Afrikaans [boodskap #6195] |
Do, 11 April 1996 00:00 |
Johan de Villiers
Boodskappe: 67 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
'n Paar algemene opmerking in die debat oor die oorsprong van Afrikaans:
Ek merk by Bernhard, en tot 'n mindere mate by Frank, 'n soort
konservatiewe Eurosentriese starheid betreffende hul beskouings oor hoe
'n taal moet ontwikkel voordat die pous heilige water daarop mag
sprinkel. Mits 'n taal nie volgens die Europese model ontwikkel het
nie (en daar is heelwat onsekerheid oor wat hierdie model nou eintlik
is) dan moet daar een of ander kritiek oor uitgespreek word.
Wat Bernhard nou eintlik met sy redenasies wil bereik is vir my nog 'n
duistere saak. Hy weier om Eric se vraag reguit te antwoord oor
waarheen hy nou eintlik met sy debat wil gaan. Ongelukkig is my
intelligensie nie op Bernhard se vlak nie, dus sal ek ook graag 'n
onomwonde antwoord op Eric se vraag wou ontvang. Ek het nog altyd
gedink dat Nederlanders bekend is vir hul onbewimpelde eerlikheid,
selfs barsheid (as ek my tydelik aan stereotipering mag skuldig maak).
Nou vind ek in Bernhard se antwoord op Eric se vraag 'n bykans
Angels-Saksiese neiging tot gedemptheid en onderbeklemtoning. Van 'n
afstammeling van Geuse kan dit tog nie! :-)
Die ontwikkeling van feitlik alle tale hang saam met politieke en
maatskaplike toestande in die streke waar die tale ontwikkel, en
Afrikaans is in die opsig geen uitsondering nie. Frank wil te kenne
gee dat die standaardvorm van Afrikaans deur 'n klein kliek ontwikkel
is en dat die daarom vir politieke redes "uitgebuit" is (ek is nie
seker of ek jou heeltemal korrek aanhaal nie, Frank). Asof ander tale
nie ook vir soortgelyke doeleindes aangewend is nie. Die groot
oplewing in 17de eeuse Nederlandse letterkunde is per slot van sake in
'n groot mate te danke aan die vryheidsstryd teen Spanje en die
daaropvolgende ekonomiese, staatkundige en imperiale bloeitydperk van
die Verenigde Provinsies ondervind het. Ons moet nie vergeet dat die
Prins van Oranje, Duytsche bloed en al, soos feitlik alle Europese
hofadel destyds, feitlik uitsluitlik Frans gepraat het.
Dat Afrikaans en Afrikaanse kultuur (wat dit ookal sy) "gebombardeerd"
en aangepraat is, is ook ongetwyfeld so. Maar soos prof. Eric Defoort
van die Katoliek Universiteit Leuven onlangs in 'n onderhoud gesê
het, alle kultuur is aangepraat. Dit sluit Nederlands, Engels en
Buite-Mongools in.
Die ontwikkeling van 'n Afrikaanse letterkunde vanuit 'n volkstaal het
ook saamgehang met politieke en maatskaplike gebeure in Suid-Afrika.
Dat mense soos S J du Toit en C Louis Leipoldt aan die een kant, en
Gustav Preller en Eugene Marais aan die ander kant, aan teenoorgestelde
kante van die destydse politieke spektrum gestaan het, wys ook dat daar
nie slegs 'n enkele politieke denkrigting onder die kampvegters van die
taal was nie. Daarteenoor is die moderne neiging onder letterkundiges,
beide in Nederland en Suid-Afrika, om na die "trendy" linkersy van die
politiek oor te hel, met die uitsondering van beeldestormers soos Reve -
'n verbete anti-sosialis - alhoewel sy belang in die homo-erotiek
seker "trendy" genoeg is.
--
Reinier de Vos Internet: de...@aqua.ccwr.ac.za
Computing Centre for Water Research Tel: Int+27 331 260-5179
c/o University of Natal, P/Bag X01 Fax: Int+27 331 61896
Scottsville, South Africa, 3200 http://www.ccwr.ac.za/
My views are my own, and do not necessarily reflect the views of the CCWR
------------------------------------------------------------ -----------
Ons spaar die duiwel baie moeite
- C J Langenhoven
|
|
|