Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » alweer Afrikaans
alweer Afrikaans [boodskap #6165] |
Wo, 10 April 1996 00:00 |
Frank Snyckers
Boodskappe: 68 Geregistreer: Maart 1996
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Nee, mense, hierdie keer moet ek so bietjie aan Bernhard se kant stry.
Wat ons nie moet vergeet nie, is dat 'n oorweldigende poging om oornag 'n
"amptelike" woordeskat te vind vir die nuwe amptelike rol wat Afrikaans nou
moes vervul (na 1928) aangewend moes word. Om 'n taal (of dit nou kreools is,
of pidgin, of iets anders) skielik van 'n spreektaal, wat 'n Europese taal
as amptelike skryftaal had, in 'n amptelike skryftaal vir akademiese,
wetenskaplike en ander amptelike gebruik te omskep, benodig 'n aardige
hoeveelheid woorde. En 'n sterk gesentraliseerde liggaam waarna
taalverbruikers kan verwys as hulle onseker is oor die uwe re"els, moes
ook hard aan gewerk word.
Om aan die "amptelike" en "onafhanklike" status van die taal meer en meer
geloofwaardigheid te verskaf, moes die woorde nie (of ten minste nie
altyd nie) Anglisismes wees nie, en verkieslik ook nie net weergawes van
Nederlandse woorde nie. Hoeveel belaglike neologismes is nie deur die
woordeskatskeppende industrie vir elke denkbare term ontwikkel nie. Waar
Nederlands en Duits byvoorbeeld rustig 'n Engelse term sou oorneem, moes
Afrikaans keer op keer met 'n "suiwer" Afrikaanse term vorendag kom.
Omdat die taalverbruikers oor die algemeen nie 'n geskiedkundige
kulturele tradisie had om op terug te val vir die "korrekte" gebruik van
hierdie of daardie stylvorm of grammatiese vorm nie, moes hulle maar keer
op keer na die Woordelys en Spelre"els verwys, wat elke week verander
het, om die "algemeen beskaafde" vorm te vind, asof hierdie vorm die
gesag van die Oxford English Dictionary besit het. 'n Klein groepie erg
nasionalistiese taalstryders het die kern gevorm van hierdie
priesterskap, en die "Afrikaner" het aandagtig geluister, sonder om ooit
te vra waar al hierdie "ampelike" terme so vinnig vandaan gekom het.
Op skool en op die universiteite was daar 'n amper waansinnige beheptheid
met "wetenskaplike" linguistiek - Afrikaans is deur sinsbou, woordbou, en
'n miljoen ander linguistiese analises dag vir dag as "wetenskaplike"
taal verskans. Intussen leer die kinders die geskiedenis van Nederlands
soos die Engelse kinders die geskiedenis van Engels leer, om die prentjie
van 'n "ontwikkeling" uit 17e eeuse Nederlands mooi af te rond. Niemand
rep 'n woord oor die doelbewuste skepping van hordes woorde en terme op
'n amper daaglikse basis deur die "amptelike" priesters nie. Ons leer
woorde soos "moltrein" en "pendeltuig", en dis Ponelis hier en Botha daar,
en dis predetermineerder en voornaamwoorde en sintaksis en boomdiagramme
en oorganklike werkwoorde en Jopie Fourie en Christelik Nasionaal en
Bloedrivier en deeltekens hier en vandag skryf mens weer met hoofletters
daar, maar niemand vra ooit wie hierdie mense is en hoekom hulle nou juis
moes besluit wat "suiwer" Afrikaans is nie. Ons is almal te besig om voor
te berei vir die groot aanslag van die vuil kommuniste.
Ek het reeds geskryf oor die sukses van hierdie
"Afrikaner"-identiteitskepping, en die feit dat identiteit meesal 'n
kwessie van aanvaarding en wedersydse vereenselwiging is. Nouja, in die
taalsfeer is die grens tussen geskiedkundige werklikheid en polities
geinspireerde kunsmatigheid ook baie vaag, sodat die ontstaan en
ontwikkeling van Afrikaans as 'n volwaardige akademiese en wetenskaplike
taal 'n werklikheid so waar en groot as Tafelberg geword het, en een wat
net dwase sal misken. Maar dat dit alles sommer so natuurlik ontwikkel
het, en dat die aanvaarding van die taal as skryftaal en onderrigtaal
minder as tagtig jaar gelede bloot iets moes vasl^e wat reeds daar was,
is 'n mite - 'n mite wat die oorbluffende sukses van die nasionalistiese
program, wat taal- en volksbeeld betref, heeltemal miskyk.
