Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Re: Ekonomie
Re: Ekonomie [boodskap #6433] Wo, 08 Mei 1996 00:00
Johan de Villiers  is tans af-lyn  Johan de Villiers
Boodskappe: 67
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Volle Lid
Antonie skryf:

> Ek het ongelukkig nie meer Reinier se vorige boodskap oor die
> onderwerp nie maar ek wil tog 'n paar punte stel daaroor:
> Reinier is 'n kampvegter vir totale vrye ekonomiese aktiwiteit (as ek
> hom reg verstaan). Hy verwys na na lande wat goeie groei ondervind het
> en omtrent almal van hulle het omtrent geen regeringsinmenging in die
> ekonomie nie, omtrent geen beskerming van binnelandse produkte.
>
> Die stelling is nie altyd waar nie. Lande soos Sjina, Maleisi"e en
> Singapoer ondervind baie goeie groei (6% plus per jaar) en daardie
> ekonomie"e is ver van vry af. Hulle het nog steeds valutabeheer (soos
> ons) en hul binnelandse produkte word beskerm deur heffings op
> ingevoerde goedere. Switzerland het van die strengste immigrasiewette
> en bied maar net beskerming aan sy eie werkerskorps.

Die stelling is oor die algemeen waar. Sjina ondervind nou juis
ekonomiese groei omdat die regeringsinmenging in die ekonomie radikaal
afgeskaal is. Lande soos Maleisië en Singapoer word juis gekenmerk
deur minimale regeringsinmenging in die ekonomie - vergelyk maar die
aandeel wat die staat in daardie lande se ekonomie het met lande met 'n
lae ekonomiese groeikoers. Hierdie lande is juis goeie voorbeelde van
lande met betreklik vrye ekonomië.

Dit is waar dat Switserland, soos talle westerse lande, streng
beperkings plaas op immigrasie, maar dis 'n betreklik onlangse
ontwikkeling, en beslis nie die "rede" vir die land se ekonomiese
voorspoed nie. Dis waarskynlik eerder 'n belemmering op vooruitgang.
Daar is tans meer vreemde werkers in Switserland as die land se kleinste
etniese minderheid, die Reto-Romane. Hierdie mense speel 'n belangrike
rol in die land se ekonomie, aangesien hulle take verrig waarvoor die
deursnee Switser sy neus optrek.

> Daar is 'n paar dinge wat onthou moet word voordat beskerming van
> binnelandse produkte weg mee gedoen word.
> Reinier het gesê dat ons voordeel moet trek uit die produkte wat
> oorsese lande subsidi"eer. Die ekonomie van 'n land is ongelukkig nie
> so eenvoudig nie. Een van die take van alle regerings wêreldwyd is om
> werk aan sy mense te voorsien (dit klink na 'n sosialistiese stelling
> maar die VSA en Brittanje het hierdie beginsel na die tweede
> wêreldoorlog begin uitdra). Nie die staat alleen nie, maar enige
> regering moet die klimaat skep sodat die privaatsektor nuwe
> werksgeleenthede kan skep.

Nee, dit is beslis nie die taak van 'n regering om werk aan sy bevolking
te verskaf nie. Al wat jy dan kry is staatsamptenare, pleks van die
produksie van goedere. As jy eintlik probeer së dat dit die taak
van 'n regering is om 'n politieke en maatskaplike klimaat te skep
waarin mense hul Godgegewe gawes kan gebruik na die beste van hul
vermoëns, sal ek met jou saamstem. Maar dis iets heel anders as
'n regering wat "werk skep", iets wat geen regering kan doen nie.

Die na-oorlogse Arbeiderregering van Clement Atlee (en daaropvolgende
Arbeiderregerings) in Brittanje het juis daardie land op die afdraende
pad geplaas. Dis eers toe Thatcher se regering die ontsaglike skaal van
staatsinmenging van die Arbeiders afgeskaal het, wat Brittanje weer met
reg "Groot" genoem kon word.

( Teroops, hierdie oulike staaltjie het ek erens gelees: Kort nadat
Atlee se Arbeiders vir Churchill se regering in die na-oorlogse
verkiesing verslaan het, loop Atlee die manstoilette in die
parlementsgebou binne. Chuchill staan teen die muur, besig om water af
te slaan. Toe hy Atlee gewaar, draai hy sy rug, skuif weg na die hoek
en gluur oor sy skouer.

"Feeling a bit stand-offish today, Winston?", vra Atlee.

"Yes!", grom Churchill. "Every time you see something big, you want
to nationalise it!")

