Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Troeteldiere » Die ANDER bewoners van die land.
Die ANDER bewoners van die land. [boodskap #7416] So, 13 Oktober 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Wanneer 'n mens iemand ontmoet, is jy geneig
om net sy uiterlike in ag te neem, en die dinge waar-
oor hy praat. Maar elke mens is geprogrammeer met
soveel meer dinge as waarvan hy jou ooit sal kan of
wil vertel. Soos die diere en insekte in sy lewe. As
kind het ek in die Noordkaap grootgeword, en as ek
'n haarskeerder probeer beskryf het aan maats uit
ander dele van SA, dan het ek net ongelowige blikke
teengekom : "iets groter as 'n groot spinnekop, geel,
baie pote, met knypers, kom in die huis in en jy kan
hulle pootjies hoor tik-tik oor die vloer? Onmoontlik!"

Maar my lewe was nie net bevolk met haarskeerders
en skerpioene nie. Omdat ek op die walle van 'n rivier
gebly het, is in my ook geprogrammeer die plons van
otters in die water (jy het hulle byna nooit gesien nie),
die geluid wat 'n vis maak as dit hoog spring en die
oppervlakte van die water breek. Hier is twee gedigte
oor die rol wat hierdie ander inwoners van 'n land in
mense se lewens speel.

EDMS. BPK.
Dirk Opperman

Ek het 'n stukkie grond gekoop
met melkhout op; dit afgekamp
en teen die hek 'n naam geverf
sodat verbygangers besef:
Dis Dirk se erf.

Janfiskaal sit op my melkhoutboom,
sit op 'n kruin, sit op 'n rots,
en proklameer in sy lied
soggens en saans luidkeels:
"Dis my gebied."

Bakkapel glip uit my melkhoutbos,
verby die kruin, verby die rots,
en teken op sandkolle waar hy kom
oral in ouderwetse skrif:
"Alles... alles my eiendom."


TUIN
Louis Eksteen

Ek lag my 'n roos
wat ooptrek in die dou.
Ek rol my op : ek duisendpoot
wiel-wiel in die paadjie af:
hopla oor 'n klip
hiepla! deur 'n knik -
ek trek my regop, langdun uit:
erdwurm natterig deur die grond
ug-ug die duister deur
waar kom ek uit?
Ek kom nie uit,
'n deel bly in die grond, nederig,
en ek helfte-helfte nou as mier
dan as spinnekop
dan as gogga-dit en gogga-dat
en ek bere my so dan en wan
in die miklyf van 'n nagmuskiet.


Een van die grootste fisiese skokke wat 'n
Suid-Afrikaner ondergaan as hy na die kouer
dele van Noord-Amerika kom, is die totale aan-
slag wat muskiete op jou maak vir omtrent drie
vier maande van die jaar. Dis daarom dat daar
muskietskerms voor elke venster en elke buite-
deur is. Dis nie paranoia nie. Dis noodsaak.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Dis mense wat die probleem is,nie honde.
Volgende onderwerp: My kat het sy lewe opgeoffer.......
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 05:06:59 MGT 2024