Die waarheid is eintlik nogal eenvoudig: tot 1928, en eintlik eers 1933,
siende dat die Bybel so sentraal deel was van die Afrikanerkultuur, het
mens Nederlands en Engels geskryf as mens opgevoed was. Mens het dus
anders geskryf as gepraat. Skielik is Afrikaans 'n amptelike taal. Mens
kan nie dan eenvoudig skryf soos mens praat nie. Die taal moet nou
dosyne meer rolle vervul as van tevore. Iets moet dringend gedoen word. En
daar is toe iets gedoen. Ontsaglik suksesvol. En dis juis hoekom die verlies
van Afrikaans as 'n amptelike taal so ernstig is. Want nou moet die taal
steun op minder as 'n eeu se amptelike status om 'n wetenskaplike en
akademiese taal te bly. Solank die taal dan nog op alle gebiede gebruik
word, sal die proses natuurlik voortgaan. Maar ons moet ook nie vir
onsself lieg nie. Ek glo ek sal byvoorbeeld nie in die hof Afrikaans
gebruik nie; miskien wel, ek weet nie. Ons moet elkeen maar besluit wat
nou gemaak wat die taal betref. Die feit dat Afrikaans, as die taal wat
meer Suid-Afrikaners verstaan as enige ander taal, en wat aan alle
vereistes van 'n amptelike taal voldoen (danksy die priesters), nie as
amptelike taal met Engels behou is nie (die elf tale kan nooit "amptelik"
gebruik word nie) dui op die feit dat die politieke moeder nou haar
taal-dogter vermoor het. Dit hoef natuurlik nie die einde van die storie
te wees nie. Of selfs die hele storie nie. Maar dis 'n groot deel daarvan.
Baai
Frank
|
|
|
Re: alweer Afrikaans [boodskap #6166 is 'n antwoord op boodskap #6165] |
Wo, 10 April 1996 00:00 |
Frank Snyckers
Boodskappe: 68 Geregistreer: Maart 1996
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
On Wed, 10 Apr 1996, Leendert van Oostrum wrote:
>
> Ek dink jy laat die feit buite rekening dat die meeste
> "vooraanstaande geleerdes" in Europa nie nie eens twee eeue gelede
> nie nog hulle werk in Latyn gelewer het, en nie in die volkstaal
> nie. Waar die volkstaal vir "intellektuele" doeleindes aangewend is,
> was dit hoofsaaklik in die kuns - gemik op die algemene bevolking.
>
As mens die voorbeeld van Engels van nader beskou, kom die volgende feite
na vore: reeds teen die 1370s het Chaucer byvoorbeeld geskrifte van
Boethius in Engels vertaal (East Midlands dialect), wat beslis nie vir
die algemene bevolking geskryf is nie. Die invloed van Chaucer was
belangrik om die East Midlands dialek as "standaardengels" te bevestig.
Die spelling-standardiseringsproses het selfs die "great vowel shift" van
die laat 15e eeu oorleef, en dit het met die drukkuns saamgehang.
Alhoewel "ernstige" filosofiese of wetenskaplike geskrifte tog oor die
algemeen in Latyn geskryf is, is daar bv deur Milton en Hobbes in die
17e eeu baie invloedryke en belangrike politieke en filosofiese geskrifte
in Engels geskryf. Die letterkunde was in elk geval ook nie werklik vir
die "algemene bevolking nie", want gesofistikeerde geletterdheid was lank
nog 'n redelik spesiale voorreg. Teen die tyd dat die King James Bybel in
1611 verskyn het, was daar al 'n baie sterk herkenbare vorm van
"standaardengels". Natuurlik was daar veel gedoen in ander dialekte,
maar die geleerdes het 'n goeie idee gehad van wat in die regte kringe
aanvaar sou word en wat nie aanvaar sou word nie. Die
standardiseringsproses was natuurlik altyd nou gebonde aan politieke en
maatskaplike mag. Maar dit was 'n baie egalige en meer "natuurlike"
proses wat nie deel uitgemaak het van 'n politieke beweging wat minder
as 'n geslag gedek het nie. Dit was nooit nodig om doelbewus en oor 'n
kwessie van 'n paar jaar honderde terme vir allerhande dinge te skep nie.
Ek merk Leendert het persoonlike kennis van die standardiseringsproses. Al wat
ek keer op keer voorhou, is dat hierdie proses vir Afrikaans oneindig meer van
'n doelbewuste en ontsettend vinnige poging was as vir die Europese tale soos
Engels, en Nederlands. En hoe vinniger en hoe meer doelbewus, hoe
makliker manipuleerbaar deur 'n spesifieke groep op 'n bepaalde tyd in
die geskiedenis.
Baai
Frank
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Vr Nov 15 21:40:03 MGT 2024
|