Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Eise se eise
Eise se eise [boodskap #99351] Ma, 11 Oktober 2004 12:00
P_65  is tans af-lyn  P_65
Boodskappe: 43
Geregistreer: September 2004
Karma: 0
Volle Lid
Eise se eise
Marietie Louw

Grondeise in Hoedspruit in Limpopo, die mango- en wildsparadys van
Suid-Afrika, is besig om die ekonomie van dié gebied ernstig te knou,
berig Marietie Louw.

"Dis soos 'n klip wat jy in water gooi en sien hoe dit 'n rimpeleffek
het."

Só som mnr. Burger van Zyl van die Bousentrum in Hoedspruit die
uitwerking van grondeise op plase in die omgewing op.

Boere en grondeienaars het einde Augustus 'n groot skok gekry toe in
die Staatskoerant afgekondig is dat 518 plase, wat sowat 156 000 ha
beslaan, deur drie stamme geëis word.

Die Maroba-, Moletele- en Chiloane-stamme het intussen saamgesmelt as
die Lekaung-gemeenskap. Die stamlede woon in die Buffelshoek-omgewing
in Limpopo.

Dié gebied wat geëis word, is van die omvattendste eise tot nog toe in
die land. Dit sluit van die grootste vrugte- en groenteplase in die
land, talle rusoorde, wildplase en verpakkingsaanlegte in.

Die Hoedspruit-lugmagbasis se woongebied word ook geëis.

Die gebied waarop eise ingestel is, word begrens deur die
Tzaneen/Hoedspruit-pad, die Klaserie-reservaat en die Klaserie- en
Olifantsrivier.

"Sedert die eise in die Staatskoerant gepubliseer is, het my sake
drasties afgeneem," sê Van Zyl.

Luidens die Wet op die Herstel van Grondregte van 1994 mag geen
uitbreidings, verbeterings of verbouings geskied nie op grond waar eise
afgekondig is.

Volgens Van Zyl moes verskeie van die wildkampe en lodges hul
verbouings staak. Verskeie buitelandse beleggers van onder meer
Brittanje en Denemarke het glo reeds besluit om uit die gebied te
onttrek.

"As die ouens hoor daar is eise in die gebied, onttrek hulle so gou
moontlik. Selfs al is daar nie eise op 'n plaas nie, besluit die
aangrensende plase se eienaars om nie verder te ontwikkel nie. Niemand
weet mos wat gaan met die gebied gebeur nie," sê Van Zyl.

Werkers verminder

Die uitwerking is só erg dat Van Zyl noodgedwonge sy personeel moes
verminder.

Ander ysterwarewinkels en die koöperasie in die dorp gaan ook gebuk
onder die gevolge wat die eise inhou.

Mnr. Braam van der Merwe, voorsitter van Agri-Hoedspruit, is dit eens
dat die grondeise die gebied en die plaaslike ekonomie destabiliseer.

"Ons het verwag dat daar eise op een of twee plase ingestel sou word,
maar nie dat byna die hele distrik geëis sou word nie," sê Van der
Merwe.

Volgens hom knou die onsekerheid wat die eise meebring dié hoogs
ontwikkelde gebied waar besproeiingsplase bedryf word. Wildplase word
verkoop vir minstens R6 000 per hektaar, terwyl 'n hektaar in 'n
sitrusboord in die omgewing van R75 000 per hektaar kos.

Die bemagtigingsprojekte wat die kommersiële boere in die omgewing met
van hul werkers gehad het, is ook van die baan. In dié projekte het
boere hul werkers in boerdery opgelei. Met die hulp van lenings en
skenkings sou werkers ná sowat vyf jaar van die grond gekoop het.

Volgens Van der Merwe is die meeste grondeienaars in die omgewing seker
dat die eise ongeldig is. 'n Antropoloog is aangestel om die geldigheid
van die eise vas te stel.

Mnr. AB Burger, 'n prokureur op Hoedspruit, meen ook dat die eise
ongeldig is.

"Die grond is sedert 1878 in wit besit. Ons het van die oorspronklike
titelaktes gevind."

Volgens hom beïnvloed die eise ook die eiendomsmark negatief. Geen
eiendomstransaksies kan deurgevoer word nie.

Burger sal die grondeienaars se regsverteenwoordiger wees as die eise
'n draai in die grondeisehof gaan maak.

Hof enigste uitweg

Van der Merwe sê soos sake nou staan, is die grondeisehof die eienaars
se enigste uitweg.

Me. Adine Roode en haar ma, Lente, van die wêreldbekende
Kapama-wildreservaat, is ook van die eienaars wat die eise in die hof
wil betwis.

Volgens Roode is hulle bekommerd oor die toekoms van hul grond.

