Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Ster tref die aarde
Ster tref die aarde [boodskap #9470] Vr, 23 Mei 1997 00:00
Koos[1]  is tans af-lyn  Koos[1]
Boodskappe: 746
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Daar was 'n tyd terug 'n bietjie van 'n bespreking oor oerbeweging van
die aarde onder SA.

Die artikel verskyn in Beeld:

Sowat 2 000 miljoen jaar gelede het 'n objek wat waarskynlik net so
groot was soos die asteroïde wat na bewering die dinosourusse 65
miljoen jaar gelede laat uitsterf het, die aarde in die omgewing van
Vredefort in die Vrystaat getref.
^Die tekens is vandag nog in die omgewing te sien.
^Dit is een van verskeie impak-punte uit die aarde se verlede wat
deesdae deur wetenskaplikes ontdek word.
^Drie geoloë van Potchefstroom, dr. Martin Brink, prof. Andries
Bisschoff en dr Frans Waanders van die departement Metallurgiese
Ingenieurswese aan die Potchefstroomse Universiteit, het die
Vredefont-gebeurtenis van miljarde jare gelede nagevors en die
struktuur daarvan ontrafel.
^Hulle sê die gebeurtenis was feitlik presies 2000 miljoen jaar
gelede.
^"Geen oorblyfsel van die meteoriet is behoue nie. Ons spekuleer egter
dat dit iets soos 'n asteroïde of komeet kon gewees het soortgelyk aan die
Shoemaker-Levy-komeet wat Jupiter in 1994 getref het, maar moontlik
sonder om op te breek," sê hulle.
^"Ons noem dit steeds 'n meteoriet, in die sin dat dit 'n ruimteliggaam
was wat die aarde se oppervlak bereik het sonder om uit te brand.
^Ongelukkig kan 'n mens nie die grootte presies aflei nie.
^"Al gegewe wat ons het, is die projeksie van die grootte van die
oorspronklike krater (ongeveer 90km in deursnit en meer as 20km diep).
^"Variante waarvan ons nie genoegsame getuienis het nie, is die
komplekse versameling van gesteentes in die teikengebied, almal met
verskillende sterktes en die hoeveelheid energie nodig om 'n
ontploffing te
veroorsaak wat so 'n hoeveelheid materiaal kan verskuif.
^"Die energie hang nie net van die massa van die meteoriet af nie, maar
ook van die snelheid waarmee dit die aarde tref. Omdat die grootte van
die krater dus van die tussenwerking van verskeie onbekende faktore
afhanklik was, kan ons net hieroor spekuleer.
^"As ons die Amerikaanse spekulasies wil navolg, kan ons (met min
gronde) spekuleer oor 'n objek van tussen 4 en 5km in deursnit en wat
met 'n snelheid van ongeveer 30km per sekonde die aarde getref het.
^"Maar ons is dalk beskeie. Die Vredefortstruktuur en die van Chicxulub
by die Yucatan-skiereiland in Mexiko was oorspronklik omtrent ewe
groot, dus kon die meteoriet of naby ewe groot gewees het. Hulle praat
volgens berigte van 'n deursnit van ongeveer 10km."
^Die impak het plaasgevind voor die opbreek van die kontinente baie
lank gelede. Dit moes dus 'n ou superkontinent getref het.
^"Lewe op die aarde was toe waarskynlik beperk tot baie eenvoudige
vorms. Strukture genoem stromatoliete, soos nog steeds deur
hedendaagse alge onder water gebou word, word gevind in die dolomiet
van die Transvaal-Supergroep, wat deel van die teikenrotse was. Dit lyk
dus of daar geen dramatiese groot uitsterwing van hierdie organismes
gevolg het nie, moontlik omdat hulle wydverspreid oor die aarde onder 'n
beskermende laag water geleef het.
^"Tydens sy vorming ondergaan 'n krater soos hierdie 'n ingewikkelde
evolusie. 'n Oorgangskrater word gevorm tydens die oomblikke wat volg
op impak," sê hulle.
^"Die oorgangskrater het egter 'n baie beperkte lewe, en val byna
onmiddellik weer toe deur materiaal van die steil wande. Tydens hierdie