Ons is geneig om te dink dat staatsinmenging werk skep, en die
ekonomie 'n hupstoot gee. Maar mens moet in gedagte hou dat die
regering nie projekte aanpak met geld wat hy van geldbome pluk nie. Hy
moet sy burgers belas, wat daardie geld op ander dinge sou uitgegee
het, wat sodoende ander werksgeleenthede sou geskep het. Vir elke
"hupstoot" wat regeringsinmenging vir die ekonomie gee, gee dit die
ekonomie 'n teenoorgestelede "hup-stop". Soos die Amerikaanse ekonoom,
Henry Hazlitt verduidelik het met die voorbeeld van 'n $10 miljoen
regeringsbrugbouprojek:

"For every public job created by the bridge project a private job has
been destroyed somewhere else. We can see the men employed on the
bridge. We can watch them at work. The employment argument of the
government spenders becomes vivid, and probably for most people
convincing. But there are other things that we do not see, because,
alas, they have never been permitted to come into existence. They are
the jobs destroyed by the $10 million taken from taxpayers. All that
has happened, at best, is that there has been a *diversion* of jobs
because of the project. More bridge builders: fewer automobile
workers, television mechanics, clothing workers, farmers."

aar, natuurlik, die resultaat is nie slegs neutraal nie. 'n Regering
bou nie doeltreffend br=FBe of huise nie. In der waarheid is die
probleem veel erger, aangesien regerings geneig is om produkte te
vervaardig waarvoor die aanvraag laag is. Uiteindelik lei alle
staatsprojekte aan korrupsie en ondoeltreffendheid. Kontrakte word aan
vriende uitgedeel, en gebruikers kry produkte wat die burokrate wel
hê, en nie wat hulle self wil hê nie. Die lei tot grootskaalse
vermorsing. Regeringsprojekte verskaf werk aan 'n paar sigbare mense,
maar doen dit ten koste van almal. Sulke projekte hou mense besig met
onproduktiewe werk, wat die land armer maak.

> Nou, dink aan die chaos wat sal ontstaan indien alle beskerming op
> ingevoerde produkte na SA meteens opgehef word. Hoeveel miljoene mense
> gaan nie hul werk verloor nie. Daar gaan onrus en opstande wees en
> misdaad gaan toeneem en dit kan geen regering bekostig nie. Dit gaan
> dan weer beleggers afskrik en so beland 'n land gou in 'n kolk wat na
> algehele armoede lei.
> So, soms is beskerming nodig om sekond^ere faktore in die ekonomie en
> maatskaplike samelewing te beskerm.

Hier plaas jy woorde in my mond. Ek het nie die onmiddelike afskaffing
van alle beskerming bepleit nie, alhoewel sekere ekonome soos wyle Don
Caldwell dit wel voorgestaan het, met voorstelle om die pyn van
ontwrigting te verlig. Die probleem is juis dat die staat nou so
verstrengel geraak het in ons land se ekonomie, dat 'n skielike
onttrekking traumatiese gevolge mag hê. Dus is daar seker 'n saak te
make vir 'n geleidelike onttrekking.

> Dit is hier waar die oosterse tiere vir ons een manier gewys het hoe
> dit gedoen kan word. Beskerm jou binnelandse produkte totdat die met
> die buiteland kan meeding. Die bevolking word gerussgestel deur nuwe
> werksgeleenthede wat geskep word. Onthou net dat 'n vrye ekonomie nie
> noodwendig lei tot buitelandse beleggings nie. Die ekonomie moet hom
> eers as standvastig bewys. Dan sal beleggings inkom en dan eers kan
> die beskerming opgehef word.
> Die oosterse tiere het in die laat sewentigers hul ekonomie"e begin
> hervorm om markgerig te wees. Al hierdie lande sou vandag
> wegholinflasies gehad en hulle sou baie arm gewees het indien hulle
> van die begin af alle beskermingsmaatreels net laat vaar het.
>
> Dan is daar nog die baie belangrike punt dat lande
> met vrye markte net sal oorleef indien hul meer uitvoer as wat hul
> invoer. Met invoere kom inflasie saam en dit maak enige ontwikkelende
> land dood. Beskerming kan eers afgeskaal word indien die betrokke land
> se invoere heelwat minder is as sy uitvoere. Om die punt te bereik
> moet 'n regering in die ekonomie inmeng. Die privaatsektor het nie
> genoeg geld gehad om bedrywe soos Eskom of Yskor op die been te bring
> nie. Hulle is beskerm maar nou kan hulle begin meeding met oorsese
> maatskappye (Yskor vaar baie goed op hierdie terrein).
> ABSA is die grootste bankgroep in SA. Selfs die groot bank kan nie met
> die groottes van oorsee meeding nie. Daar is baie oorsese banke wat
> die hele Suid-Afrikaanse mark kan kom oorneem indien hulle net wil.
> Hulle kan dit bekostig om byvoorbeeld rentekoerse aan te bied en
> verliese te lei totdat hulle hier gevestig is. Dit sal lei tot die
> ondergang van omtrent al die banke in hierdie land. Die reserwebank
> sal (en kan) dit nooit toelaat nie.

