Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Herinneringe van die teruggekeerde soldaat " deur GEORGE WEIDEMAN
" Herinneringe van die teruggekeerde soldaat " deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #65993] Wo, 04 September 2002 16:36
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

George Weideman
Herinneringe van die teruggekeerde soldaat

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe die skaduwees
en waansinnige geloei van vegvliegtuie die wild op loop jaag;
hoe ysterbuffels en -ratels die aarde opdreun en op horings neem;
hoe geil die omahangu was

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe makalani's
in die spervuur soos vuurhoutjies knak;
hoe die palms brand en swart roetvingers staan;
hoe geil die omahangu
hoe groen die palmbome was

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe soos ruspers
die pantserwaens jong bome verorber en casspirs
soos vuilgroen sprinkane verslindend aanswerm;
hoe geil die omahangu
hoe groen die palmbome
hoe vry die visarend was

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe die ou moeders
ween wanneer seunsrûe oor die kole gehaal word
en 'n mens die soet walg van mensvleis kry;
hoe geil die omahangu
hoe groen die palmbome
hoe vry die visarend
hoe regop die rokies van kosmaakvure was

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe die makakunyas
met hul rubberswepe en hul mopaniknuppels kom;
hoe dogters tussen bokke wegkruip, seuns in struike vlug;
hoe geil die omahangu
hoe groen die palmbome
hoe vry die visarend
hoe regop die rokies van kosmaakvure
hoe ritmies die gestamp in die stampblok was

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe soldatestewels
skop en hardhorendes kop eerste in wateremmers druk;
hoe manne een vir een soos rietmuise wegraak;
hoe geil die omahangu
hoe groen die palmbome
hoe vry die visarend
hoe regop die rokies van kosmaakvure
hoe ritmies die gestamp in die stampblok
hoe onbewoë soos olifante die vegters was

dit sal ek nie lig vergeet nie: hoe grysaards
by hul beesgeraamtes huil en by die skelette van huise;
hoe kerkgeboue smeul want god word nie ontsien nie;
hoe geil die omahangu
hoe groen die palmbome
hoe vry die visarend
hoe regop die rokies van kosmaakvure
hoe ritmies die gestamp in die stampblok
hoe onbewoë soos olifante die vegters
hoe goddelik alles vroeër was.
Vorige onderwerp: " Geskiedenisles " deur GEORGE WEIDEMAN
Volgende onderwerp: " Nuus uit die binneland " deur PETER BLUM
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 11:56:00 MGT 2024