Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Oor W.E.G. LOUW
Oor W.E.G. LOUW [boodskap #6472] Vr, 17 Mei 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Daar was 'n neiging in die afgelope dekades om vir N.P. van Wyk
Louw as 'n baie groot digter in Afrikaans te beskou, en vir sy broer
W.E.G. Louw 'n mindere plek aan te wys. Ek het die afgelope tyd
begin wonder of W.E.G. Louw nou werklik so 'n soveel minder
goeie digter as sy broer was? Dit beteken nie dat ek dink dat W.E.G.
'n baie groot digter is nie. Maar was N.P. nou werklik soveel groter?
Hier is 'n gedig van W.E.G. Louw wat handel oor broers:

KAIN

Die vrugte van die aarde het hy gebring:
druiwe, rooi granate, 'n skepel graan -
van maande al die sorge en hunkering -
maar die rook op sy altaar het neergeslaan.

Sy broer daarnaas, die teer hande rooi
van bloed van lammers op die offersteen -
sy vlam het welgevallig uitgeplooi
en snel verteer dit vel en vlees en been.

Toe het die waansin hom gegryp: die haat,
van wie in eie hart sy skande weet,
van wie die offer, agteloos versmaad,
'n oordeel is... Met een vervloekte kreet

gryp hy die herderstaf en slaan en slaan
tot voor sy hand die hemele opegaan.

Ek vind W.E.G. se lang gedig "Adam" absoluut op dieselfde
peil as die beste wat Opperman of N.P. geskryf het. En moet
ook nie "Maria," "Die passie van ons Heer" en "Jakob en die
engel" vergeet nie.

My geliefde W.E.G. gedig was nog altyd

VAALVALK

Wit is die wereld
van outydse wee,
en 'n treurige wals
is die vroemoresee;
dou oor die duine, geen windjie wat waai,
net 'n vaalvalk wat sing soos hy draai, soos hy draai...

J.C. Kannemeyer in sy biografie van Opperman laat blyk
dat N.P. van Wyk Louw vir Opperman kwalik geneem het
dat hy nie vir W.E.G. meer krediet gegee het in "Digters van
Dertig" as 'n goeie en pioniersdigter nie. Vir eenkeer stem ek
saam met N.P.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Sabie
Volgende onderwerp: Test on South Africa
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 14:43:12 MGT 2024