Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Gesin verpletter oor 2 vrygespreek is van moord op Monique
Gesin verpletter oor 2 vrygespreek is van moord op Monique [boodskap #88112] Di, 09 Desember 2003 17:21
Frikkie Potgieter[2]  is tans af-lyn  Frikkie Potgieter[2]
Boodskappe: 439
Geregistreer: November 2000
Karma: 0
Senior Lid
Gesin verpletter oor 2 vrygespreek is van moord op Monique
08/12/2003 22:04 - (SA)

LLEWELLYN PRINCE

KAAPSTAD. - Die onbetroubaarheid van staatsgetuies het veroorsaak dat
albei verdagtes in die saak ná die moord op die gestremde Monique
Valentine (15) gister hier in die hooggeregshof vrygespreek is.

Só het regter Anton Veldhuizen gesê toe hy mnre. Mbulelo en Thomas
Molwana op vier aanklagte vrygespreek het. Hulle het tereggestaan op
aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die besit
van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Die saak het gespruit uit 'n voorval op 3 September verlede jaar
waarin drie mans 'n minibus met leerders van die Oasis-skool vir
verstandelik gestremdes in Wesbank gekaap het.

Die groep het eers die minibus se bestuurder, mnr. Carl Adriaanse,
beroof terwyl hulle agt leerders uit die bussie geboender en met
Monique weggejaag het.

Monique, van Malibu Village, is minute later met 'n koeëlwond in die
maag by die bussie uitgeslinger. Sy het die volgende dag aan dié wond
beswyk.

Mbulelo is weke later op 'n uitkenningsparade as een van die rowers
deur Adriaanse en 'n ander getuie, me. Miriam Daniels, geëien. Daniels
het in haar getuienis erken dat sy voorheen 'n seksuele verhouding met
Mbulelo gehad het.

Die ander beskuldigde is later aangekeer. Albei het skuld ontken.

Veldhuizen het gesê sowel Adriaanse as Daniels se weergawes in die hof
verskil van die verklarings wat hulle kort ná die voorval by die
polisie afgelê het.

Volgens hom is daar groot twyfel oor die beskrywing van die kleredrag
en die fisieke beskrywing wat dié twee sleutelgetuies verskaf het.

Hy het ook gesê Adriaanse en Daniels het die beskuldigdes al voorheen
gesien "en dit is nie verbasend dat hulle op 'n uitkenningsparade as
die verdagtes uitgeken is nie".

Veldhuizen het gesê die twee se getuienis was van so 'n aard dat selfs
die Molwanas se versuim om in die verhoor te getuig, nie die staat se
saak kon red nie.

"Daarvoor is die hof gevolglik tevrede dat die staat nie bo redelike
twyfel kon bewys dat enigeen van die twee beskuldigdes deelgeneem het
aan die misdade nie en word albei op alle aanklagte vrygespreek."

Mnr. Joseph Valentine, Monique se pa, het gesê sy gesin is verpletter
deur die uitspraak. "Ons voel verskriklik ongelukkig hieroor. Ons het
gesien ons pak 'n verlore stryd omdat dit tydens hofverrigtinge al
geblyk het dat niemand ons saak vir ons veg nie."
lpr...@dieburger.com

http://www.news24.com/Die_Burger/WesKaap/0,,4-1410_1456748,0 0.html
Vorige onderwerp: Bitter Kersfees
Volgende onderwerp: Die Rand
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Jun 12 16:14:47 MGT 2024