Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Baie mooi brief, maar oorgawe aan swakker waardes skemer deur
Baie mooi brief, maar oorgawe aan swakker waardes skemer deur [boodskap #97378] So, 29 Augustus 2004 05:55
Plato  is tans af-lyn  Plato
Boodskappe: 630
Geregistreer: Julie 2004
Karma: 0
Senior Lid
Hier is 'n brief uit Rapport. As mens dit vinnig sou lees kan mens amper
saamstem met die man. Sy storie oor die NNP ensovoorts is tog waar, nie
waar nie? Maar dan val alles uitmekaar aan die einde...

Nog 'n drommel wat die pot mis sit...

__________________________________________

Koester nuutgevonde vryheid van denke
JOHAN KRUGER, PRETORIA

Die betreklik min reaksie wat die insluk van die NNP deur die ANC onder
Afrikaners ontlok het, sê heelwat oor die Afrikaner tien jaar ná die
koms van die nuwe bedeling.

Dit sê onder meer dat die Afrikaner verby die oorheersing van
groepsdruk, groepsdenke en ons so bekende kuddementaliteit gegroei het.

Op enkele uitsonderings na stort niemand eintlik 'n traan oor die
verlies van die party wat hul gang, denke en lot soveel jare gedomineer
het nie.

Die Afrikaner mag nie weer dieselfde fout begaan wat hy met die NP
gedoen het nie; die nuutgevonde vryheid van denke mag nooit weer op die
altaar geplaas word nie.

Terselfdertyd moet deeglik rekening gehou word met die veranderde
omgewing waarin ons ons bevind. Te lank was die maatstawwe wat ons vir
onsself aangewend het en waaraan ons ons laat meet het dié van die
koloniale meesters. "Westers" is onkrities aanvaar as korrek en
aanvaarbaar.

Afrika is egter besig om verantwoordelikheid vir homself te aanvaar. Des
te meer, die voorskriftelikheid wat die Weste so geneig is om neer te
lê, word nie meer sito-sito aanvaar nie.

Enersyds word bendes wat etniese moorde pleeg, verdoem as terroriste,
maar andersyds word die samestelling van die Veiligheidsraad gekritiseer
en vind vereenselwiging met die lot van die Palestyne in Israel plaas.

Dit is nou die tyd dat die Afrikaner sy naam gestand doen en hom krities
maar uitdruklik assosieer met Afrika-maatstawwe en finaal afstand doen
van sy koloniale verlede.

Dit vra nie lidmaatskap van 'n bepaalde politieke party nie. Dit vra ook
nie prysgewing van die eie in enige opsig nie. Sonder om in "bruikbare
idiote" sonder standpunt te ontaard, kan ons egter op deurdagte,
kritiese wyse openlike steun aan die leiers op ons vasteland gee wat
ernstig poog om aan Afrika, en ons as deel daarvan, 'n eie stem te gee
en die ganse kontinent se lot te verbeter.
Vorige onderwerp: Plan met Kortbroek?
Volgende onderwerp: Bitterbek Sam
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 01 23:56:58 MGT 2024