Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » AAAAA !!!!! GESELSBLAD
AAAAA !!!!! GESELSBLAD [boodskap #7897] Sa, 28 Desember 1996 00:00
Danie Martins  is tans af-lyn  Danie Martins
Boodskappe: 37
Geregistreer: September 1996
Karma: 0
Volle Lid
Geagte nuusgroep leser,

Ons begin 'n nuwe blad op ons tuisblad. Die ding het nog
nie 'n naam nie. Lees asseblief die onderstaande en indien
jy aan 'n lekker naam vir die blad kan dink, laat ons hoor.
Op hierdie nuwe blad gaan ons sommer allerhande
interresanthede kwytraak en ook hulp aanbied. Die hulp
gaan ons weer by ons slim lesers kry. Ons gaan die blad
sommer elke paar dae verander sodat jy nie lank hoef te
wag vir 'n oplossing van jou probleem nie.

As jou dak lek en jy weet nie meer wat om te doen nie, dan
vra jy hier raad. Miskien het ons lekker kundige ouens wat
weet wat om met 'n lekkende dak te doen. Jy stuur vir ons
die raad en binne 'n paar dae is daar nie meer 'n lekkende
dak in die wêreld nie.

OF: Jy was by 'n lekker vakansieoord en jy dink ons ander
ouens moet ook daarvan weet. Terloops, as jy nog nie by
Fouriesburg in die berge gaan rondloop het nie, mag jy nie
sê dat jy al die mooi plekke in die land gesien het nie.

OF: Jy en vroutjie het 'n identiese vierling ryker geword,
jy wil dit aan die wêreld verkondig, dan vertel jy ons daarvan.

OF: Jy wil die land verlaat en jy weet nie wat is die beste
plek op aarde nie, dan vra jy hier raad.

OF: Julle was in 'n vreeslike motorongeluk, die twee voertuie
is afgeskryf, maar julle het nie 'n skrapie opgedoen nie en jy
wil dit aan iemand vertel. Vertel dit dan aan ons.

OF: Jy wil ophou rook en weet nie hoe nie, dan vra jy net.
Die beste, so vertel hulle my , is om nie te begin nie.

OF: Jy het 'n probleem en wil hê dat ons ouens wat hierdie
blad lees saam met jou moet bid, dan plaas jy jou gebedsversoek
hier.

OF: Jou erfgenaam soek werk. E-pos ons die besonderhede en
wie weet, miskien kan hy/sy gehelp word.

OF: Jou laaitie het die volgende vraag: As ses mense drie dae
aan 'n dam bou wat tien meter in deursnee is, hoeveel tande van
Lady Di is gestop, dan help ons jou graag op hierdie nuwe bladsy.
(Ons sal iemand afvaardig om haar tande te gaan tel.)

OF: Jy is 'n wewenaar en soek vrou. Jy weet iets soos "by die
opsitkers". Jy laat ons weet en voor jy kan sê: "Wie weet waar
willem wouter woon, willem wouter woon waar weste winde waai
ens." dan het ons vir jou 'n tannie wat haar voortande sal gee om
jou te ontmoet.

OF: Die spiedkop in julle dorp het 'n vreeslike simpel ding
aangevang, vertel ons daarvan. (Terloops, hier is 'n storie van een
van ons verkeers ouens. Sien ons nou die dag daar is drie
laerskoolkinders in die straat op hulle "rollerblades". Hulle kom
die straat afgeskaats. Die verkeersomie staan in die dwarsstraat.
Toe hulle om die hoek kom besef hulle die gevaar, maar te laat.
Hulle word voorgekeer en die leviete voorgelees. Die twee
seuntjies trek dadelik hulle skaatse uit en staan in vrees en
bewing voor die verteenwoordiger van die gereg. Die dogter,
seker so 12, staan die verkeersman met gekruisde arms uitdagend
en aanstaar. Hy beduie en swaai met die arms en raas en lawaai.
Toe hy vir 'n oomblik asem skep vra sy: "Is jy nou klaar?" en sy
draai om en skaats verder. Het jy al 'n sprakelose verkeersoom
gesien? )

Om die bal aan die rol te sit het ek die volgende vraag: Wanneer
begin die volgende eeu. Begin dit op 1 Januarie 2000 of begin
dit op 1 Januarie 2001. Stuur vir my 'n kort nota na
dm...@pixie.co.za met jou antwoord, maar jy moet darem nie net
'n datum verstrek nie, jy moet jou redes ook gee. Wanneer ons
die nuwe blad begin dan gaan ons al die menings daar plaas.

OF, OF, OF, OF, Het nog idees wat ons op so 'n blad kan doen,
dan laat weet jy ons.

Daar is een ding wat ons NIE op die blad gaan doen nie en dit
is mekaar aanvat oor die nuwe S.A. en wat dan sogenaamd verkeerd
gedoen is in die verlede nie. Ek is behoorlik ga.. askies keelvol daarvan.

Skryf asseblief 'n kort nota en sê wat jy so 'n bladsy sou noem
en sommer wat jy van die idee dink. Skryf aan: dm...@pixie.co.za

Gaan kuier by: http://www.pix.za/nakkie-die-nar

VOORSPOED IN 1997. NOG DRIE JAAR OF IS DIT VIER
JAAR DAN IS DIE EEU VERBY. MAG ELKEEN WAT HIERDIE
BLAD LEES 'N BOKS VOL GELD MAAK IN DIE NUWE JAAR
EN MAG DIE LIEWEN HEER JOU SEËN MET DIE BESTE VAN
SY SEËNINGE.

Groetnis,

Danie Martins
Vorige onderwerp: AAAA !!!!!!!!! PEN VRIENDE
Volgende onderwerp: NUWEJAARSDANS deur Donald Riekert
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 16 11:54:06 MGT 2024