Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Afrikaans los kokon
Afrikaans los kokon [boodskap #87941] Vr, 05 Desember 2003 08:39
Frikkie Potgieter[2]  is tans af-lyn  Frikkie Potgieter[2]
Boodskappe: 439
Geregistreer: November 2000
Karma: 0
Senior Lid
Afrikaans los kokon
Annie Olivier

Gooi drie Afrikaanssprekendes bymekaar en jy kry vier kerke en vyf
politieke partye.

Of só lui die grappie oor Afrikaanssprekendes se berugte
eiesinnigheid en skynbare onvermoë om saam te werk.

Gerugte dat Afrikaanse organisasies begin saamstaan en dít boonop
oor 'n nasionale strategie vir Afrikaans, laat sommige wenkbroue dus
behoorlik lig. Al het nog net enkele berigte hieroor verskyn, woel
dit agter die skerms, sê dié wat weet.

Die idee van 'n nasionale strategie vir Afrikaans kom van die
Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), 'n subkomitee van die Pan-
Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat), wat ook die proses daaromheen
dryf.

Die NTLA beplan 'n nasionale beraad in Mei 2004 oor 'n strategie
waarby alle rolspelers betrek sal word.

Dié liggaam het ook die FAK (Federasie van Afrikaanse
Kultuurverenigings) gevra om 'n landwye peiling te doen van
organisasies wat op die een of ander wyse by Afrikaans betrokke is,
wat hul aktiwiteite behels en watter hulpbronne hulle het.

Voorbeeld vir ander

Maar wie of wat is die NTLA, wat wil die organisasie bereik met 'n
strategie vir Afrikaans en wat onderskei dié inisiatief van soveel
ander?

Die NTLA is een van die subkomitees wat gestig is om uitvoering te
gee aan Pansat se grondwetlike opdrag om veeltaligheid in Suid-Afrika
te bevorder. Pansat het 'n nasionale taalliggaam vir elke amptelike
taal geskep met die doel om dié taal te bevorder en Pansat daaroor te
adviseer.

Afrikaans is die verantwoordelikheid van die NTLA, met dr. Christa
van Louw as voorsitter en prof. Wannie Carstens van die
Potchefstroomse Universiteit as ondervoorsitter.

Dié twee het die afgelope paar maande al met verskeie organisasies
vergader om hulle in te lig oor die NTLA. Volgens Van Louw het hulle
die "wrede ontdekking" gemaak dat organisasies nie weet hoe die
strukture van Pansat werk of hoe hulle dit kan gebruik om hul
taalregte op te eis nie.

Hulle het ook voorbrand gemaak vir 'n nasionale beraad met die oog op
die opstel van 'n strategie vir Afrikaans.

Die idee van só 'n strategie word sterk ondersteun deur prof. Cynthia
Marivate, uitvoerende hoof van Pansat. Marivate het aan die NTLA gesê
as die strategie vir Afrikaans slaag, kan dit as voorbeeld dien vir
al die amptelike tale en daarom het sy R10 000 beskikbaar gestel vir
hul aanvoorwerk.

"Afrikaans is 'n nasionale bate en daarom moet daar 'n nasionale
strategie vir Afrikaans wees. Ons wil al die rolspelers bymekaar kry
om te praat oor hoe Afrikaans haar hoër funksies as amptelike taal
kan uitoefen en hoe menslike hulpbronne in dié taal ontwikkel kan
word," sê Van Louw.

"Regoor die land is organisasies besig met verskillende inisiatiewe
vir die bevordering van Afrikaans. Ons moet egter besin oor waar ons
as taalgemeenskap is, waar ons wil wees en watter hindernisse in ons
pad staan om daar uit te kom."

Kom self met 'n plan

Van Louw sê die NTLA wil nie bestaande inisiatiewe ontmoedig nie,
maar eerder hul hande sterk deur 'n koördinerende rol te speel.

"Die peiling wat die FAK doen, kan byvoorbeeld dalk uitwys dat daar
te veel wat betref geletterheid gedoen word, terwyl daar op 'n ander
gebied 'n leemte is.

"Geen enkele organisasie kan alles doen nie en daarom wil die NTLA 'n
fasiliterende rol tussen bestaande inisiatiewe speel. Dít maak dié
inisiatief anders as ander: Vir die eerste keer sal 'n instelling ten
opsigte van Afrikaans só 'n oorkoepelende funksie vervul."

