Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » DIE HOENDERS EN DIE DEEG
DIE HOENDERS EN DIE DEEG [boodskap #8894] Wo, 26 Maart 1997 00:00
dm...  is tans af-lyn  dm...
Boodskappe: 13
Geregistreer: Januarie 1997
Karma: 0
Junior Lid
TOE my skoonma pas getroud was wou sy probeer broodbak en sy het alles
gedoen soos sy gedink het dat haar ma dit gedoen het.
Die deeg het egter nie warm genoeg gekry nie en wou nie rys nie. Sy wou nie
hê haar bruidegom moes dink sy is dom of 'n slegte vrou nie en was
vreesbevange dat die brood neergeslaan en so swaar soos 'n klip sou wees.
Sy vat toe die skottel met brooddeeg en gaan gooi dit in die hoenderhok en
hoop maar die dom hoenders sal dit oppik voordat haar man van die werk af
kom.
Toe die son warm word begin daardie bondel deeg te rys en die hoenders het
daaraan begin pik en skrop en toe skoonpa die middag gaan eiers uithaal
slof en hobbel al wat 'n hoender is met 'n bol deeg aan elke voet en vere
en hoendermis is daaraan vasgeplak en dit lyk of almal skielik
olifantsiekte onder lede het.
Skoonpa skrik hom skoon in 'n nuwe bloedgroep in vir die vreemde verskynsel
en skree vir skoonma sy moet haar ma bel om gou te kom kyk wat met die
hoenders aangaan. Sy skrik haar weer flou, want sy dink toe die deeg het
hulle siek gemaak en gaan sluit haar in die kamer toe en huil haar oë dik.
Toe sy nie die deur wil oopmaak nie en hy hoor hoe sy huil, spring skoonpa
op sy dikwielfiets en jaag na haar ouers se huis en sê daar is groot fout.
Al die hoenders is siek en nou is sy bruid ook in trane en dalk nog siek
ook.
Sy skoonouers kom toe met gehuurde vervoer en bleek om die kiewe daar aan
en die jong bruid is toe al kliphard besig om die hoenders met 'n emmer
warm water en seep te bad en 'n paar bedremmeldes staan toe al druipnat,
sonder hulle gestewelde spore eenkant.
Na nog baie trane en verleentheid is die waarheid uit en haar pa wou hom
natuurlik doodlag. Haar ma en haar bruidegom het egter meer simpatie betoon
en het maar in die mou gelag en later laat skater.
Ek dink nie daar is die dag baie eiers gelê nie. Hoenders skrik mos baie
maklik hulle lê weg. Skoonma het wel baie vinnig leer broodbak, want sy was
sommer 'n baasbakster toe ek haar seun leer ken het.
Ek dink dis ook maar goed die hoenders het nie veel gelê die dag nie, want
met die warm deeg en die eiers daarin kon hulle dalkies "eggburgers" gelê
het, sommer warm uit die oond of is dit nou warm uit die hoender.

Het jy nie 'n lekker storie/staaltjie soos die een hierbo nie, stuur dit
ASSEBLIEF aan my. E-pos dit na dm...@pixie.co.za

Gaan kuier sommer vir ons tuisblad met soorgelyke goed
http://www.pix.za/nakkie-die-nar

Groete,

Danie
Vorige onderwerp: Feminisme
Volgende onderwerp: Re: Jan, jou stoute bliksim
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 29 05:57:53 MGT 2024