en net stil gesit en kyk na
die groot voels. Daarna was ons nog 'n ruk stil.
Hierdie voels het nie op enige van die ander lusernlande
op die Kakamas-nedersetting verskyn nie. Ons het ook nie
geweet wat die voels se naam was nie. Iemand het eendag
gese hy het gehoor dat hulle miskien "sprinkaanvoels" is.
Die naam het vir ons niks beteken nie.
Dis eers jare later, toe ek lees dat ooievaars naby George
oorwinter, dat ek begin wonder het of die groot wit voels
ooievaars was. Het die ooievaars die hele afstand van Europa
gekom om in Suid-Afrika te oorwinter, en was daardie lusern-
land een van die voedingstasies op hul migrasiepad?
Ek weet nie of die voels dit in my kop gesit het nie, maar
ek het altyd 'n intense begeerte gehad om van noord na suid
oor die Oranje te vlieg. Elke keer as ons op een van ons rare
besoeke uit Kanada na Suid-Afrika begin vlieg oor Namibia,
het ek die vliegtuig probeer dwing om suid te swenk sodat
ek vir eenkeer in my lewe kan sien hoe lyk die groen loop van
die Oranje met al sy groot eilande daar na die suide.
Die Oranje sit baie diep in die bewussyn van enigiemand
wat daarlangs grootgeword het. In Andre Brink se boek, wat
ek in Engels as "A Chain of Voices" gelees het, was ek bein-
druk deur die manier waarop hy die Oranje-rivier 'n rol laat
speel het: sommige van die werkers op die wit plase in die
suide het daarvandaan gekom. Ander karakters, soos slawe,
het begeer om van hul meesters te ontvlug en dan noordwaarts
te gaan na die Groot Rivier, wat vir hulle simbool was van 'n
plek waar die witman hulle nie sou kon bykom nie. Min het
hulle geweet dat geen plek veilig was nie.
Gloudina Bouwer
|
|
|