Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die betekenisse van woorde.
Die betekenisse van woorde. [boodskap #9602] Do, 29 Mei 1997 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Dit is nou lente hier by ons in Ontario. Die wit
bloeisels is al uit en die pienk van die "flowering
crab apples" sal oor 'n week of so vir 'n mens
dronk maak van al die kleur in die tuine en lanings.
In Ottawa waar ek bly is daar 'n "Experimental
Farm" sommer so half in die stad, waar Agriculture
Canada allerhande eksperimente met plante doen.
Daar is 'n arboretum waar 'n mens nou allerhande
wilde Kanadese plante in lentetooisel kan sien. Ek
hou daarvan om in 'n boord te staan en die lente-
bloeisels stadig op my te voel val. Dan voel ek soos
'n bruid. Dis dan dat ek somtyds ook wonder wat die
woord "bruid" beteken.
Ons is so geneig om woorde op ego-sentriese
manier net op onsself te betrek. Was ek alleen 'n bruid
lank gelede toe ek getrou het? Of kan ek vandag nog,
somtyds, 'n bruid wees en soos 'n bruid voel? Ek voel
so, wanneer die lentebloeisels op my val.
Daar is ander woorde wat 'n mens eintlik moet los-
maak van dit wat hulle meestal vul. Soos "koningin" of
"koning." Wat beteken die woord as jy dit nie sien as
net 'n titel vir iemand wat tydelik daardie funksie vervul
nie? Watter mag het die konsep "koning(in)" tog nie!
Dit verbaas my altyd dat die afstammelinge van baie
Germaanse rasse (wat tog eintlik baie patriargaal is) so
bereid is om deur koninginne regeer te word.
Dan ook die woord "le"er" (army, soos in Salvation
Army) en "oorlog" (war). Hoe jammer dat ons daardie
woorde byna uitsluitlik nou gebruik wanneer daar van
geveg en geweld gepraat word. Wat beteken "oorlog"
as ons die element van geweld daaruit haal? Dan beteken
dit dat 'n mens groepe mense kies en oplei om saam 'n
belangrike taak uit te voer. Hoe wonderlik sou dit wees
as ons uiteindelik op hierdie aarde alleen oorlog maak
teen armoede en siektes en pestilensies, en regimente
van mense oplei om dit te doen. Ons het dit nou hier die
afgelope tyd so mooi ondervind toe lede van die Kanadese
le"er na Manitoba gestuur is om mense daar by te staan
en die vloedwaters te beveg.
Somtyds dink ek ook aan die woord "Afrikaner" en "nasie"
en maak hulle leeg van al die konnotasies wat hulle as 't ware
besmet vir sommige mense in die huidige Suid-Afrika. Dan
vind ek 'n stellasie van betekenis in die woord "nasie" wat
kosbaar is. En die woord "Afrikaner." Vir my was daardie
woord nog altyd 'n verwekker van energie. As ek aan 'n
Afrikaner dink, dan tintel my bloed. En dis nie omdat ek uit
daardie stam kom nie. Afrikaners kom uit 'n gesonde en
vars gene-poel, hulle is meestal baie intelligent en veel-
sydig, en mense oral in die wereld waar ek nog was het 'n
gesonde respek vir hulle. Hulle kan atoombomme maak as
hul wil, en hulle weer ontmantel as dit moet. So nou en dan
begaan hulle foute, maar hulle weet hoe om dit reg te maak
as hulle die lig sien.
Ondertussen staan ek in die boorde vol lentebloeisels
op die walle van die Rideau-rivier en dink aan wat "bruid"
beteken: is dit iemand wat bereid is om verkore te wees,
om 'n verhouding aan te gaan, om die grond te wees
waarin die seisoene van die mens hulle gang kan gaan?

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Re: DUTCH AFRIKKAN. I am a racist!
Volgende onderwerp: Bewaarkloof - antwoord
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 29 07:02:07 MGT 2024