Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Plekbeskrywing: ADAMS MISSION STATION
Plekbeskrywing: ADAMS MISSION STATION [boodskap #5853] Vr, 23 Februarie 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Naby Amanzimtoti, omtrent twaalf kilometers in die
binneland in, is daar 'n plek wat toentertyd Adams
ission Station genoem was, maar nou heelwaarskynlik
'n Zoeloe-naam het. Die hele plek was as 'n Nasionale
onument verklaar, omdat dit die plek is waar die
eerste westerse skool in die gebied van die Zoeloes gebou
was. Dit was gedurende die tyd van die Voortrekkers al
daar en Daniel Lindley, een van die Amerikaanse sende-
linge, het ook die Voortrekkers as predikant bedien
wanneer hulle sy hulp aangevra het.
Toe die Natalse onderwysdepartement hulle honderdjarige
bestaan wou vier, het hulle die datum geneem waarop hierdie
eerste skool by Adams Mission Station oopgemaak is.
Gedurende die daaropvolgende jare het Adams College,
tegelyk 'n sekondere en industriele skool en ook inrigting vir
die opleiding van onderwysers, 'n groot rol gespeel in die
lewens van die swart gemeenskap. Baie welbekende swart
leiers het hul skoling daar ontvang.
Ek het twee aparte periodes van my lewe daar Afrikaans
gegee. Die eerste keer, voordat Bantoe-onderwys dit ingesluk
het, het ek 'n swart prinsipaal gehad. (Ek was die enigste
wit onderwyser in 'n andersins geheel swart sekondere
skool.) Toe ek 'n paar jaar later weer daarheen gaan, toe is
dit oorgeneem deur die departement van Bantoe-onderwys.
Maar in plaas van meer swart onderwysers en prinsipale
(wat 'n mens sou verwag as gevolg van die beleid van aparte
ontwikkeling), was die hele plek nou oorstroom deur wit
onderwysers en hoofde van departemente, almal blykbaar
daar vir vinnige promosie na prinsipaalskappe in ander swart
skole.
Daar was nog 'n ander skakel tussen die Amerikaanse
sendelinge en die geskiedenis van Suid-Afrika. Op Adams
het ek albei kere gebly in 'n huis met die naam Mary Lyon.
Dit was die naam van 'n beroemde Amerikaanse vrou wat
van 1797-1849 gelewe het en verantwoordelik was vir die
oprigting van Mount Holyoke College in 1837, 'n inrigting
waar vroue dieselfde soort kursusse kon loop as mans by
Amherst, wat daar naby is in suidelike Massachusetts.Toe
Andrew Murray se arbeid uiteindelik gelei het tot die
ontstandkoming van die Wellingtonse Kollege vir die
opleiding van onderwyseresse, het hulle die model van Mary
Lyon by Mount Holyoke gevolg en Mary Lyon 'n ereplek
in hulle ontwikkelingsgeskiedenis gegee.
Ek het my verblyf op Adams Mission geniet, die eerste
keer meer as die tweede. Die eerste keer was die studente
'n mengsel van verskillende stamgroepe, en die onderwysers
'n opwindende mengsel: Ou Dr. Wilker, wat uit Nazi-Duitsland
gevlug het, 'n Engelsman wat later op Cambridge belangrike
studies van W.B.Yeats gepubliseer het, 'n swart onderwyser
uit Kenya wat altyd vir ons vertel het die sny op sy wang is
veroorsaak deur die klou van 'n leeu, en 'n jong digter wat
alreeds gepubliseer het in Zoeloe en wat baie van sy klasse
misgeloop het omdat hy besig was om 'n gedig te skryf. En
die prinsipaal van die skool was 'n wit Wes-Indier wat vir
Cambridge krieket gespeel het en gereeld vir drie dae griep
gekry het net wanneer daar 'n krieketwedstryd uitgesaai
word.
Ek wonder soms of die ou skoolgeboue nog daar staan,
en hoe die lewens van die studente en die omgewing verander
het. En of daar nog neushoringvoels rondloop. Een jaar het 'n
klomp van hulle die onderste glasvensters van die skool
stukkend gepik. En ek verlang na al die subtropiese weelde
van bome en plante. Veral die een bos met wit blomme soos
sterre wat in die heuwels om Adams gegroei het en klein
rooi vruggies gedra het. Wat was ek verbaas om te sien dat
hulle dit gebruik vir heinings in San Diego, 'n plek waar 'n
mens ook ander Natalse plante vind: "yesterday, today and
tomorrow" en frangipani, en sommer 'n hele klomp plante
van oor die hele Suid-Afrika. Dis seker daar waar al die
strelitzias vandaan kom wat nou 'n absolute standaard is
in enige Amerikaanse blomrangskikking.
Gloudina
Vorige onderwerp: [AFRIKAANS:6136] Re: Klip in die bos?
Volgende onderwerp: antwoord vir Dirk: HELEN MARTINS (1898 - 1976)
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Mei 14 11:10:12 MGT 2024