Te midde van die onsekerheid wat heers onder grondeienaars is daar nie
twyfel by die grondeisers oor die toekoms nie.

Mnr. Enos Chiloane, voorsitter van die Lekaung-gemeenskap, is baie
seker dat die sowat 5 000 lede van die drie verskillende stamme die
grond gaan terugkry.

Hy is in 1934 in die Hoedspruit-omgewing gebore en het tot in 1947 daar
gewoon toe sy ouers se grond weens apartheidswetgewing onteien is.

"Die wit mense het ons trekpasse gegee en ons het naby Moria gaan woon
en met beeste geboer," sê hy.

Volgens hom behoort die grond wettiglik aan die drie stamme.

"Ons wil die grond terugkry. Ons sê nie die wit mense moet weggaan as
ons daarheen gaan nie, ons wil saam met hulle bly," sê Chiloane.

Volgens hom sal die ideaal wees as die wit boere die grond terughuur
van die Lekaung-gemeenskap. "Die wit mense moet bly en ons leer om te
boer."

Chiloane sê die stamme sal nie tevrede wees indien die
Grondeisekommissie hulle finansiële vergoeding in ruil vir die grond
aanbied nie. "Ons wil nié vergoeding hê nie. Ons wil die grond hê."

Staak eers grondeise

Dr. Theo de Jager van Agri-Letaba sê onderhandelings tussen boere,
eisers en die Grondeisekommissie is uiters belangrik.

Volgens hom moet sessies met die eisers gehou word om hulle in te lig
oor boerdery.

"Die meeste van die eisers dink geld vloei net in 'n boerdery in. Dit
behels baie meer as dit."

Volhoubaarheid en die voortdurende ontginning van landbouhulpbronne is
ook iets wat nie verlore mag gaan nie.

De Jager meen die beste oplossing sou wees om die huidige grondeise in
die omgewing te bevries sodat 'n behoorlike onderhandelingsproses begin
kan word.

"Die toekoms van Hoedspruit en die Magoebaskloof-omgewing lê in 'n
onderhandelde skikking."

Mnr. Tozi Gwanya, hoofgrondeisekommissaris, het onlangs gesê
onderhandelings tussen boere, eisers en die kommissie gaan eersdaags
gehou word om oplossings vir die situasie te probeer vind.

Intussen gons die hele distrik oor wat moontlik kan gebeur.

Van Zyl en ander inwoners soek reeds sakegeleenthede elders om seker te
wees van hulle inkomste. "Ek is baie bang vir die toekoms. Die ekonomie
van die gebied is reeds verlam."

Mnr. Mashili Mokono, grondeisekommissaris in Limpopo, het teen druktyd
nie Beeld se vrae beantwoord oor hoe die grondeise in die twee gebiede
gehanteer sal word nie.

'n Komitee is verlede week saamgestel uit boere en grondeisers om
oplossings te vind oor hoe die grondeise in die gebied gehanteer moet
word. Die komitee sal weer in Oktober vergader.

Laeveld-eise

Phalaborwa-eis: Mashishimane-gemeenskap. Gebied met baie wildplase en
grens aan die Krugerwildtuin.

Hoedspruit-eis: Lekaung-gemeenskap. Gebied met baie wild- en
sitrusplase en rusoorde.

Strydomtonnel-eis: Maroba-gemeenskap. Gebied bekend om pomelo-uitvoer.

Trichardtsdal-eis: Sekororo-gemeenskap. Gebied bekend om sitrusplase.

Letsitelevallei-eis: Die Letswoalo- en die Mokgoloboto-gemeenskap.
Gebied bekend om piesangplase.

Soekmekaar/Munnik-eis: Pheeia-gemeenskap. Die land se grootste
tamatieboerdery, ZZ2 val in dié gebied.

Mooketsi-eis: Die Maupas en Modadji's het eise op 225 plase ingestel.
Gebied bekend om tamatieplase.

Magoebaskloof-eis: Makgobas het eis ingestel op sowat 200 000 ha.
Gebied bekend om tee-en-denneplantasies, asook verskeie
toeriste-attraksies.

George's Valley: Mathunyes eis die gebied, wat soortgelyk is aan
Magoebaskloof.

Luxemburg-eis: Botsende eise van verskillende gemeenskappe. In die
Harmonieblok. Gebied bekend om onder meer sitrusplase.

Letsitele-eis: Botsende eise van verskillende gemeenskappe. Gebied
bekend om sitrusboorde.

--
Dit is een automatische handtekening van MesNews.
Site : http://mesnews.no-ip.com
Vorige onderwerp: Spelletjie om te lokaliseer
Volgende onderwerp: Luiperd vang...
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Mei 14 14:04:26 MGT 2024