Jou stelling oor invoere en uitvoere is gedeeltelik waar - dit hang af
wat jy bedoel. Daar is niks geheimsinnigs omtrent buitelandse handel
nie. Kyk maar na die individu. Dit sal gek wees vir my om al die
noodsaaklikhede van die lewe self te probeer produseer (my vervoer,
voedsel, klere, huis, ens.) Met so 'n "inwaartskykende" beleid het
lande soos Albanië ten gronde gegaan. Dus konsentreer ek op die dinge
waarmee ek 'n "mededingende voorsprong" het. Ek voer dit uit wat mense
van my wil koop, en voer alle ander dinge in. Ek het 'n
"handelsbalanstekort" met my kruidenier, aangesien hy nooit my
rekenaarvaardighede koop nie, en ek altyd sy groente koop, maar slegs 'n
verwarde ekonoom sou probeer voorgee dat "handelswanbalans" tussen my en
die kruidenier bestaan. Daar bestaan altyd 'n balans - ek kry
kruideniersware, en hy kry geld, wat hy elders vir ander goedere kan
verruil.

Ek sal nie beter daaraan toe wees as die regering my verbied om my
goedere en dienste by ander mense te koop nie. Die rede waarom ek
invoer is om dinge te kry wat ek nie self kan vervaardig nie. Ek kan
tydelik meer invoer as wat ek uitvoer deur geld te leen (my persoonlik
handelstekort word deur kapitaalinvloei aangevul) maar uiteindelik moet
ek my uitvoere opstoot om daarvoor te betaal. Ek kan tydelik meer
uitvoer as invoer deur te spaar, wat iemand anders met kapitaalinvloei
voorsien. Let wel dat "uitvoer" en "invoer" bloot "verkoop" en "koop"
beteken. As individu maak dit nie saak of ek kooptransaksies met my
buurman of met iemand oorsee aangaan nie. Solank elke transaksie
vrywillig geskied, is ek beter daaraan toe. Die regering hoort my nie
te verhinder om met my buurman sake te doen nie (wat die Nasionaliste
met hul landboubeheerrade gedoen het). So ook hoort die regering my
nie te verhinder om met iemand oorsee sake te doen nie, en dit is
presies wat invoerheffings en beskerming van plaaslike produsente doen.

Wat geld vir die individu, geld vir die versameling individue wat
"Suid-Afrika" genoem word. Elke individu hoort te koop of te verkoop
soos hy wil, hier of oorsee.

Suid-Afrikaners het so gewoond geraak aan regeringsbeheer op talle
terreine dat staatsmonopolië heilige koeie geword het. Die redenasie
dat die privaatsektor nie groot kapitaalprojekte kan bekostig nie, hou
nie steek nie. Goudmyne is duur en neem lank om winsgewend te word,
maar word effektief deur private ondernemings bestuur. Kom ons neem
Yskor en Eskom as voorbeelde, aangesien jy hulle hier gebruik het. In
die eerste plek is dit onwaar dat private maatskappye nie genoeg geld
gehad het om bv. elektrisiteit te voorsien nie. Voordat Eskom deur die
staat in die lewe geroep is, was daar volgens my kennis verskeie
privaatmaatskappye wat elektrisiteit voorsien het,soos in die VSA die
geval is. In die tweede plek het die regering ook nie geld nie - die
geld wat hy gebruik om staatsbedrywe op die been te bring, neem hy van
die belastingbetalers, met nadelige effekte vir die ekonomie, soos ek
hierbo verduidelik het.

Yskor is as deel van die sosialistiese era in ons geskiedenis op die
been gebring. As ek reg onthou, was dit een van gen. Hertzog se
erflatings uit die depressiejare. Ekonome meen vandag dat die openbare
werke projekte van regerings tydens die depressie van die laat
twintigerjare tot dertigerjare soos Roosevelt se "New Deal", die herstel
van die ekonomie vertraag, eerder as bespoedig het. As Yskor duurder
staal produseer as 'n oorsese staalaanleg, hoort daar geen wet te wees
wat my verbied om my staal oorsee aan te koop nie. Dit sal beteken dat
Yskor uiteindelik moet sluit. Waarom moet die belastingbetaler dit aan
die gang hou? Dit veroorsaak wel moeilike tye vir Yskorwerkers,
maar sake gaan gedurig ten gronde omdat hulle nie meer produkte
lewer wat mense verlang nie, en nuwe sake word in die lewe geroep.

--
Reinier de Vos Internet: de...@aqua.ccwr.ac.za
Computing Centre for Water Research Tel: Int+27 331 260-5179
c/o University of Natal, P/Bag X01 Fax: Int+27 331 61896
Scottsville, South Africa, 3200 http://www.ccwr.ac.za/
My views are my own, and do not necessarily reflect the views of the CCWR
------------------------------------------------------------ -----------
Ons spaar die duiwel baie moeite
- C J Langenhoven
Vorige onderwerp: Nuwe grondwet?
Volgende onderwerp: Attlee dinge
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 13:12:35 MGT 2024