Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » In Memoriam P.J. PHILANDER
In Memoriam P.J. PHILANDER [boodskap #4689] Do, 04 Mei 2006 22:46 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
PJ Philander
(25 November 1921 - 7 Februarie 2006)
Daniel Hugo

Sommige skrywers lê nader aan 'n mens se hart as ander, omdat hulle
jou eie ervarings en herinnerings help verwoord. PJ (Peter John)
Philander is vir my so 'n skrywer. Hy is op 25 November 1921 op Caledon
in die Overberg gebore en het later onderwys gegee op Genadendal, 'n
buurdorp van Caledon. In 1960 het my skoolloopbaan vyf kilometer
daarvandaan op Greyton begin, waar my pa die NG-predikant was.

Van my vroegste herinnerings is besoeke aan Genadendal - die oudste
sendingstasie in Suid-Afrika. Toe het ek nog niks geweet van die digter
van die Overberg wat alreeds in 1955 (my geboortejaar!) met sy besonder
sterk bundel Uurglas gedebuteer het nie. In daardie bundel staan die
onvergeetlike vers "Aand op Genadendal". Maar ek sou eers op hoërskool
in Windhoek daarmee kennis maak en dit onmiddellik eien as deel van my
bewussyn. Veral die laaste twee strofes, met die subtiele simboliek oor
ons tranerige, kortstondige aardse bestaan ("die donker Dal") met die
hoop op 'n ewige saligheid (die "Sondereindrivier") bly my by:

Oumense kom van die nagwaak en praat
oor enkele lanterns hier en daar nog op straat,
wat swik met elke swaai in die stolpe ...
Ja, klein is die liggies en onbeholpe.

Deur die donker Dal uit Baviaanskloof hier
vloei die stroom na die eeu-oue Sondereindrivier,
terwyl Wonderklippe teen die noordewind waak
en die vuurvliegies een-een uitgedoof raak.
Baie jare later verskyn Philander se kortverhaalbundel Hoefyster vir
die hart (1983), en weer herken ek met vreugde en heimwee die
Overbergse milieu. Die "hoefyster" van die titel verwys na Genadendal
se U-vormige uitleg rondom die Baviaansrivier wat net buite die dorp by
die Sondereindrivier aansluit.
PJ Philander was egter veel meer as 'n kontreiskrywer. Omdat hy in die
ou bedeling die rasseklassifikasie "Kleurling" gekry het, was hy van
vroeg af sosiaal en polities bewus. Dit sien 'n mens veral in die
deurlopende motief van die "slaaf" wat alreeds in Uurglas voorkom. Sy
latere bundels bevat uitgesproke politieke versetverse, soos "Doring in
die horing" (Ostrakon, 1986), waarin hy die verslawende dopstelsel op
die wingerdplase aanval. Van die leë wynbottel word uiteindelik 'n
petrolbom gemaak.

Philander se bekommernis oor die uitgebuite arbeider blyk verder uit sy
poëtiese byskrifte by prente van sy Plettenbergbaaise oudleerling, die
grafiese kunstenaar AA Langdown. Dit is in 1965 uitgegee as Die bruin
kokon. By 'n potloodtekening van 'n visserman en sy vrou staan die
volgende vers:

Agter stoot die see
met troffelveë
nader oor die strand
na ons huis se kant.

Die dreuning van die see
kom oor ons drumpel mee
tot in die kamer waar ons asiel
kry teen die storms as ons kniel.

Ver agter kom nog soveel aan
met dolpenne en roeispaan;
ons kinders gaan verlore
in ons eie spore.
Hierdie politieke verse is dikwels satiries en selfs humoristies van
aard, soos in "Luistervink" (Konka, 1978):
Luister met jou stetoskoop
hoe oorspanne dit deur my are loop;
my hart in donker kamponge
klop om vars lug uit die longe.
En, as ek 'n klop of twee
oorhaastig is, moet jy toegee:
Ek loop as beeswagter
meer as drie eeue agter.
'n Mens lees hierdie gedig sedert 7 Februarie 2006 met 'n wranger
glimlag, want dit is die dag waarop PJ Philander in die VSA aan sy hart
dood is. Hy het al in 1969 saam met sy vrou Alice en drie seuns George,
Dennis en Peter na die VSA geëmigreer vanweë die apartheidsbewind in
Suid-Afrika. Hy het sedert 2001 by sy jongste seun, Peter, in Las Vegas
gewoon.
Philander het verse met 'n politieke strekking bly skryf tot en met sy
laaste bundel, Trialoog (2002). Ongelukkig is sy blik van buite op die
Suid-Afrikaanse samelewing daarin nogal verouderd. Dit blyk onder meer
uit sy onbekommerde gebruik van die terme outa en aia. Vir hom is swart
en bruin mense nog altyd onderdruktes wat hulle bitter lot à la Adam
Small op 'n kitaar "uittjingel" (vergelyk die gedig "Outa in sy kaia").


Buiten die verse van verset en sosiale bewoënheid vind 'n mens by
Philander 'n groot verskeidenheid temas: jeugherinneringe,
natuurgedigte, reisindrukke, in memoriams, liefdesverse,
ouderdomsgedigte, ballingskapverse en lang historiese gedigte soos
Vuurklip (1960) en Zimbabwe (1968).

