Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Oor berke --- Variasies van BAREND J. TOERIEN
Oor berke --- Variasies van BAREND J. TOERIEN [boodskap #7709] So, 24 November 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Hier volg sommige variasies uit 'n gedig van Barend J.
Toerien. Hy moes die gedig geskryf het oor herfs en winter
in 'n land in die noordelike halfrond, waar daar sneeu in die
winter val, dink ek. Hy praat van "berke." In Engels word
die bome "birches" genoem. Daar is gewone wit berke en
goue berke in Kanada. Hy praat egter van die gewone wit
berk, 'n tenger boom wat gewoonlik in klompe voorkom, om-
dat hulle in 'n sekere soort sanderige grond wil groei wat
goed gedreineer is. Die dun stamme is spierwit, maar met hier
en daar swart vlekke op. Die boom gooi sy bas periodiek af
amper soos 'n slang vervel. Dis hierdie dele van die bas wat
die inheemse inwoners van Noord-Amerika gebruik het om
baie ligte en tog waterdigte kanoes mee te bou.

'N WIT BERK HET IN DIE BOS GESTAAN - Variasies
Barend J. Toerien

1
'n Wit berk het in die bos gestaan
drie wit stamme met wit basse aan

dun vingers
met vingertoppe in 'n blou bak blare.

2
Die spikkels op die berk
die sproete op jongmeisiebene
die negatief van 'n naghemel-foto

3
As ek net lank genoeg hier wag
sal 'n meisie verskyn en haar lang wit arms
saggies om my slaan. Ag -

4
Waar sit die blaarmatryse?
Soms dink ek hulle is ondergronds
in 'n groot doenigheid
soos die groen deeg uitgerol
en uitgedruk word in soetkoek-vormpies.

5
Herfs is haar blaartjies geel
'n anemiese sitroen
en op vlug van die boom
giggel hulle en jil
en pointe.

6
'n Wurm met 'n mond vol verrotte blare
sê: Dankie tog, Tannie Berk, dat jy hulle vir my afgooi.
Toe kom daar 'n koor van ver stemmetjies, versmoor:
Sy't my g'n afgegooi nie, ek het self laat los!
( en stiltewaarts gesneeu?)

7
Winters is dit 'n gewedywer
om wie is die witste wit.
Witter as sneeu laat my skyn
kraak die takkies, saggies
en die nuwe bassies..

8
Deur die splete van die hemel
dring die vlokke kapok.
Die berk trek haar nerts net stywer.

9
In die diep sneeu het 'n bokkie kom skuur
teen die stamme, en die bassies geknaag
en toe ek my asem ophou, het dit effe gehurk
en 'n string stomende krale die sneeu ingestuur.

Daar is nog meer variasies, wat praat van die berk in die
lente en in die somer. Miskien pos ek hulle oor ses maande.
Vireers kan ek nie glo nie: iemand in Afrikaans het vir my
een van die mooiste beskrywings gegee van 'n woud in die
noordelike halfrond in die winter!

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: 'n Gedig van DONALD RIEKERT
Volgende onderwerp: 'n Gedig oor broers van DONALD RIEKERT
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 12 22:16:33 MGT 2024