Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Sport & ontspanning » RUGBYSPROKIE!
RUGBYSPROKIE! [boodskap #92069] So, 11 April 2004 19:32 na volgende boodskap
Frikkie Potgieter[2]  is tans af-lyn  Frikkie Potgieter[2]
Boodskappe: 439
Geregistreer: November 2000
Karma: 0
Senior Lid
Onlangs sit die diere van Afrika langs 'n Hardekoolvuur by die
Olifants en stry oor wie is nou eintlik die beste in dit en dat. Na 'n
ruk is Koning Leeu goed dik vir die spulletjie, en nadat hy 'n goeie
sluk uit sy blikbeker gevat het, roep hy hulle tot orde.

"Kyk," sê hy vanuit die hoogte, "ek het nou genoeg gehad. Volgende
Saterdag pak julle mekaar op die rugbyveld. Die groot diere speel teen
die insekte en ander goggas. Sekretarisvoël sal skeidsregter wees."

Die hele week was dit 'n groot geskarrel om alles reg te kry. Spanne
is gekies, en die diere wat nie betrokke was nie, het die veld reg
gekry. Teen Saterdag was daar 'n feestelike stemming.

Toe Sekretarisvoël sy fluitjie blaas, was die pawiljoene gepak. Die
spanne draf op onder luide toejuiging. Eers die groot diere: Heelagter
- Koedoe, Vleuels - Rooibok en Hartebees, Senters - Njala en Duiker,
Losskakel - Springbok, Skrumskakel - Klipspringer, Agtsteman - Eland,
Flanke - Buffel en Blouwildebees, Slotte - Kameelperd en Sebra, Stutte
- Olifant en Seekoei, Haker - Renoster(kaptein). 'n Formidabele span
in enige ou se boek.

Toe die insekte opdraf, raak die skare histeries: Perdeby, Vlieg en
Naaldekoker, Muggie en Muskiet, Skoenlapper, Vlooi(kaptein), Kakkerlak
en Rysmier, Stokinsek en Hottentotsgod, Miskruier en Toktokkie, met
Bosluis op haker.

Net voor die afskop is daar 'n verbyvlug van verskillende voëls, in 'n
verskeidenheid van formasies. Nadat 'n klomp tortelduiwe seremoniëel
vrygelaat is, kom 'n gompou gevaarlik laag oorgevlieg, met 'GO BUGS'
onder sy vlerke geverf. Natuurlik, alles tot groot vermaak van die
skare.

Van die afskop af sukkel die insekte hul vrek. Dinge wil nie vlot in
die skrums nie. Kameelperd oorheers die lynstane. Buffel is genadeloos
in in die losspel. Die groot diere wen elke bal. As hulle met die
voorspelers dryf, is Olifant en Seekoei onstuitbaar. As hulle wyd
speel, is daar geen keer aan Haretebees, Rooibok en Koedoe nie. Hulle
druk drieë asof dit uit die mode raak. Springbok skop net nie mis nie.
Rustyd is die telling 50-0.

Na rustyd lyk dit of Vlooi se hardpratery gehelp het. Daar is nuwe
lewe onder die insekte, en hulle druk die ou groottes meters terug in
die skrums. Duisendpoot wen balle agter in die lynstaan. In die
losskrums gaan dit verwoed, en hulle begin daar oorheers. Die bal gaan
seepglad met die agterlyn af, en Muggie, Perdeby en Naaldekoker begin
die drieë inryg. Muskiet se skopskoen is dodelik. Skoenlapper dartel
deur die verdediging. Duisendpoot duik die groottes disnis - selfs
Kakkerlak, wat 'n stillerige eerste helfte gehad het, lak die dinges
uit hul uit.

Twee minute voor die einde klits Skoenlapper 'n skepskop oor, en die
telling is 51-50! Van die inskop af dryf die groot diere verwoed.
Renoster kry die bal 5 treë van die doellyn af, en gáán vir die
hoekvlag. Met 'n bomenslike poging duik Duisendpoot hom op die
hoekvlag uit. Die eindfluitjie blaas. Die skare se vreugde ken geen
perke nie.

"Waar was jy in die eerste helfte, toe ons so gesukkel het?" vra Vlooi
vir Duisendpoot toe hulle afstap.

"In die kleedkamer, besig om my stewels vas te maak!"
Re: RUGBYSPROKIE! [boodskap #92096 is 'n antwoord op boodskap #92069] Wo, 14 April 2004 08:37 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Jonas  is tans af-lyn  Jonas
Boodskappe: 1070
Geregistreer: September 2001
Karma: 0
Senior Lid
Mooi so Frikkie!
Re: RUGBYSPROKIE! [boodskap #92099 is 'n antwoord op boodskap #92069] Wo, 14 April 2004 13:50 Na vorige boodskapna volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
"Frikkie Potgieter" wrote

> Onlangs sit die diere van Afrika langs 'n Hardekoolvuur by die
> Olifants en stry oor wie is nou eintlik die beste in dit en dat.

Ek sien nie waar Frikkie Potgieter êrens die skrywer
van hierdie stuk erken nie. Dit is dus totaal plagiaat.
Die stuk is geskryf deur HENRI BURGER en is
getiteld "Rugbysprokie." Dis een van die baie
stories wat mens kan vind op Henri Burger se
tuisblad onder die seksie Hardekoolstories. Ek
wil vir almal aanmoedig om hierdie tuisblad te
besoek en al die stories te lees. ( Henri Burger
is die skrywer van die briefies wat Hennerietjie
'n ruk gelede op die nuusgroep gepos het. Ek
wens ek kan weer 'n briefie van Hennerietjie
af kry.)

Gloudina
Re: RUGBYSPROKIE! [boodskap #92162 is 'n antwoord op boodskap #92099] Vr, 16 April 2004 19:49 Na vorige boodskap
flinder  is tans af-lyn  flinder
Boodskappe: 11
Geregistreer: Mei 2003
Karma: 0
Junior Lid
Ja, rerig, Frikkie. Probeer weer, hoor.
Plagiaat is nie mooi nie, man.

> Ek sien nie waar Frikkie Potgieter êrens die skrywer
> van hierdie stuk erken nie. Dit is dus totaal plagiaat.
> Die stuk is geskryf deur HENRI BURGER en is
> getiteld "Rugbysprokie." Dis een van die baie
> stories wat mens kan vind op Henri Burger se
> tuisblad onder die seksie Hardekoolstories. Ek
> wil vir almal aanmoedig om hierdie tuisblad te
> besoek en al die stories te lees. ( Henri Burger
> is die skrywer van die briefies wat Hennerietjie
> 'n ruk gelede op die nuusgroep gepos het. Ek
> wens ek kan weer 'n briefie van Hennerietjie
> af kry.)
>
> Gloudina
>
Vorige onderwerp: Rugby
Volgende onderwerp: Rugby - Stormers
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 18:53:27 MGT 2024