Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » 'n Komeet in die laatwinter.
'n Komeet in die laatwinter. [boodskap #8972] Do, 03 April 1997 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
In die middel van die groot Noord-Amerikaanse
vasteland weet 'n mens hierdie tyd van die jaar nie
of dit laat-winter of vroeg-lente is nie. Sneeu is nog
meestal wit op die grond. Die Ottawa-rivier is nog
verys. Dit het egter hier en daar 'n paar groot krake
ontwikkel en die water wys blou daar. Daar is nog
gereeld sneeuvalle. Maar die son is al so sterk dat die
sneeu op die paaie baie vinnig smelt nadat dit geval het.
Die dae is ook sommer 'n hele klomp langer. Waar die
son halfvyf ondergegaan het drie maande gelede, gaan
dit nou ongeveer halfsewe onder. Dit kom omtrent die-
selfde tyd in die oggend op. Dis 'n hele klomp daglig
wat niemand teveel in die oggend gebruik nie. So, aan
die einde van die maand neem hulle een uur van die
ligte oggend af en las dit aan die einde van die dag aan.
Skielik gaan die son aguur onder in plaas van sewe-uur.
Dan wil ons net ons karre vat en ry. Somtyds vind ons
ons fout te laat uit. Daar is nog sommer swaar lente-storms
tot aan die einde van April. Ek kan onthou dat ons eenkeer
sneeu gehad het op 5 Mei in die Niagara-skiereiland, wat
die mees suidelike deel van Kanada is. Die vorige middag
het ons na die bloeisels gaan kyk. Die volgende oggend is
ons kar toe onder die sneeu.
Verlede week het ek die Hale-Bopp komeet gesien, een
uur na sononder. Met die kaal oog het dit net soos 'n groot
ster gelyk. Maar met 'n verkyker kon 'n mens duidelik die
stert sien. Mense wat buite Ottawa bly en dus weg van die
stad se ligte, vertel dat die stert met die blote oog duidelik
sigbaar was. Dit laat mens effens snaaks voel om te dink dat
hierdie komeet laas sigbaar op aarde was voor die geboorte
van Christus.
Ons wag nou hier in Oos-Ontario geduldig op die lente.
Ons weet dis al lente na ons suide. Eenkeer het ons begin April
met die kar afgery Florida toe. Dit was te mooi om te sien
hoe verder gevorder die lente is, hoe meer suid jy ry. Hier by
New York se kant was daar net botsels aan die bome, bietjie
verder af bloeisels, dan "dogwoods" langs die pad. Uiteindelik
azaleas orals. En hier teen die middel van April, siedaar, 'n
jakarandaboom in volle bloei in Florida.
Ons sal nog 'n paar weke moet wag vir ons lente. Maar
een dag, weet ek, sal ek gaan stilstaan om na 'n klomp mossies
te kyk wat besig is om te pik waar die sneeu al gesmelt het teen
die warmer muur van 'n gebou. Dan skielik sien jy dit daar
staan. In die modder en naby 'n hopie vuil sneeu: jou eerste
krokus!

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: BETREKKING VAKANT
Volgende onderwerp: "Sien jy daai boom? - bring hom hier, ek wil hom rook"
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Jun 03 07:56:47 MGT 2024