Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Wreedheid van plaasmoorde bevestig alternatiewe motiewe
Wreedheid van plaasmoorde bevestig alternatiewe motiewe [boodskap #96282] Sa, 07 Augustus 2004 16:32
Just-me  is tans af-lyn  Just-me
Boodskappe: 37
Geregistreer: Junie 2004
Karma: 0
Volle Lid
Wreedheid van plaasmoorde bevestig alternatiewe motiewe

(Deur Jakkie Basson)

DIE plaasmoorde wat die afgelope week plaasgevind het, bevestig
nogeens dat ander motiewe daaragter skuil, al verkondig ANC-gesinde
koerante nogeens dat dit uitsluitlik aan misdaad toegeskryf moet
word.

Net buite Nylstroom op die Vaalwaterpad is mnr Koos Potgieter op sy
plaas Donkerpoort vermoor.

Nadat mnr Potgieter reeds 'n volle dag weg was, is sy lyk deur sy
vrou agter die skuur op die plaas aangetref. Omdat hy dikwels met
besigheid weg is, was sy nie bekommerd nie, en het nie dadelik na
hom begin soek nie. Sy het eers laat die volgende middag op die lyk
afgekom. Toe het sy ook ontdek dat haar vuurwapen weg is.

Mnr Potgieter is met 'n graaf aangeval en met 'n nylontou aan 'n
voëlhok vasgemaak. 'n Tou is om sy nek vasgebind en aan 'n boom
vasgemaak. Die boewe het 'n swaar yster op die tou gesit, en sy
bene onder 'n boomstomp vasgepen. Hy is verwurg. Daar was tekens
aan sy lyk wat toon dat hy gestoei het om die tou om sy nek te
verslap om te keer dat hy doodwurg.

Die polisie het die lyk heelnag daar laat lê, aangesien hulle nie
bewysstukke wat in die donkerte verborge gelê het, wou versteur nie.

Die wreedste moord was egter dié op mnr Rudi Botes van die plaas
Genade in die Bultfontein-distrik in die Vrystaat. Hy is
wreedaardig gemartel voordat die booswigte hom uiteindelik op
teregstellingswyse in die agterkop geskiet het. Vermoedelik is hy
met sy eie vuurwapen geskiet.

Toe mnr Botes in sy huis aangetref is, was sy hande met elektriese
draad agter sy rug vasgebind. Sy ooglede is afgesny, en hy is
met 'n hamer oor die kop geslaan. Daar is tekens van 'n woeste
geveg, wat aandui dat mnr Botes hom heftig teen sy aanvallers verset
het voordat hulle hom oorrompel en vasgebind het. Gebreekte
wynglase het oral in die sitkamer rondgelê. Daarna het die
marteling begin. Sy lyk toon dat hy ernstig aangerand is voordat hy
geskiet is. Die polisie het sy lyk in 'n halfnaakte toestand in die
huis aangetref. Die boewe het sy selfoon, videomasjien en juwele
geneem. Hulle het met sy bakkie ontvlug, wat deur die polisie digby
die lokasie opgespoor is. Sy beursie met geld is onaangeraak saam
met 'n aantal laserskywe in die bakkie gevind.

Die gewese bediende van mnr Botes is na die moord in hegtenis
geneem. Sy het aangevoer dat sy 'n verhouding met mnr Botes gehad
het. Saam met haar is nog 'n swart vrou en twee swartes in hegtenis
geneem. Die bediende het ongeveer 03:00 by die polisiekantoor die
moord aangemeld en beweer dat mnr Botes by haar in die lokasie
gekuier het toe hulle deur twee swartes aangeval is. Mnr Botes se
lyk is egter in die sitkamer van sy huis op die plaas aangetref. Sy
beweer dat mnr Botes deur die swartes ontvoer is. Mnr Botes se
bakkie is langs die pad naby die lokasie aangetref. Die polisie het
mnr Botes se buurman, mnr Herman Meiring gebel, en hy is saam met
hulle na die plaashuis. Dit was nodig, omdat slegs hy die kwaai
honde op die plaas onder bedwing kon hou. Dit laat ook die vraag
ontstaan hoe die swartes met mnr Botes se lyk in die huis kon kom
met die kwaai honde op die werf.

Daar word vermoed dat die bediende die huis vir die swartes moes
oopgesluit het. Sy is in hegtenis geneem omdat die polisie nie haar
weergawe van die storie glo nie.

Mnr Botes se vrou het in 'n ander huis op die plaas geslaap toe die
aanval plaasgevind en haar man vermoor is. Dié is omtrent 200m van
mnr Botes se huis.

Die wreedaardigheid van die aanval dui soos in soveel ander gevalle
daarop dat diefstal nie die hoofrede vir die aanval, marteling,
skending van mnr Botes se liggaam en sy koelbloedige doodskiet was
nie.

Die saak is uitgestel tot 13 September en die vier verdagtes word
aangehou.
Vorige onderwerp: Kaapse weer
Volgende onderwerp: NANC(y)?
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 16 04:39:41 MGT 2024