proses word die deursnit van die uiteindelike krater dus vergroot.
^"Uiteindelik tree die proses van isostasie in werking, wat beteken dat
die verdunde kors van die aarde onder die groot gat (die kors is verdun as
gevolg van die hoeveelheid materiaal wat verwyder is) nou hoër op die

swaar materiaal van die aarde se mantel sal begin dryf.
^"Opheffing van die vloer vind dus plaas; die vloer word opgelig en word
na miljoene jare weer met die omgewing gelyk gemaak. Die proses is
langsaam, omdat die materiaal van die kors nie vloeibaar soos water is
nie. Ons sien dus nie meer die gat nie, maar 'n opwelling van swaar
mantelmateriaal onder die ou krater wat nou as 'n swaartekrag-anomalie waarneembaar is.
^"Tydens die proses van kratervorming, onmiddelik na impak, word
egter in die geval van groot kraters soos die van Vredefort en Chicxulub
(en Orientale op die Maan, Hellas op Mars en ander strukture op ander
lede van ons sonnestelsel) verder ringe konsentries om die krater gevorm.

^"Die oorgangskrater se deursnit mag 90km gewees het, maar die
uiteindelike struktuur van die astrobleem (sterreletsel) was baie groter.
Ons sien nou slegs die wortel van die oorspronklike struktuur, nadat die
meeste daarvan deur erosie van 2000 miljoen jaar verwyder is. Hierdie
oorblyfsel bestaan uit die vloergesteentes van die oorspronklike krater en
twee herkenbare, konsentriese ringe, met 'n totale deursnit van ongeveer 160km.
^As 'n mens dit sou projekteer na die grondoppervlak soos dit voor
erosie was en die debatteerbare, moontlike oorblyfsel van 'n derde ring
wat in die noordweste sigbaar is, sou bytel, was die oorspronklike
struktuur byna tweemaal so groot. Maar weer, ons weet nie presies nie.
^Die bekende worteloorbyfsel strek van Kroonstad tot noord van
Carletonville en Klerksdorp tot by Heilbron.
^Die groot struktuur het dus bestaan uit 'n krater met konsentriese plooie
en verskuiwings in ringe daarom gerangskik. Duidelike behoue tekens van
die groot struktuur is die plat gebied in die omgewing van Vredefort en
Parys, wat die ophehefde kratervloer vorm; die rante om hierdie gebied,
noord van Parys en wes van Vredefort, wat 'n deel van die behoue eerste
ring vorm, die groot vallei van die Loopspruit wat konsentries om hierdie
ring strek van naby Vereeniging af, verby Potchefstroom na die Vrystaat;
en die Fochvillerante waarvan die Gatsrand 'n deel vorm, wat 'n deel is
van die tweede ring.
^Die Loopspruitvallei is 'n afplooi of sinklien, wat onder geoloë as die
Potchefstroomsinklinorium bekend is. Ongelukkig leë die suidelike helfte
van die struktuur in die Vrystaat onder jonger lae van die
Karoo-Supergroep begrawe, wat ongeveer 1500 miljoen jaar na die
impak oor die verweerde oorblyfsel afgeset is.
^Die Vaalrivier het bo-op die jonger lae van die Karoo ontstaan en het
later sy pad deur erosie seur die onderliggende stuktuur ingekerf.
^Vredefort is die grootste krateroorblyfsel wat tot dusver in goeie detail
beskryf is,
^ Volgens die navorsers weet hulle nie van iets groter op die aarde wat
sonder twyfel 'n astrobleem is nie, maar Andreoli en andere van die
Witswatersrand Universiteit van die Witwatersrand het by die 1995
kongres van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika 'n beskrywing
gegee van 'n struktuur, begrawe onder die Kalaharisand, met 'n
middelpunt naby Morokweng. Hierdie struktuur kan veel groter wees,
maar is nie goed sigbaar nie.
^Proff. Rob Hargraves van Princeton en Arthur Fuller van Kaapstad het
reeds ion 1981 voorgestel dat 'n ringstruktuur onder die Karoogesteentes
bestaan by Reitz, met 'n deursnit van meer moontlik tussen 350 en 500 km.
^Hierdie struktuur kom in die diep vloergesteentes voor en was
waarskynlik soos Vredefort ook aan erosie onderwerp.
Vorige onderwerp: Bewaarkloof
Volgende onderwerp: New Spelling
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Jun 06 01:21:11 MGT 2024