In 1996 het ek 'n bloemlesing uit Philander se gedigte saamgestel ter
viering van sy 75ste verjaarsdag: PJ Philander: 'n keur uit sy gedigte.
Die bundel bevat ook 'n afdeling "Nuwe gedigte", met onder meer 'n hele
aantal in memoriam-verse vir sy vrou, wat in 1988 oorlede is. Die
volgende vers het haar naam as titel en tema:

Alice

Nou na jou dood
kan ek die simboliek
van die dotjie in jou naam,
'n stippeltjie afsonderlik
in die ruim geprik,
'n titseltjie beter verstaan.
Hierdie gestroopte gedig bevat nie 'n lettergreep te veel nie.
In die kwatryn "Heimwee" in Trialoog word die verlange na sy vrou ewe
eenvoudig en ontroerend beskryf:

In 'n stiller wyk van Las Vegas
sit ek stoksielalleen op my voorstoep,
luister ek, ja, luister ek tot ek my misgis,
ek hoor Alice van ver af na my roep.
Die trefkrag van hierdie "min maar suiwer woorde" word verhoog deur
daardie wrange "tot ek my misgis", wat soveel sterker is as die normale
"tot ek my verbeel".
Philander het egter nie net na sy vrou verlang nie, hy het ook na sy
land gehunker - soos blyk uit die kwatryn "Heimwee":

Die winde huil rondom my huis,
al wat vermis word is die Suiderkruis
bo Swartberg, Grootkop, Outenikwas
waar daar altyd brandhout vir my kaggel was.
Die bergname dui die plekke aan waar hy in Suid-Afrika gewoon en gewerk
het: Caledon (Swartberg), Genadendal (Grootkop) en Plettenbergbaai
(Outenikwas). Wat hier kort, is verwysings na Kaapstad, Malmesbury en
Calvinia, waar hy ook skoolgehou het. Oor Calvinia het hy wel 'n deels
outobiografiese roman geskryf met 'n bergnaam as titel: Rebunie (2000).

PJ Philander se digkuns het aanvanklik sterk invloede van DJ Opperman
vertoon. Vanaf die bundel Konka (1978) is daar egter geen sprake meer
van Oppermaniaanse klanke nie. In Trialoog reken hy finaal met Opperman
af in die vers "Torteldigter":

Oornag word my lied opgekrop
en deur te luister na die wind verfyn
tot dit diep binne-in my begin skryn
as houtkappers my teen dagbreek opklop
waar, sieligalleen op 'n tak Totiaans,
ek uiting gee aan iets minder ondermaans.
Hy voel hom duidelik meer verwant aan die teruggetrokke en geestelike
digter Totius as aan die nasionalistiese en aardse Opperman. Dit
beteken dat hy eerder identifiseer met Totius se tarentaal wat sy maat
verloor het as met Opperman se bombastiese "tortels van die modder" wat
"uit die slym/ berg en ster berym".
Opperman se karakterisering van Totius se poësie as "tintinkietaal"
kan ewe goed op Philander se beste verse van toepassing gemaak word.
Een van daardie verse is ongetwyfeld "Haar uitvaart" wat dateer uit die
Genadendalse tyd en handel oor die dood van sy dogtertjie:

Al oor my dak het hul gemaal ...
dié voëltjies het vir haar kom haal.

Half-toegevoue vuisies klein
het ylings na die doodsgordyn

gegryp en dan weer moeg verslap ...
die sweet het langs haar slapies afgetap.

Haar ogies sien ek duidelik nog,
hul het vir my gesmeek om tog

te help ... die pyn te stil,
maar ek was magteloos teen Sy wil,

en halfweg na die hospitaal
het, asemloos, die dood ons ingehaal.
Ek sal Peter Philander altyd onthou as 'n ouwêreldse gentleman met 'n
vonkel in die oog. Hy het bewys dat medemenslikheid en beskaafdheid
politieke onreg kan oorleef. Met sy poësie het hy vir ons 'n blywende
alternatief verskaf.
PJ Philander is sedert 1955 'n onmisbare stem in die Afrikaanse
letterkunde en hy sal dit bly solank Afrikaans gelees word.
Re: In Memoriam P.J. PHILANDER [boodskap #4690 is 'n antwoord op boodskap #4689] Vr, 05 Mei 2006 04:23 Na vorige boodskap
Jonas  is tans af-lyn  Jonas
Boodskappe: 1070
Geregistreer: September 2001
Karma: 0
Senior Lid
Dit is 'n pragtige huldeblyk.

Daniel Hugo het een seker een van die interessantste stemme wat 'n
omroeper kan hê. Ek sal eendag moeite moet doen net om sy vol stem te
beskryf.
Maar, waar sy stem nie werk nie is as hy die deurnagaanbieding op RSG
hanteer - daardeur word mens in die versoeking geplaas om aan die slaap
te val. Bepaald nie die doel van die deurnagdiens nie.
Vorige onderwerp: Tutu - vervolg ...
Volgende onderwerp: Re: Meidag 2006
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 02:48:24 MGT 2024