Van die organisasies wat 'n nasionale strategie vir Afrikaans steun,
is onder meer die FAK, die Vriende vir Afrikaans, die
Taalsekretariaat, die ATKV, die Suid-Afrikaanse Akademie vir
Wetenskap en Kuns en die Groep van 63.

Dr. Louise Combrink, voorsitter van die Vriende vir Afrikaans, sê
hulle is bly dié inisiatief kom van regeringskant af, omdat dit
eerder die verantwoordelikheid van 'n arm van die regering (Pansat)
as van 'n Afrikaanse organisasie is om só 'n plan op te stel.

"As die NTLA die ondersteuning van die Afrikaanse gemeenskap kry, sal
sy mandaat binne Pansat soveel sterker wees. Afrikaanse organisasies
moenie wag om te kyk wat Pansat vir hulle kan doen nie, maar eerder
deur die NTLA self met 'n plan vorendag kom."

Me. Ria Olivier, waarnemende hoof van die Stigting vir Bemagtiging
deur Afrikaans, sê dit het sin dat die nasionale regeringsliggaam wat
spesifiek vir Afrikaans daargestel is, sy gunstige posisionering sal
gebruik vir beter koördinering van en sterker bedingingsmag vir
Afrikaanse inisiatiewe.

"Dit is egter belangrik dat hulle so wyd moontlik moet konsulteer en
soveel moontlik insette moet kry, sodat organisasies mede-eienaarskap
van die strategie sal aanvaar."

Vermufte benadering is uit

Die ATKV beskou dié inisiatief ook as 'n positiewe stap en die NTLA
as
'n goeie meganisme om dit te dryf, sê dr. Frits Kok, uitvoerende hoof
van
die ATKV.

"Die vermufte kokon-benadering om Afrikaans deur wit sprekers vir wit
sprekers te bevorder, is uit. Die NTLA se inklusiewe benadering sal
die nodige legitimiteit aan die proses gee," sê mnr. André van der
Walt, voorsitter van die Taalsekretariaat.

"Ons glo dié inisiatief moet by voorkeur deur die NTLA gedryf word
omdat dié liggaam Afrikaanssprekendes oor die kleurgrens heen en ook
tweedetaalsprekers van Afrikaans die geleentheid sal gee om deur die
taal bemagtig te word.

"As só 'n strategie geformuleer word, sal dit die embrio van
taalselfstandigheid binne veeltaligheid wees."

Mnr. Hennie de Wet, voorsitter van die FAK, hoop 'n nasionale
strategie sal sorg dat bestaande hulpbronne in belang van Afrikaans
beter benut word.

" 'n Strategie kan daartoe bydra dat organisasies hul fokus verskuif
om in spesifieke korttermynbehoeftes van die taal te voorsien. Dit
kan ook help om die behoeftes van sprekers, veral tweedetaalsprekers,
beter te identifiseer."

De Wet sê hoewel die FAK se peiling nog in die beginfase is, is hulle
reeds verras oor die groot aantal organisasies wat betrokke is by
Afrikaans.

"Talle individue wat op eie houtjie werk, verrig besondere werk -
soos 'n vrou van Silverton in Pretoria wat op versoek van maatskappye
of instellings enige radio- of televisieberig in Afrikaans
transkribeer en elektronies beskikbaar stel."

Verby die ego's

Buiten morele steun het enkele finansiële bydraes ook al uit die
gesprekke oor 'n nasionale strategie vir Afrikaans gevloei.

Die Taalsekretariaat het voorgeskrewe boeke ter waarde van R30 000
vir Afrikaans-tweedetaalleerlinge aan skole in Noordwes geskenk nadat
hy by 'n vergadering oor die strategie van hul nood te hore gekom
het.

Die organisasie het ook R35 000 vir Beeld se Koerant in die Onderwys-
projek geskenk omdat dit moedertaal- en nie-moedertaalsprekers van
Afrikaans bereik.

Volgens Carstens het die beweging vir 'n strategie vir Afrikaans die
afgelope drie maande 'n groot momentum opgebou "wat ons nie kan
verloor nie".

"Die doel van die nasionale beraad is om verby ego's en die eng
doelstellings van organisasies te kom en met 'n oop agenda oor
Afrikaans te praat."

Wie weet, dalk kan 'n mens tóg 'n paar honderd Afrikaanssprekendes
bymekaargooi en met een strategie vorendag kom . . .

http://www.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_1455206,00.htm l
Vorige onderwerp: St Lucia
Volgende onderwerp: Boerdery in SA is nou 'n gevaarlike beroep, sê koerant
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 20 01:37:07 MGT 2024